Artikel 13 Nederlandse Geloofsbelydenis God regeer!

31-01-2017 07:32

 

GOD REGEER 

Artikel 13: Nederlandse Geloofsbelydenis

 

God die groot Afwesige?

 

Die HERE het alles geskep. Ons het dit in die vorige artikel bely. Ons lees dat die HERE na ses dae skeppingswerk op die sewende dag gerus het. Beteken dit dat die HERE in die skepping van vandag die groot Afwesige is? Is Hy dalk net die persoon wat van tyd tot tyd nog ’n toeskouer is? Dit is die gedagte wat aan die einde van ons artikel duidelik veroordeel word. Ons bely daar naamlik: “Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van de Epikureërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat.” Die Epikureërs was volgelinge van ’n Griekse filosoof in die ou tyd. Dit is nou nie die plek om Epikuros se filosofie te bespreek nie. Een van sy gedagtes wat mense deur al die eeue gevolg het, is dat God (of die gode) niks met die lewe vandag op aarde te doen het nie. Jy moet jou lewe lei asof daar nie gode of ’n god is nie. Die dinge wat gebeur en wat jy nie kan verklaar nie is volgens hierdie gedagte alles toeval.

 

Hierdie gedagte stry met wat die HERE van Homself in die Bybel openbaar. Hy het op die sewende dag van Sy skeppingswerk gerus. Dit beteken dat die HERE daarná niks nuuts meer aan Sy skepping toegevoeg het nie. Nogtans is Hy elke oomblik by Sy skepping betrokke. Sonder Sy sorg, sonder Sy werk, kan die heelal geen oomblik bly bestaan nie. Die HERE is die Een wat ook die geskiedenis op aarde elke dag nog regeer en lei. Die Here Jesus wys daarop wanneer Hy in Joh 5:17 sê: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.”

Die HERE is nie die God wat eenkant staan nie. Nogtans het ons tog die neiging om so te praat en te dink. Somtyds maak mense die stelling: “As jy wetenskaplik besig is, kan jy God nie noem nie. Dit behoort naamlik nie tot die terrein van de wetenskap nie. Dan praat ons nie wetenskaplik nie, maar godsdienstig.” Hierdie manier van praat is ’n leuen. Juis daarom is dit onwetenskaplik, want die wetenskap soek na feite, na die werklikheid. Hierdie redenering is ’n wapen van die duiwel waardeur hy sy miljoene en miljoene beïnvloed het. Sódanig beïnvloed, dat hulle al hoe verder van die lewe met die HERE wegdryf.

 

Wat is die groot leuen in hierdie redenasie? Dat vir mense ’n skynwêreld voorgehou word en hulle dit as werklikheid sien. Ek noem daarvan enkele voobeelde:

·        Ons word voorgehou dat ’n vorm van evolusie en die ontstaan van die skepping wat oor miljarde jare gestrek het, die waarheid is. Mense kom tot hierdie teorie omdat hulle nie met God se grootheid rekening hou nie. Die HERE het in ses dae geskep. As jy as mens nie met hierdie werklikheid rekening hou nie, kom jy met jou teorië en sogenaamde wetenskap in ’n leuenagtige wêreld wat geen reg aan die werklikheid laat geskied nie.

·        Ons praat van die weer. Ons gebruik woorde soos El Nino en El Nina. Die groot vraag is dan of ons -wanneer dit baie droog is of as ons goeie reëns gekry het - daarin ook God se hand sien en bely. As ons in die weer net die toeval of net vaste weerpatrone sien wat hulself herhaal, sien ons nie die werklikheid raak dat die HERE elke dag regeer nie. Dan ontbreek in ons lewe die afhanklikheid en die vertroue op die HERE as ’n lewende werklikheid. Dan ontbreek in ons lewe die selfbeproewing wanneer ’n groot droogte ons teister, om te vra wat die HERE vir ons met daardie droogte wil leer nie.

 

Ons moet steeds weer in ons lewe daarop let dat ons nie gaan leef in ’n skynwêreld waar ons nie met die HERE reken nie. Dit is die HERE wat werklik oor alles regeer! In hierdie wêreld gebeur niks sonder Sy beskikking nie.

 

Wanneer ons dit bely, maak dit ons oë oop. ’n Voorbeeld daarvan is wat in die tyd van Jesus se geboorte gebeur het. Die wyse manne uit die Ooste kom in Jerusalem aan. Sien Matt 2.  Hulle gaan na Herodes se paleis omdat hulle verwag dat die magtige Koningskind daar gebore is. Wanneer hulle agterkom dat daar geen kind gebore is nie, vra Herodes vir die Skrifgeleerdes wat God se Woord van die Messias se geboorteplek sê. Die Skrifgeleerdes antwoord meteens met ’n verwysing na Miga 5 - dat dit Betlehem sal wees. Let daarop dat die Skrifgeleerdes hier God se regering bely. Hulle twyfel nie daaraan dat dit wat die HERE honderde jare gelede gesê het ook op presies daardie manier ‘n werklikheid sal word nie. Dit is die HERE wat Herodes en die Skrifgeleerdes hier gebruik om die wyse manne op die regte spoor te bring en om hulle te laat ontdek dat Miga 5 in vervulling gegaan het en dat hulle die Verlosser sal aanbid. Ons lees dan ook nog dat die HERE deur ’n spesiale ster die wyse manne die pad na Jesus wys. Die HERE regeer in volkome trou aan Sy Woord.

Die HERE regeer werklik oor alle dinge.

 

’n Ander voorbeeld daarvan lees ons in Amos 3:6: “Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar ’n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie?”

As ’n mens hierdie woorde lees, skrik jy en kan daar skielik allerhande vrae in jou hart kom. Is dit dan die HERE wat vir al die ellende in die wêreld gesorg het? Ek hoop om volgende keer op hierdie vrae ’n antwoord te gee. Vanuit God se eie Woord.

 

Die HERE is die goeie God

 

Die vorige keer het ons afgesluit met die gevolgtrekking dat die HERE oor alles regeer. Ons het toe ook genoem dit wat ons in Amos 3:6 lees: “Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar ’n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het

Nie?”

 

As ons oor die vrae van Gods regering en die ellende wat ons op die aarde sien nadink, is dit baie belangrik dat ons onsself beperkinge oplê en dat ons nie met ons nuuskierigheid en redenasies weer ’n irreële wêreld gaan skep wat net in ons gedagtes bestaan nie. Die werklikheid is dat God die goeie God  is. Die werklikheid is wat ons in ons artikel bely: “Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie, en dra Hy ook nie die skuld daarvoor nie. Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig.” Die HERE is juis die God wat al die sondes en alles wat nie regverdig is nie, haat. Enkele plekke waar ons dit lees, is die volgende:

·         Psalm 5:5: “Want U is nie ’n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie.”

·         Psalm 11:5: “Die HERE toets die regverdige; maar Sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.”

·         Spreuke 6:16 e.v.: “Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel ’n gruwel: trotse oë, ’n leuenagtige tong en hande wat onskuldig bloed vergiet. ’n Hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop, een wat as valse getuie  leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.”

Teenoor God se haat teen alles wat sonde is, staan Jak 1:17 : “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie geen verandering of skaduwee van omkering is nie.”

Wanneer ons worstel met die vraag na watter verband die HERE se soewereine heerskappy met die kwaad het, soek ons die antwoord in diepe verbondenheid met Hom van wie ons weet dat Hy volkome goed en heilig is. Dit beteken nie dat ons moet maak asof die kwaad en ellende nie daar is nie. Hoe diep kan ’n mens deur ellende getref word. Hoe seer kan dit maak. Hoe onregverdig kan dit voel! As ons vanuit ons diepe en moeilike ervarings na Amos 3:6 kyk, is dit belangrik om raak te sien dat dit dáár om God se oordeel oor die ongehoorsaamheid van die volk gaan.

 

Watter vraag vra ons?

 

As Israel in Amos 3 met groot ellende te doen kry, moet hulle begin vra: Leef ons nog werklik met die HERE? Waar lê ons skuld? Dit is waar dat ons nie sonder meer die Nuwe Testamentiese kerk met die volk Israel mag gelykstel nie. Nogtans moet ons altyd eers die oorsaak by onsself soek. Ons moet ook altyd eers na onsself wys en nie na God nie. Die oorsaak van enige ellende wat oor ons lewe kom is dat ons in die paradys teen God opgestaan het.  Ons moet altyd weer daaraan dink dat indien die HERE net die deurwerking van die sonde in ons lewe sou begaan het, ons lewe vir altyd net hartseer en ellende sou wees. Ons het almal verdien om vir ewig in ellende te leef. Onder God se toorn.

 

Wat is nou die groot wonder van God se liefde? Dat Hy hierdie wêreld nie aan die deurwerking van die sonde oorgegee het nie. Is dit nie ’n heerlike wonder dat die Vader Sy Seun gestuur het om die diepste ellende, die grootste pyn oor Hóm te laat kom het nie? Om dit vir die gelowiges, op Jesus Christus, die regverdige, te laai en om sódoende elkeen wat glo van alle ellende en straf te verlos en om God se kinders wat verdriet en ellende ervaar, van die ewige hel te red. Ons sien juis in Jesus Christus die HERE se goedheid en liefde. God het mens geword om diep skuldige mense deur Sy regering van die ewige ellende te red.

 

Tog gebeur dit dat ’n gelowige al hierdie dinge weet, maar tog steeds worstel en somtyds ellendig en opstandig kan voel. Hoe belangrik is dit dan om jou hart op die Here Jesus te rig. Om in Hóm die Vader se liefde vir verlore sondaars te sien. Dan sien jy op watter wyse God se liefde die wysvinger waarmee jy die HERE tot verantwoording wil roep, laat sak. Dit leer my om my hande te vou en voor die HERE in gebed neer te val. Om in die gebed al my nood in Christus se naam aan die Vader voor te lê.  Dan maak Rom 9:19-21 meer sin:  “Jy sal dan vir my sê: waarom verwyt God dan nog, want wie kan sy wil weerstaan? Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie?  Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?”

 

’n Leerling van Christus wil nie vérder ondersoek instel as wat die HERE in Sy Woord openbaar nie. Indien ’n mens dit tóg doen, maak jy jouself onrustig. Dan is ’n mens besig subjektiewe fantasie en nie die werklikheid nie. Dan begin die mens in homself glo.  Ons wil dan God deurgrond terwyl Sy verstand ondeurgrondelik is. Hoe belangrik is dit dat ons by die grens van God se openbaring stilhou.  Dán ontvang ons rus, ondanks ons vrae oor hoe dit kan wees dat die HERE in Sy regering oor alles goed is.