Kan jy die HERE op Sy Woord glo?

06-10-2016 07:35

KAN JY DIE HERE OP SY WOORD GLO?

Enkele opmerkings by art 17 van die NGB

 

Inleiding

 

Dit is nou al meer as ‘n maand gelede dat ek oor art 17 van die NGB gepreek het. Daarin was toe veral die klem daarop of die HERE in Sy verbond met Sy belofte tot elkeen kom wat in Christus se kerk gedoop word.  Nog steeds vra mense na wat toe gesê is en om dit self te kan lees en daarmee te kan werk. Ek het hierdie preek ‘n bietjie bewerk en so verskyn hy nou hier.

 

Kan jy die HERE op Sy Woord glo? Sê Hy werklik wat ons hoor? Sê Hy werklik wat ons in Sy Woord lees? Jy dink dalk dat ek nou vreemde vrae vra. Nogtans is dit ernstige vrae, vrae wat belangrik is om te beantwoord en  om nie in verwarring gebring te word nie.

Hierdie vrae het ook alles met die geskiedenis van ons gemeente te doen. Dit was woensdag   11 Augustus naamlik  60 jaar gelede dat die Vrymaking in Nederland plaasgevind het. Meerdere onder ons het hierdie stryd  in Christus se kerk nog self meegemaak. Die broers en susters wat vanuit Nederland na ons land gekom het, het juis waar dit in die Vrymaking om gegaan het ook hier wil vashou. Wat was nou die groot saak in hierdie gebeurtenis in die kerkgekiedenis? Dit het juis daarom gegaan dat ons die HERE op Sy Woord kan glo, dat Hy die Waaragtige God is. Dit het daarom gegaan of God se belofte wat by die doop tot ons kom met sekerheid deur die HERE aan almal gegee word wat in Christus se kerk gedoop word. Word aan elke baba wat in Christus se kerk gedoop word o.a. werklik beloof: “Net so ook as ons in die Naam van die Heilige Gees gedoop word, verseker die Heilige Gees ons deur hierdie heilige sakrament dat Hy in ons wil woon en ons tot lewende lidmate van Christus wil maak. Want Hy maak tot ons eiendom wat ons in Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe”?

Is dit ‘n belofte wat werklik aan almal gegee is wat in die Naam van die Drieenige God in Christus se kerk gedoop is? Of kan ons daarvan nie seker wees nie? Is hierdie belofte net vir die uitverkorenes onder die dopelinge gegee? Kan die HERE ons werklik almal op Sy belofte aanspreek en ons ook verantwoordelik hou as ons Sy belofte, as ons Christus in ons lewe verwerp? Het die HERE werklik Sy verbond met die gelowiges en hulle kinders gesluit of net met die uitverkorenes onder hulle? Kan ons die Here Jesus werklik op Sy Woord glo as ons in Markus 1:14,15 lees: “En nadat Johannes oorgelewer was, het jesus in Galilea gekomen die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie”.

Was hierdie woorde van Jesus werklik vir al die mense daar bedoel? Het Hy regtig met erns almal tot bekering en geloof opgeroep of  was dit eintlik net vir die uitverkorenes? Dit was die vrae waaroor dit 60 jaar gelede gegaan het. Dit is vrae wat ook vandag weer in die midde van ons gemeentes gevra word. Dan word weer gesê dat God se verbondsbelofte eintlik net vir die uitverkorenes bedoel is. As dit anders sou wees kan ons logiese sisteem nie klop nie. Juis in art 17 sien ons dat ons die HERE op Sy Woord moet glo en nie eie verstandlike sisteme moet bou wat ons die troos ontneem wat die HERE ons juis self gee.

 

Die HERE het die mens na die sondeval opgesoek

 

Die sondeval. Adam en Eva het hulle rue op die HERE gekeer. Op die HERE wat hulle as die God ken wat in liefde en wysheid vir hulle en die hele wêreld sorg. Die mens voel nou wat hy gedoen het. Hy voel hoe hy nou sonder God as sy God in die wêreld staan. Hy voel nou hoe hy deur die eet van die boom van kennis van goed en kwaad  God tot Sy teenstander gemaak het. Hy is nou dan ook bang vir die HERE en steek hom vir die HERE weg. Die verhouding van diepe vriendskap en eerbied wat ‘n heerlike vertroulikheid tussen die HERE en die mens gegee het, het verdwyn. As die mens nou terugdink aan wat die HERE eerder vir hom gesê het, is daar ook rede om bang te wees. Sonder dat die mens uit ervaring weet wat die dood is, weet hy dat die HERE gesê het dat as die mens van daardie boom sal eet die mens verseker sal sterf.  Terwyl Adam en Eva en die hele mensheid, wat uit hulle sal voortkom, niks anders as God se straf kon verwag, gebeur iets anders.

Nie anders in die sin dat die HERE nie Sy Woord hou nie. Hy kom met Sy straf en die mens word onmiddelik na die sondeval  sterflik.  Nogtans is dit nie die enige wat gebeur nie. Die heerlike vir ons is dat die HERE dadelik Sy onverdiende goedheid en liefde vir ons wys. Hy kom nie net met die storm van Sy oordeel nie. Nee, Hy kom na die mens om hom in sy ellende, die ellende wat ons oor onsself gebring het, op te soek. Ondanks alles kom Hy as ‘n Vader Sy ongehoorsame kind opsoek om hom weer die lewe te wys. Omdat Sy liefde so onnoemlik groot is. Ons staan in die wêreld as mense wat so dood is, wat geen vinger kan verroer om weer die lewe, die ware vreugde in ons lewe te kry nie. Hier sien ons in die geskiedenis gebeur wat die HERE steeds weer wys: Hy neem die inisiatief, Sy liefde is altyd eerste. Hy kom ons opsoek. Dan wys die HERE ook wie ons van onsself is, dan wys Hy juis vanuit liefde dat ons skuldig teenoor Hom staan.

Ons sien dit so duidelik as ons weer na Genesis 3 kyk. As Adam en Eva hulle vir die HERE wegsteek, gaan die HERE nie weg nie. Hy is soos die vader wat so vol van liefde vir sy kind is dat hy hom nie laat afskud nie. As die HERE dan met Adam en Eva praat, wys Hy in die vrae wat Hy vra wat  ons skuld is. Hy wys wat die vuil sonde in ons veroorsaak het. Dit is liefde  as die HERE jou in jou lewe wys wat jou sondes is! As Hy elke Sondag die 10 Gebooie vir jou laat hoor om jou lewe tot in die verste uithoeke van jou hart jouself te ondersoek. Dit is God se liefde as jy in die prediking skerp en met die naam op jou sondes gewys word en dat jy daarom skuldig teenoor Hom staan. Dan ontmasker die HERE ons dikwels heeltemal. Ons lees hoe die HERE dit na die sondeval doen in Gen 3:9-11: “Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg.”

Ons sien hier hoe Adam probeer om sy sonde weg te steek. Hy wys nie op sy sonde nie maar op die skaamte wat oor sy lewe gekom het. Hy wys op ‘n gevolg van die sonde om sy eie sonde nie te noem en te bely nie. Hy wil eintlik sê dat  hy niks daaraan kan doen dat hy nou bang vir God is nie. Dit het nou eenmaal oor hom gekom. Hoe dikwels wys ons onsself  ook op hierdie punt as kinders van Adam. Hoe dikwels gebruik ons gevolge van die sonde om eie sondes te bedek of om te sê dat ons nie anders kon nie. In hierdie wêreld kan jy tog nie in alles volgens God se wil leef want dan het jy in die besigheidswêreld, dan het jy in jou werkkring en omgewing geen goeie kans om verder te kan ontwikkel of verder op die maatskaplike leer te kom nie. Nogtans ontmasker die HERE ons deur die spieël van Sy wil, Sy Woord, Sy wet ons voor te hou. Hy sê vir Adam: “Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie?” As sowel Adam as Eva probeer om hulle skuld op ander te pak, wys die HERE dat hulleself skuldig staan teenoor Hom. Dit is die HERE wat dit in liefde vir Sy kinders doen.

Die mens het die verbond wat die HERE in die paradys met ons gesluit het verbreek. Die mens staan daar naak en sonder enige beskerming skuldig voor God. Ons kan niks vir die HERE verberg nie. Waar ons ookal gaan, wat ons ookal dink, voel en doen die HERE sien dit. Niks is vir Hom verborge nie. “HERE, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie – of U, HERE, U ken dit geheel en al.” Ps 139:2-4.

Ons kan net God se ewige straf verwag en nogtans soek Hy ons op. Neem Hy die inisiatief om Sy kinders uit die ellende waarvan hulleself volledig die skuld dra te verlos. Ons sien dit elke keer weer so heerlik as  ‘n baba voor in die kerk gedoop word. Ook daardie kind lê naak en skuldig voor die HERE. Dit is ook die eerste wat ons in die Doopformulier bely: “Ten eerste: Ons en ons kinders is in sonde ontvang en gebore. Daarom rus die toorn van God op ons, sodat ons nie in die ryk van God kan inkom nie, tensy ons opnuut gebore word. Dit word aan ons geleer deur die indompeling in en besprenkeling met die water., waardeur die onreinheid van ons siele vir ons aangewys word. So word ons vermaan om ‘n afkeer van onsself te hê, ons voor God te verootmoedig en ons reiniging en saligheid buite onsself te soek.”

Wat is nou die heerlike?  Dit is dat terwyl ons verdien het om vir ewig los van God en die saligheid te bly Hy ons   by die begin van ons lewe opgesoek het. Dadelik na die sondeval, dadelik by die begin van ons lewe op aarde. Hy, die liefdevolle God en Vader het na ons gekom met Sy belofte. .

 

Die HERE het na die sondeval Sy belofte gegee.

 

Ons het na die sondeval met diepe angs in ons  van God weggevlug. Ons  diepste vreugde en geborgenheid was by die HERE en na die sondeval is ons die mees bang vir Hom. Ons wil nou by Hom wegkom. In ons is niks meer wat ons by Hom en die lewe kan terugbring nie. Ons is op pad na die liggaamlike dood en is ook vir die lewe met die HERE morsdood. Hoe groot het die afstand tussen die HERE en ons geword. Nogtans is dit die HERE self  wat ons in Sy onverdiende goedheid opsoek om ons te troos. Ons bely dat Hy dit gedoen het: “God het die mens toe getroos met die belofte”. Dadelik nadat die HERE ons in ons skuld ontmasker het, klink daar die volgende belofte van God in die paradys: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.”  Gen 3:15  Dit is die eerste belofte wat die HERE vir die mens wat in sonde geval  het, gegee het. Die belofte waarin die hele verlossingswerk van die HERE tot die Nuwe Jerusalem al opgeneem is. Dit is hierdie belofte wat later in die Bybel en die geskiedenis as ‘n knop in ‘n pragtige blom oorgaan waarin die rykdom en grootheid van God se werk van redding oopgaan. Dit is ook daarom dat hierdie belofte dikwels die moederbelofte genoem word. Dit is die belofte waaruit al die ander beloftes vir God se volk  voortkom en die rykdom daarvan al hoe meer wys. Dit is die moeder van al God se beloftes vir die gelowiges en hulle kinders.

Nou vra jy jou miskien af hoe ‘n belofte waarin van stryd gepraat word nou troos kan gee? Waarom is die stryd wat hier genoem word nou werklik ‘n belofte wat vir ons weer moed gee?

Dit is belangrik om raak te sien dat dit die HERE is wat hierdie vyandskap stel. As die HERE na die sondeval nie sou ingegryp het nie sou enige mens vrede met die sonde en die duiwel gehad het. Dan sou geen enkele mens nog deel van God se volk en Sy verbond wil wees nie. Die vyandskap wat die HERE stel is deel van Sy genade. Hy sorg dat daar ‘n verbondsvolk bly. Ons sien hierdie vyandskap al dadelik in Genesis 4 as Kain vir Abel doodslaan. Kain doen dit omdat hy nie in liefde vir die HERE wil leef en liewer die sonde sy baas laat wees. Kyk Gen 4:6,7.  Kain en sy nageslag is die eerstes wat met God se verbond breek en nie tot Sy verbond wil behoort nie.

Die HERE troos die mens, troos God se volk juis in die belofte na die sondeval. Hy sê dan dat Hy daarvoor sal sorg dat ‘n deel van die mense ondanks hulleself  gelowiges sal wees. Hy gee die krag om teen die verlangens van eie hart en die krag van die duiwel in die lewe met God te soek en te vind. Om teen jou eie sondige hart te veg en in liefde vir die HERE te leef en Christus te volg. Ons sien hoe die HERE vol onverdiende goedheid in die geskiedenis werk. Die HERE werk die heerlike belofte vir Sy volk  in die verbond met die gelowiges en hulle kinders uit. Hy doen dit deur Sy belofte vir hulle te gee. Ons lees dit o.a. in Gen 17 waar die HERE die besnydenis as teken en seël van Sy verbond met Sy volk gee. Dan sê die HERE in vers 7: “En Ek sal My verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag na jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag na jou.”  Die troos wat die HERE vir Sy volk gee is so groot en betroubaar omdat die HERE doen wat Hy sê. Hy gee ernstig die belofte dat Hy jou God wil wees. Hy gee dit  vir die gelowiges en hulle kinders! Nie net vir ‘n deel van die kinders nie. Nee, vir al hulle kinders. Hulle ontvang God se belofte, hulle sien hoe die HERE hulle met Sy liefde omring. Hulle mag daarom almal na Hom vlug want Hy het beloof dat Hy hulle God en daarom hulle Verlosser wil wees. Juis omdat die HERE so intens Sy liefde in die belofte gee, kan die HERE Sy volk so sterk aanspreek as hulle nie in liefde vir Hom leef nie. Dan kan Hy sê dat hulle van Hom afgeval het, dat hulle as prostitute geleef het, dat hulle owerspel gepleeg het. Dit sou onmoontlik wees as die HERE nie werklik en ernstig gemeen met Sy belofte tot hulle gekom het nie.

Die HERE wys dit op ‘n indrukwekkende manier  in Esegiël 16. Hoe  het die HERE Sy liefde, Sy verbond, Sy belofte werklik aan Israel gegee en word hulle op hul afval aangespreek. Hoe sien ons ook hier hoe wonderlik dit is dat die HERE in liefde met Sy belofte na jou toegekom het  terwyl jy en ek van onsself niks maar dan ook niks beter as ander is nie. Luister na ‘n paar verse in Es 16: “En wat jou geboorte aangaan – die dag toe jy gebore is, is jou nawelstring  nie afgesny nie; en jy is nie met water gewas om jou te reinig nie; ook is jy nie met sout ingevrywe of in doeke toegedraai nie.  ….. En Ek het by jou verbygegaan en jou sien spartel in jou bloed; toe het Ek vir jou gesê in jou bloed: Leef! Ja, k het vir jou gesê in jou bloed: Leef!  ….. En Ek het by jou verbygegaan en jou gesien, en kyk, jou tyd was die tyd van liefde. Toe het Ek My vleuel oor jou uitgesprei en jou naaktheid toegedek. Ja, Ek het vir jou gesweer en met jou  ‘n verbond aangegaan, spreek die Here HERE, en jy het myne geword. Daarop het Ek jou met water gewas en jou bloed van jou afgespoel en jou met olie gesalf. Ook het Ek jou beklee met veelkleuruge klere en vir jou skoene van robbevel gemaak en Ek het jou gehul in fyn linne en jou oordek met sy.  Es 16:4,6,8-10.

Die volk wat God se belofte werklik ontvang het, het nogtans in ongehoorsaamheid aan die HERE gaan leef en dan sê die Gees: “Hoe smagtend is jou hart, spreek die Here HERE, dat jy al hierdie dinge gedoen het, die werk van ‘n onbeskaamde hoer; dat jy jou verwulf by elke uitdraaiplek gebou en jou hoogte op elke plein gemaak het! Maar jy was nie eens soos ‘n hoer nie, deurdat jy hoerenloon gering geag het! ….. Want so sê die Here HERE: Ja, Ek doen aan jou soos jy gedoen het, wat die eedswering geminag en deur die verbond te verbreek.” Vs 30,31, 59.

Die HERE kom in Sy liefde werklik met Sy belofte dat Hy jou God en Verlosser wil wees na jou toe. Hoe heerlik maar ook hoe erg is dit as mense hulle rug op die HERE se belofte draai. Dan verbreek hulle en nie die HERE Sy verbond nie. Hier sien ons dat God se belofte in die verbond nie net vir die uitverkorenes is nie. Hoe heerlik om te weet dat die HERE in die belofte na jou toegekom het. Jy mag in Hom glo, jy mag tot Christus as jou Heiland vlug want Hy is die inhoud van God se belofte dadelik na die sondeval.

 

Die HERE het Sy Seun as die Verlosser gegee

 

Ons bely in die laaste sin van art 17: “God het die mens toe getroos met die belofte om aan hom Sy Seun te gee en hom salig te maak – sy Seun wat uit ‘n vrou (Gal 4:4) gebou sou word om die kop van die slang te vermorsel.”

Hoekom gee God se belofte werklik troos vir wie in geloof  met die HERE wil leef?  Omdat die inhoud van God se belofte dat elkeen wat in geloof tot Hom kom deur Christus vir ewig verlossing ontvang  juis in Christus vir ewig seker is. Toe ons die sonde as ons vriend omarm het en so slaaf van die sonde geword het, kon ons op geen enkele manier ‘n pad maak of bedink wat ons uit die ewige ellende kon red.

As alles so uitsigloos is, kom die goeie God in Sy Goddelike wysheid met Sy plan van verlossing wat Hy gaan uitvoer. Die pad wat ons nie kon sien, is die pad van God se liefde en wysheid waarin Hy Sy eie Seun gegee het om vir Sy uitverkore kinders tot sonde te word. Om op Hom die regverdige mens wat ook God is al die sondes van die gelowiges te laai en so die gelowiges van hulle skuld te bevry. Dit het maar nie ‘n plan gebly soos ons baie planne kan maak  terwyl baie planne nooit werklikheid word nie. God se planne word werklikheid  want Hy is God en Hy alleen. Sy Seun het mens geword: Jesus Christus. Met Hom het gebeur wat ons in 1 Kor 5:21 lees: “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom”. Die Here Jesus het gekom en die duiwel oorwin, sy kop vermorsel. Die Here Jesus is die waarborg dat elke ware gelowige, elkeen wat in geloof God se belofte vasgryp vir ewig gered is! Die belofte het tot jou gekom en kom elke Sondag in die prediking tot jou. Neem Christus aan! Hoe verskriklik is dit vir jou as jy dit nie doen nie, as jy God se belofte verwerp, Sy verbond met jou verbreek. Gaan tot die HERE dan leer jy saam met Paulus van God se verlossing deur Christus jubel:

“Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.” 1 Kor 2:9