Artikel 12 Nederlandse Geloofsbelydenis Die HERE is die Skepper

17-01-2017 06:39

 

 

 

Die Here is die Skepper 

Artikel 12: Nederlandse Geloofsbelydenis

 

Ons mag die ewige, Drie-enige God ken. Ons mag Hom as die Skepper van ons lewe ken. Sonder die HERE, sonder Sy skeppingswerk, sou Hy alleen daar wees en niks anders nie. Dit wys vir ons dat die HERE Sy skepping en dus ook ons nie nodig het nie. Dit is nie so dat Hy genoodsaak was om die skepping te maak nie. Hy kan ook sonder Sy skepping, sonder ons, bestaan. Nogtans het die Vader op ‘n sekere oomblik hemel en aarde, die hele skepping, gemaak. Dit was in Sy oë goed. Hy het dit op die oomblik gedoen wat  “Hy dit goedgedink het”. Kyk die begin van art 12. Die inisiatief vir die hele skepping kom van Hom alleen.

 

Net deur openbaring

 

Eendag het iemand vir Luther gevra wat God gedoen het toe die skepping nog nie daar was nie. Luther se antwoord was: “God het stokke in die bos gesny om mense wat te nuuskierig is daarmee te slaan.” Hy het daarmee gewys dat ons nie dinge moet wil weet en daaroor allerhande teorië ontwikkel  waarvan ons nie werklik iets kan weet nie. Sekere dinge onttrek hulle aan ons oë en ook aan ons menslike ondersoek. So is dit ook met die skepping. Ons kan naamlik nie deur menslike waarneming weet wat voor of by die skepping gebeur het nie. Geen mens was daar aanwesig nie. Geen mens het gesien dat en hoe die HERE geskep het nie. Die mens is as laaste deel van God se skepping gemaak. Adam was selfs nie by sy eie skepping betrokke nie. Hy het niks daarvan gesien en geweet nie. Die HERE het die asem in sy neus geblaas en toe het die mens tot lewe gekom. Gen 2:7. Adam het selfs nie gesien hoe Eva later op die sesde dag geskep is nie. Die HERE het toe ‘n diepe slaap oor Adam laat kom. Gen 2:21.

 

Die enigste manier waarop ons ‘n betroubare beeld van die ontstaan van die aarde het, is deur God se eie openbaring. Die enigste goeie en betroubare beeld daarvan besit ons deur dit wat die HERE self daaroor in Sy Woord laat opskryf het. Hierop wys ook Hebr 11:3: “Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die Woord toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit die sienlike nie.”

 

Die HERE skep uit niks

 

Ons bely in art 12 dat die HERE  “die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het. Dit wys daarop dat die HERE werklik niks nodig gehad het om alles wat ons nou sien, te kon maak nie.

§         Sy skeppende aktiwiteit is uniek. Hy het geen  materiaal nodig om iets te laat ontstaan nie. Die enigste keer dat die HERE iets van dit wat Hy te vore geskep het gebruik, is by die skepping van die mens. Ons moet dan daarop let dat die “stof van die aarde” wat God dan gebruik op geen enkele manier lewe in hom het nie. Dit is dooie materie. Die HERE skep werklik uit niks die mens wat leef. Hy blaas die lewensasem in die mens se neus. Die HERE het, terwyl niks daar was nie, die hele skepping gemaak.

§         Die HERE wys in die skepping hoe groot van krag Hy is. Niks anders as Sy Woord, as Sy bevel, is nodig om dít wat Hy wil hê, dadelik te laat ontstaan nie. Ek noem enkele gedeeltes in God se Woord waar ons dit lees:

 

Psalm 33:6,9: “Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van Sy mond hulle hele leër. …. Want Hy het gespreek, en dit was; Hy het gebied en dit staan.”

Psalm 148:5: “Dit gaan dan om die hemel, die engele, son, maan, sterre en die lug. Dan  lees ons: “Laat hulle die Naam van die HERE loof; want Hy het bevel gegee – en hulle is geskape.”

Rom 4:17:  Ons lees hier van God se belofte vir Abraham en dan tipeer die Heilige Gees die HERE in hierdie vers op ‘n besondere manier: “Soos geskrywe is: Ek het jou ‘n vader van baie nasies gemaak – voor die aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan.”

Die HERE is die God wat uit niks die lewe skep, wat uit die dood die lewe skep. Hy doen wat geen skepsel kan doen nie.

         Ons het gesien dat die HERE se skeppende aktiwiteit iets is wat jy nie met mense se skeppende aktiwiteite kan vergelyk nie. Die woord “skep” wys juis op die afstand en verskil wat tussen God en enige skepsel  bestaan. Die HERE is die Skepper en alles wat en wie verder bestaan is skepsels! Alles en almal buite God het uit niks ontstaan en is nie Goddelik nie! Hoe belangrik is dit om te weet. Veral in ons tyd waarin die gedagte weer populêr is dat alles en almal in die skepping eintlik ‘n deeltjie van God, van die Goddelike is. Hiervolgens  sou ons as skepsels “God” vorm. Die gevolge van hierdie soort gedagtes is dat mense hulle nie aan God onderwerp nie. Hulle meen dat hulle deel van die Goddelike is en daarom vanuit hulleself die waarheid ken. Hulle meen dat dit genoeg is om na die stem van hulle hart of verstand te luister. Dít sou hulle op die regte pad lei. As ‘n mens só dink, maak hy homself onaanspreekbaar vir die evangelie. Jy dink dan ook dat jy nie ‘n Verlosser en Betaler vir jou sondes nodig het nie, want dit sou genoeg wees om na die “goddelike” binne-in jouself te luister. Hierdie gedagtes stry met alles wat ons in God se Woord lees en stry daarom met die werklikheid. Die HERE is die Skepper. Hy is die enigste God.

 

 

Die HERE is ‘n God van orde

 

Ons bely in art 12 o.a: “Hy het aan elke skepsel ‘n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien”. Die HERE is ‘n God van orde. Hy is ‘n God van vrede. Sien  1 Kor 14:33. Dit wys die HERE as Hy in ses dae die aarde vir die mens bewoonbaar maak. Die HERE het die aardbol geskep sonder dat daarop toe dadelik lewe moontlik was. Die rede daarvoor lees ons in Gen 1:2: “En die aarde was woes en leeg.” Die HERE wat die Skepper is, het die aarde nie geskep om woes en leeg te wees nie. Hy is nie die God wat alles in wanorde wil laat lê en waardeur lewe nie moontlik is nie. Ons lees in Jes 45:18 dat dit nie die doel van die HERE is nie: “Want so sê die HERE, wat die hemele geskape het – Hy is God! – Wat die aarde geformeer en dit gemaak het – Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word – Ek is die HERE, en daar is geen ander nie.”

Die HERE skep volgens Sy plan wat daarvoor sorg dat alles wat Hy geskep het in vrede met mekaar bestaan. Alles pas by mekaar en so ontstaan ‘n pragtige wêreld waar elke skepsel in vrede met ander leef. So getuig die hele skepping in sy orde en vrede van die HERE se grootheid. Ons mag so in elke onderdeel van God se skepping Sy heerlikheid sien. God het naamlik elke skepsel ‘n eie wese, gestalte en voorkoms en verskeie take gegee.

 

Die skepping in diens van die mens

 

Toe die HERE ná ses dae na Sy skepping kyk, funksioneer die hele skepping as ‘n pragtige eenheid. Daar is orde en ware vrede tussen alle skepsels. Een van die sake wat opval is dat al die skepsels daar is om in diens van die een skepsel, die méns, te staan. Die hele skepping erken die mens as die koning wat bo hulle staan. Ons sien dit op ‘n pragtige manier in Genesis 2. Die HERE bring dan al die soorte diere wat Hy geskep het na die mens. Die mens kry die opdrag om al die diere name te gee. Dit wys hoe die mens ‘n posisie bo die diere gekry het. Die mens kry die bevoegdheid om hulle name te gee en volgens die naam sal hulle genoem word. Gen 2:19. Dit was nie net die diere wat geskep is om naby die mens te leef wat gekom het nie. Ook die wilde diere het gekom. Al die diere stel hulle onder die mens. Hulle wys dat hulle aan die mens diensbaar wil wees. Hulle voeg hulle in God se skeppingsorde.

 

Die ellende van die sondeval

 

Ons het deur die sondeval hierdie pragtige orde van God deurbreek. Ons sien dit elke keer weer raak as ons lees dat ‘n dier ‘n mens aanval, beseer of selfs doodmaak. Ons lees hoe mense deur seekoeie, olifante of selfs kinders deur honde doodgemaak word. Dit behoort nie by God se goeie skepping nie. Die sonde wat ons in die wêreld gebring het, is die oorsaak van die verbreking van God se vrede in die skepping. Ons is daarvan die skuld dat die skepping onder hierdie ellende sug. Die skepping self sien met groot verlange na die herstel van God se vrede in die skepping uit. Ons lees dit in Rom 8 so: “Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe – nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het – in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Want ons  weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.” Rom 8:19-22

 

Die heerlike herstel van God se skepping

 

Die herstel van die heerlike orde en vrede van God in die skepping, kom weer slegs deur Christus ons Verlosser terug. Hy het dit met Sy lewe en lyding in ons plek verdien. Hy het ook terwyl Hy op aarde was, gewys dat Sy oorwinning oor die sonde en die Satan hierdie heerlike vrede weer herstel. Ook die vrede met die wilde diere. Die lewe sonder angs vir hulle. Ons lees naamlik in Markus 1 nadat die Here Jesus die versoekings van die Satan deurstaan het: “En Hy was daar in die woestyn, veertig dae lank, terwyl Hy deur die Satan versoek is; en Hy was saam met die wilde diere, en die engele het Hom gedien.” Vs 13

Die HERE het ook vir Sy volk wat op die sondige wêreld leef die heerlike belofte gegee dat hierdie skeppingsvrede op die nuwe aarde weer herstel sal word. Ons lees dit o.a. in Jesaja 11:6-9: “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ‘n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ‘n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”

Hoe heerlik is dit as op hierdie manier God se vrede weer oor die hele skepping heers en almal op hulle plek in die skepping die HERE dien.

 

Die skepping van die engele

 

Die HERE is die enigste God en het daarom ook alles gemaak. Hy het alles geskep wat buite Hom is. Dit beteken dat Hy nie alleen dit gemaak het wat ons hier op aarde rondom ons sien nie. Ons bely dit in die Geloofsbelydenis van Nicea so:  “Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge.

Die Gees vertel ons in die Bybel nie baie van die skepping van die engele nie. Nogtans word vir ons uitdruklik gesê dat die engele ook by God se skepsels behoort. Die engele word naamlik somtyds in die Bybel ook magte, heerskappye en owerhede genoem. As ons dit in gedagte hou, word duidelik wat ons in Kol 1:16 lees: “want in Christus is alle dinge geskape wat in die hemele en op de aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.”

 

Die engele is deur die HERE geskep voordat Hy in ses dae die aarde vir bewoning gereed gemaak het. Ons lees naamlik in Job 38 wat in die hemel gebeur het toe die HERE met die skepping van die aarde besig was. Die HERE roep Job tot verantwoording en sê dan o.a:  “Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het. Wie het sy afmetinge bepaal? – jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan? Waar is sy fondamentklippe op ingesink?  Of wie het sy hoeksteen gelê? Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het?” vs 4-7

Hier word met die môresterre en die seuns van God die engele bedoel. Die engele word ook in die begin van die boek Job seuns van God  genoem. Hoe heerlik is dit om te sien dat die engele die HERE saam al die eer gee as Hy met Sy magtige skeppingswerk besig is.

 

Alle engele is goed geskep

 

Ons moet mooi daaraan dink dat daar toe nog geen verdeeldheid onder die engele was nie. Dit is baie belangrik dat ons in Art 12 bely: “en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en Sy uitverkorenes te dien.”

Dit is waarheid as die HERE op die sesde dag van sy volledige skeppingswerk sê: “dit was baie goed.” Gen 1:31

Hoekom is dit nou so belangrik om dit te weet, om te glo? Ons sien hierin dat die HERE nie die kwaad, die sonde, die ellende in die skepping geplaas het nie. Hy het sowel engele as mense nie so gemaak dat hulle so swak was dat hulle wel tot sonde moes kom nie. Die HERE het regtig niks in die skepping gelê wat die begin van die kwaad is nie. Ons kan die HERE daarvan nooit beskuldig nie. As ons van ellende en sonde praat moet ons met ons vingers na onsself en na sekere engele wys.  Altyd weer is daar mense wat volgens hulle eie menslike verstand redeneer en dan sê: Dit kan nie so wees dat die kwaad nie in die skepping gelê het nie. Dan sou die kwaad onverklaarbaar wees.

 

’n Voorbeeld van mense wat so dink is die Manigeërs wat aan die einde van Art 12 genoem word. Omdat mense vanuit hul beperkte verstand en kennis redeneer, kom hulle tot ’n teorie dat daar altyd ’n goeie en ’n slegte god was. Die geskiedenis sou dan ’n stryd tussen twee gode wees. Ons moet nie wyser as God wil wees nie. Ons moet erken dat ons baie dinge nie weet nie. Baie dinge weet die HERE alleen. Hy leer ons dat Hy alles geskep het en dat Hy alles goed geskep het en ons glo Hom op Sy Woord.

 

Engele bestaan!

 

Die HERE het al die engele goed geskep. Hoe arm is ’n mens as hy volgens sy eie verstand en menslike ondersoek beweer dat engele en demone nie bestaan nie. ’n Mens wat dit sê, bewys dat hy hom en sy verstand tot die norm van alles gemaak het. Hy het op God se troon gaan sit. Hoe hoogmoedig is dit! Jy dink dan dat daar nie méér kan bestaan as wat volgens menslike verstand en ondersoek kan bestaan nie. Ook in die Here Jesus se tyd was daar mense wat so gedink het. Dit was die Party van die Sadduseërs. Ons lees van hulle in Hand 23:8: “Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, ook geen engel of gees nie.”

Dit is die Here Jesus self wat vir God se volk duidelik maak dat hierdie mense heeltemal verkeerd is en dat hulle God se eer aantas. Ons lees dit in Matteus 22:23-33. Die Sadduseërs probeer om vir Jesus iets te vra wat hom so in die noute bring dat Hy nie meer kan sê dat daar ’n opstanding is nie. Ons lees dan in vers 29 die Seun van God se beoordeling van die Sadduseërs: “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.”

 
Wie God se Woord ken, weet dat daar ’n opstanding uit die dood kom en weet ook dat engele en demone bestaan en werksaam is. Wie dit nie glo nie, besef en weet nie werklik wat God se krag is nie. Die HERE skep uit die dood die lewe, het die engele geskep en hou die mag van die demone in Sy mag en sal hulle eendag vir altyd in die hel opsluit. Nogtans stel ons nooit ons vertroue op die engele of enige okkulte krag nie, want die HERE alleen is God. Die okkultekragte staan in diens van die duiwel en ons wil daarom daarmee niks te doen hê nie. Hoe die mag van die Bose en die sonde in die skepping gekom het, is die onderwerp vir die volgende artikel.