Verbonde met Vader, Seun en Heilige Gees

14-06-2013 10:58

VERBONDE MET VADER, SEUN EN HEILIGE GEES

 ENKELE SKETSE OOR GOD SE VERBOND MET SY VOLK

 

Skets 1   DIE VERBOND VAN GOD SE LIEFDE

 

Ken ons die verbond?

 

Ons het groot geword in gesinne en gemeentes waar die woord verbond  baie gebruik is. Ons neem juis as  Gereformeerdes die woord verbond maklik in ons mond. Ons sê ook dat die verbond baie belangrik is.

Nogtans is die vraag of ons nog regtig weet wat die verbond is. Ken ons regtig nog die inhoud van die woord verbond? Ek is somtyds bang dat dit nie baie meer as ‘n bekende woord geword het nie. Dit is daarom belangrik om saam weer te sien wat die HERE in die verbond vir ons gegee het. Laat ons saam sien wat die HERE se verbond met Sy volk inhou.

 

Die verbond  -  geen skema nie

 

‘n Sekere gevaar bestaan as ‘n bepaalde woord baie gebruik word. Dit geld ook van die verbond.  ‘n Mens kan somtyds gesprekke hoor waar jy steeds weer hoor: die verbond  sonder dat jy die naam van die HERE hoor. Dan kan dit gebeur dat dat die verbond in ons gedagtes een of ander  idee begin word. Dit word dan amper iets op homself  waarin die HERE moet inpas en wat groter as Hom begin word. Ons moet altyd weer daarop let dat die HERE self die belangrikste in ons lewe is. Waar ‘n mens die regte sig op die verbond het, gaan dit om die Drie-enige God en is nie die verbond as idee die belangrikste in jou lewe nie.

By ons denke oor die verbond moet ons dan ook nie by ‘n idee of ‘n skema begin nie maar wat die HERE vir ons sê. Daarom begin ek in hierdie sketsels ook nie met Verbond = Belofte + Bevel + Bedreiging nie. Ons moet nie met ‘n skema begin nie, hoe goed die inhoud daarvan ookal is maar by wat die HERE sê Dan ontdek ons hoe die lewende God verbondsomgang met ons het en Hy ons daartoe roep. Ons ontdek dan wat die konstante elemente is wat by die verbond tussen God en Sy volk behoort.

 

Van watter verbond praat ons?

 

Ons lees van verskillende verbonde in die Bybel. Mense het met mekaar verbonde gesluit. Voorbeelde daarvan is Laban en Jakob (Kyk Gen 31:44-55)  en die verbond tussen Israel en die Gibeonite (Kyk  Josua 9). Dit gaan in hierdie sketse nie om hierdie verbonde nie maar om die verbond wat die HERE met Sy volk gesluit het. Ons wil ontdek wat die verbond tussen God en Sy volk beteken en wat dit  ons van God wys.

 

Die HERE neem die inisiatief.

 

Wat is die verhouding tussen God en ons?  Jy sê dalk: Die HERE is God en ons is mense, Hy is die Skepper en ons is Sy skepsels. As jy dit raaksien, het ons al iets waargeneem wat baie belangrik is. Die HERE staan bo ons en is altyd die eerste. Hy sê van Homself dat Hy die eerste en die laaste is. (Jes 44:6; 48:12; Openb 1:17;2:8;22;13)

Die besondere van die verbond is nou dat  die enigste God wat so ver bo ons as skepsel uitstyg nie ver van ons weg bly staan nie. Hy tree met die mens wat Hy as Sy beeld gemaak het in ‘n liefdesverhouding. Hy neem daartoe die inisiatief  en bepaal omdat Hy God is die inhoud en vorm van die verbond.

Ek gee nou enkele voorbeelde waaraan ons duidelik kan sien dat die verbond die HERE se inisiatief is en dat dit voortkom uit Sy heerlike liefde vir Sy volk.

a.      Die HERE maak van al die skepsels net die mens volgens Sy beeld. Dit beteken o.a. dat die HERE met die mens as Sy kind (Kyk Luk 3:38)  ‘n besondere band skep. Hy soek die mens persoonlik op en gee hom die opdrag om as Sy verteenwoordiger die aarde te regeer. Kyk Gen 1:26-28. Adam en Eva herken na die sondeval die geluid van die HERE as Hy na hulle toekom. Gen 3:8. Dit wys daarop dat die HERE al meerdere kere na hulle toegekom het om hulle te ontmoet en met hulle te praat. ‘n Voorbeeld van ‘n ontmoeting tussen die HERE en Adam lees ons in Gen 2:15-17. Die inisiatief tussen die omgang tussen God en mens het van God gekom. Hy is dit ook wat bepaal wat die mens se opdrag is en dat by die omgang tussen die HERE en die mens behoort. Die mens tot liefdevolle gehoorsaamheid aan Hom geroep.

b.      Na die sondeval kom die HERE met Sy onverdiende liefde weer na Adam en Eva. Die mens het die verbondenheid tussen God en hom deur sy ongehoorsaamheid verbreek. Nogtans handhaaf die HERE Sy verbond. Hy neem daartoe die inisiatief. Ons sien dit dadelik na die sondeval en ook op ander oomblikke in die geskiedenis. Ek wys op enkele voorbeelde:

·         Na die sondeval soek die HERE die mens op en laat hom maar nie net in sy ellende lê nie. Ons sien God se inisiatief baie duidelik in Gen 3:8 en ook in die belofte wat die pad na die verlossing oopbreek in Gen 3:15. Kyk vir God se inisiatief en liefde na die sondeval ook art 17 van die NGB.

·         Ons sien die liefde en inisiatief ook as amper die hele mensheid hulle rug op die HERE gedraai het. Dit is dan nog net Noag en sy gesin wat in liefde vir die HERE leef. God se oordeel sal oor die wêreld kom. Dit is God wat die inisiatief neem om daarvoor te sorg dat Noag en sy gesin gered word en  so bly  die verbondenheid tussen God en Sy volk bestaan. Hy praat met Noag en gee hom en sy seuns die opdrag om die ark te bou.

·         Na die sondvloed kom daar weer ‘n tyd dat die meeste mense nie van die HERE wil weet nie. Ook dan sien ons baie duidelik raak dat die verbondenheid  van God en Sy volk net aan Hom te danke is. Mense wil nie na die HERE luister nie. Nogtans roep  Hy ‘n mens wat self ook ander gode dien om hom daaruit te haal. Om die stamvader van God se volk Israel te wees. Dat ook Abraham eers nie net die HERE gedien het, lees ons in Josua 24:2,3: “So sê die HERE, die God van Israel: Oorkant die Eufraat het julle vaders van oudher gewoon – Tera, die vader van Abraham en die vader van nahor, en hulle het ander gode gedien. Maar Ek het julle vader Abraham van oorkant die Eufraat af geneem en hom deur die hele land Kanaan laat trek en sy nageslag vermeerder en Isak aan hom gegee.”

·         God het self die inisiatief geneem dat Sy volk Hom ken. Hy het Homself aan hulle bekend gemaak. Ons lees daarvan in Psalm 147:19,20: “Die HERE maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge. So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, die ken hulle nie. Halleluja.”

·         Die koms van die Here Jesus as die Verlosser is die HERE se inisiatief. Niemand anders het die Verlosser en Middelaar gegee nie. Ons as mense kon daarvoor nie sorg nie. As Maria haar afvra hoe sy sonder gemeenskap met ‘n man ‘n kind kan kry is die engel Gabriël se antwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoemd word.” Luk 2:35

Sonder die HERE se initiatief sou die verbond tussen God en Sy volk nie begin het en ook nie bly bestaan het nie. Die ontstaan van die verbond en die bly bestaan van die verbond het ons net aan die HERE en Sy liefde te danke.

 

Wat is die verbond?

 

Mense het in Bybelse tyd verbonde met mekaar gesluit. Hierdie verbonde was dikwels of kontrakte of  dit was afsprake wat ‘n ‘n koning wat ‘n ander koning oorwin het aan die laaste koning opgelê het. Ek kom later in hierdie sketse nog op ooreenkomste tussen God se verbonde en die verbonde wat mense toe gesluit het terug.

Dit gaan my nou daarom dat ons raaksien dat God se verbond nie ‘n kontrak is nie en ook nie ‘n afspraak van ‘n oorwinnaar met die oorwonnene nie. Wat is die groot verskil met God se verbond? By die HERE klop Sy hart van liefde vir Sy volk. By ‘n kontrak gaan dit om ‘n koue afspraak en by die afspraak van ‘n oorwinnaar met ‘n oorwonnene gaan dit die oorwinnaar om sy mag en sy eie belang. As die HERE Hom aan mense verbind as hulle God en Vader kom Sy liefde na ons toe.

Ons kan sê dat die HERE Homself in die verbond met Sy volk in liefde vir hulle gee. Hiervan is die gee van Sy eie Seun as ons Verlosser die grootste en diepste bewys. Die HERE se belofte dat Hy ons God en Vader is en ons Sy volk mag wees is bewys dat Hy in liefde tot Sy volk kom.

As die HERE so na Sy volk kom, kom Hy met die opdrag, die bevel om Hom te volg, om op Hom alleen te vertrou. Om werklik as Sy volk te leef. Hierdie bevel kom met groot liefde na die verbondsvolk. Wie God se liefde verag en in die wind slaan, verbreek die verbond. Dan oortree jy nie een of ander reël nie maar wys jy God in Sy liefde af wat na jou toegekom het.

Die doel wat die HERE met Sy verbond het, is dat Sy volk in vrede met Hom leef. Die vrede wat Christus deur Sy werk verdien het. Die vrede wat volmaak sal heers in die Nuwe Jerusalem. Kyk Openb 21:3,4. Die HERE woon dan in volle vrede temidde van Sy hele volk!

Ons sou die verbond so kon omskryf (ek gee nou ‘n eenvoudige beskrywing waarby verseker nog ander elemente genoem kan word) : Die verbond is die lewendige verbintenis van liefde waarmee die HERE tot Sy volk kom en verklaar dat Hy hulle God is en hulle Sy volk. Die HERE roep in hierdie verbintenis om die erkenning en liefde vir Hom as die enigste God en Verlosser in Jesus Christus.