Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 6,7 Die Bybel is God se betroubare Woord

29-11-2016 07:27
 
 
Die Bybel: God se betroubare Woord

Reeks oor die Nederlandse Geloofsbelydenis.

Artikels 6-7

 

Wat beteken apokrief?

Die woord apokrief beteken dat iets geheim, verborge gehou word. Dit het daartoe gelei dat die woord apokrief ook die betekenis gekry het dat iets verdag is. Dit wat apokrief is, is nie heeltemal suiwer nie. Die woord apokrief wys daarop dat die apokriewe boeke nie aan die ander 66 boeke in die Bybel gelykstaan nie. Hulle is nie deel van God se onfeilbare Woord nie. Hulle deel nie in die inspirasie van die Heilige Gees nie.

 

Die apokriewe boeke wat hier genoem word

 

Die apokriewe boeke wat in artikel 6 genoem word, is die wat volgens die Roomse kerk in die Bybel opgeneem behoort te word.

Die agtergrond daarvoor lê in die geskiedenis.

Toe die HERE die hele Ou-Testament vir Sy volk gegee het, het baie Jode buite Kanaan gewoon. Baie van hulle kon nie meer Hebreeus verstaan of lees nie. Dit was daarom nodig dat aan ‘n Griekse vertaling van die Ou Testament gewerk moes word. Dit het toe gebeur. Ons noem hierdie vertaling die Septuaginta. Dit was in hierdie tyd dat sekere Joodse geskrifte wat in die Grieks geskryf word, onder die Jode baie populêr geraak het. Die apokriewe boeke wat art 6 noem, kom uit hierdie groep geskrifte. Hulle is in die Septuaginta opgeneem sonder dat die Jode  hierdie boeke  as onderdeel van die Ou-Testament erken het.

Dieselfde het later met die Nuwe-Testament gebeur. Sekere boeke wat in die eerste tyd van die Christelike kerk populêr was, is ook verskillende kere by die Nuwe Testament gevoeg sonder dat die kerk hulle as deel van die Nuwe Testament erken het.

Die gevaar hieraan verbonde is dat op ‘n sekere moment nie meer die onderskeid tussen die egte Bybelboeke en die ander raakgesien word nie. Die Roomse Kerk het in 1561 besluit om ook die apokriewe boeke wat in ons belydenis genoem word, as egte Bybelboeke te erken.

Omdat mense nog baie aan die apokriewe boeke geheg was, het die Sinode van Dordtrecht 1618/1619 besluit om ook hierdie boeke te vertaal en in die Staten-Vertaling op te neem. Dit moes dan so gebeur dat hulle op ‘n afsonderlike plek opgeneem word. In ‘n voorrede by hierdie boeke  is geskryf dat dit nie ‘n deel van die Bybel is nie. Die gelowiges kan hulle lees en daarvan dinge leer, maar daar kom in die apokriewe bepaalde foute voor en sekere dinge wat met God se Woord in stryd is.

Later is hierdie boeke  nie meer in die Statenvertaling opgeneem nie, maar het afsonderlik te same met die voorrede verskyn.

 

Waarin lê die bewys vir die geloof?

 

Artikel 6 maak vir ons duidelik dat dit wat ons in ander boeke as die Bybel lees, nie die bewys vir die geloof kan wees nie. Dit kan net bevestig wat ons alreeds vanuit die Bybel weet.

Dit is belangrik vir die manier waarop ons ander mense van Christus en Sy werk wil oortuig. Dit kan nie op ‘n ander manier gebeur as met dit wat ons in die Bybel lees nie. Sien in hierdie verband ook: Luk 16:27-31. Ons moet vir die mense vertel wat die HERE in die Bybel vir ons vertel het. Die Bybel is die bewys wat ons voor hande het. Die Heilige Gees oortuig met dit wat in die Bybel staan dat Christus die waarheid is en dat ons sondaars is en Hom as die Verlosser nodig het.

 

Die Bybel is genoeg

 

Die Nederlandse Geloofsbelydenis het al baie van die Bybel gesê. Dit het duidelik geword dat die Bybel God se Woord is. Nou gaan dit ‘n stappie verder deur te ook te sê dat ons aan die Bybel genoeg het. Ons moet nie na ander boeke of openbaringe gaan soek nie. Die Bybel is vir ons die  enigste  Woord van God. Dit wil nie sê dat ons in die Bybel alles van God en Sy plan lees nie. Die HERE het baie dinge vir Homself gehou. Selfs so dat die Here Jesus van die dag van Sy terugkeer sê: “Maar van daardie dag en die uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader.”  (Mark 13:32)

Die HERE hou ook dinge vir ons verborge wat een van die apostels wel gehoor het. Ons lees dit in Openbaring 10:4: “En toe die sewe donderslae hulle stemme laat hoor het, wou ek skrywe; maar ek het ‘n stem uit die hemel vir my hoor sê: Verseël wat die sewe donderslae gespreek het, en skryf dit nie op nie.”

Dit is vir ons nie nodig om alles van God en Sy plan te weet nie. Dit wat ons nodig het om te weet, vind ons in die Bybel. Dit wat ons in die Bybel  lees, is genoeg om Christus te ken en in Hom te glo. Sien o.a: Joh 20:30,31; 21:25.

Dit gaan dan nie alleen om die Here Jesus nie, maar om die dien van die HERE in ons hele lewe. Die hele lewe as diens aan God. Die Bybel vertel ons genoeg om ons hele lewe aan God te wy. Baie belangrik is hierby wat ons in 2 Tim 3:16,17 lees: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk toegerus.”

 

Daarom nie dwaalleer duld nie

 

Artikel 7 wys vir ons ‘n belangrike rede waarom daar in die kerk nie dwaalleer verdra mag word nie. As afwyking van die Bybel in die kerk toegelaat word, raak dit die lewe in diens van God. Dan begin mense op ‘n manier lewe en dink wat vir die HERE nie REG is nie. Dan gee mense vir ander ‘n voorbeeld waarvan die HERE sê dat dit nie mag nie. By die beoordeling van ‘n verkeerde leer of lewe moet ons altyd daarop let hoe dit in die HERE se oë is. Dit gaan om die leef met Hom volgens Sy Woord.

 

Niemand kan die Bybel verbeter nie

 

Die Bybel is voltooi. Hieraan mag niks meer toegevoeg word nie. Alles wat ons moet weet, weet ons reeds uit die Bybel. Ons weet ook al die nodige wat die toekoms aangaan. Die HERE het vir ons alles vertel wat ons nodig het om ons op Christus se terugkeer te kan voorberei en in die tyd tot Sy terugkeer in geloof te kan leef. Dit is juis daarom belangrik dat die Heilige Gees juis aan die einde van die laaste Bybelboek  sê: “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge voeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.” (22:18,19)