Artikel 4 Nederlandse Geloofsbelydenis

15-11-2016 07:38
 
 
Samestelling van die Bybel : Mensewerk? Artikel 4 NGB
 

DIE OU TESTAMENT

 

Die Ou Testament was reeds in Jesus se tyd vasgestel

 

‘n Mens lees gereeld in boeke dat die Jode in omtrent 90 n.C. die inhoud van die Ou-Testament vasgestel het. Daar word beweer dat daar ‘n soort sinode was, wat  in Jamnia (of Jabne) vergader het en hierdie besluit geneem het. Dit sou beteken dat die omvang van die Ou-Testament in Jesus se tyd nog nie vasgestel was nie. Die kerk sou in dié tyd nog oor die boeke wat werklik deel van God se Woord is, verskil het. Hierdie voorstelling van sake is egter nie korrek nie.

 

Bewyse in die Nuwe Testament

 

Ons lees in die Nuwe Testament telkens van die Skrifte as dit oor die Ou-Testament gaan. Kyk: Mat 21:42; 22:29; 26:54; Mark12:24:14:49; Lukas 24:27,32,45; Joh 2:22; 5:39; 7:38,42; 10:35; 17:12; 19:28; 20:9; Hand 8:32 17:2,11; 18:24,28; Rom 15:4; 1 Kor 15:3,4. “Die Skrifte” was vir die Jode in daardie tyd ‘n bekende begrip. Elke lidmaat van die kerk het geweet wat ‘n mens met “die Skrifte” bedoel. Die Here Jesus wys ook duidelik op die Ou-Testament  as ‘n bekende en vasgestelde geheel wanneer Hy in Lukas 24:27 vir die Emmausgangers sê: “En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.” Die Here Jesus kan dan ook ‘n gedeelte uit die Ou-Testament aanhaal sonder om die Bybelboek se naam te noem waarin dit geskryf staan. ‘n Voorbeeld is Matteus 21:42 waar Hy Psalm 118:22,23 aanhaal. Jesus sê dan: “Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë.” Dit is duidelik dat “die Skrifte” in die Nuwe-Testament reeds vir elkeen onder God se volk ‘n bekende en vasgestelde eenheid was. Dit word bevestig deur wat ons in buite-Bybelse bronne lees.

 

Buite-Bybelse bronne oor die Ou-Testament

 

Een van die bekende apokriewe boeke is “Jesus Sirag.” Hierdie boek is oorspronklik in Hebreeus geskryf. ‘n Kleinseun van hierdie Jesus Sirag het sy oupa se boek in Grieks vertaal. Hy het hierdie boek van ‘n voorwoord voorsien. Daarin lees ons verskeie kere dat  Jesus Sirag “die wet, die profete en die orige boeke” ywerig bestudeer het. Jesus Sirag het in die begin van die tweede eeu voor Christus geleef.  Die wet, die profete en orige boeke was vir die Jode die aanduiding vir die hele Ou-Testament wat hulle in drie dele verdeel het. Dis duidelik dat reeds die Ou Testament in die tweede eeu voor Christus  ‘n vaste inhoud gehad het. Die uitdrukking “die wet, die profete en die orige boeke” dui dan reeds die volledige Ou Testament aan.  Dit is nie nodig om al die Bybelboeke by name te noem nie.

 

Dit word deur Flavius Josefus bevestig. Wie was hierdie man? Hy was ‘n Jood wat in 37 n.C. in Jerusalem  gebore is en  in omtrent 100 n.C. in Rome gesterf het.  Hy het baie boeke geskryf.  Sy boeke word oor die algemeen as betroubaar erken en is ‘n belangrike bron vir die geskiedenis van die Jode en die Jodendom. Een van die boeke wat hy geskryf het, was teen ‘n sekere Apion gerig. Flavius maak in hierdie boek belangrike opmerkings oor die omvang van die Ou Testament. Hy skryf dat die Jode altyd met groot sorg hulle heilige boeke bewaar het. Dit was veral die priesters en profete wat besondere sorg daaraan bestee het. Hy maak vir Apion duidelik dat die Jode nie baie heilige Skrifte het nie. Hulle het 22 boeke wat volledig betroubaar is en mekaar nie weerspreek nie. Hierdie 22 boeke is geskryf van die tyd van Moses af tot die tyd van koning Artaxerxes. Na die tyd is nog boeke geskryf, maar hulle het nooit die gesag van die ander 22 ontvang nie. Dit beteken dat die 22 boeke al eeue lank die Ou Testament vorm en niemand het hieraan iets durf toevoeg of wegneem nie. Flavius Josefus maak duidelik dat die Ou Testament al eeue lank in ‘n vaste samestelling bestaan en so aanvaar word. Die enigste wat die leser dalk kan verbaas is die aantal 22. Die Jode het sekere boeke saamgevoeg en kom so tot 22 boeke. As ‘n mens mooi kyk is die 22 dieselfde as die 39 wat ons in die Ou Testament tel. Josefus maak dit vir ons duidelik dat die Ou Testament soos ons hom ken, al eeue voor Christus bestaan het en so erken is. Dit is duidelik dat die Christelike kerk die Ou Testament onmiddelik so erken het. Dit was God se Woord wat in Christus vervul is. Dit is God se Woord waaruit die kerk teenoor Jode en heidene bewys het dat Jesus die Christus is. ‘n Voorbeeld daarvan  hoe beslissend die Ou Testament in die prediking was, vind ons in Handelinge 17. Paulus en Silas kom in Berea en dan lees ons in vers 11 en 12: “En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. En hierdie mense was edelmoediger as die in Tessalonika; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.”  Paulus het vanuit die Skrifte, vanuit die Ou Testament, Christus gepreek en die mense daar het dit gekontroleer. Die Skrifte was hulle norm.

 

Was daar ‘n Sinode van Jamnia?

 

Wat sê ons nou van die sinode van Jamnia? Die bestaan van die sinode van Jamnia is ‘n soort hardnekkige mite. Historiese ondersoek het nog nooit bewys dat daar ‘n sinode van Jamnia was nie. Tussen 70 en 100 n.C. het daar gereeld Skrifgeleerdes saamgekom om allerhande dinge te bespreek sonder dat dit kerklike vergaderings was. Een van die dinge waaroor die Joodse Skrifgeleerdes in die tyd gepraat het was, of die Bybelboeke Hooglied en Prediker, soos die ander Bybelboeke, “die hande verontreinig”? By die lees van hierdie besprekings, kom ‘n mens agter dat daar geen meningsverskil oor die omvang van die Ou-Testament bestaan het nie. Elkeen het Prediker en Hooglied ook as deel van God se Woord aanvaar. Wat was dan die verskil? ‘n Sekere aantal van die Skrifgeleerdes het gesê dat Prediker en Hooglied geen regstreekse woorde van God bevat nie. In hierdie boeke word op ‘n heilige manier van God gepraat. Jou hande sou nie onrein word as jy die letters in daardie boekrolle aanraak terwyl jy dit lees nie. Met die ander boeke sou dit wel die geval wees. Die bedoeling van hierdie reël was om daarvoor te sorg dat mense nie met hulle vingers aan die amptelike boekrolle sou raak nie. So sou hulle beter bewaar word. Die algemene siening was later, dit wat ons in die Misjna lees: “Alle Heilige Skrifte maak die hande onrein, ook Hooglied en Prediker maak die hande onrein.”

 

Gevolgtrekking

 

Die Ou Testament het nie deur ‘n besluit van die kerk tot stand gekom nie. Die Ou Testament was reeds voor Christus se geboorte deur die kerk as God se Woord erken. Die kerk het die Ou Testament uit God se hand ontvang.

 

DIE NUWE TESTAMENT

  Wanneer het die Nuwe Testament ontstaan?

 

Die boeke wat ons in die Nuwe Testament vind is almal voor die jaar 100 geskryf. Dit beteken nie dat die Nuwe Testament toe reeds as boek beskikbaar was nie. Ons moet mooi sien wat die situasie was. Die evangelies en die briewe en ook Handelinge en die Openbaring  is vir sekere persone of sekere gemeentes of groepe geskryf.  Paulus skryf sy briewe vir ‘n sekere gemeente of vir sekere persone soos Titus, Timoteus of Filemon. Lukas skryf sy Evangelie en die boek Handelinge vir een persoon naamlik: Teofilus. Die boek Openbaring is in die eerste plek vir sewe gemeentes geskryf. Sien Openb 1:11. Dit sou ‘n sekere tyd geneem het voordat alle boeke van die Nuwe Testament  aan alle gemeentes bekend was. Dit is nodig om te let op dit wat in die begin van die tweede eeu deur leiers van die Christelike Kerk geskryf is. Die kerk het dadelik die Ou Testament as die Skrifte erken. Sien die vorige artikel. Vanaf 150n.C was daar al aanhalings wat daarop dui dat die Nuwe Testament as ‘n deel van die Skrif erken was. Die Skrif, die Ou en Nuwe Testament, word dan al duidelik as ‘n eenheid erken. Clemens skryf in omtrent 150n.C., nadat hy ‘n reeks aanhalings uit die Ou  Testament gebruik het: “’n Ander Skrifplek sê: Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars.” (sien Mat 9:13; Mark 2:17)  Dieselfde persoon gebruik ook die uitdrukking: “Want die Here sê in die evangelie.”  As Clemens hierdie woorde gebruik, vat hy duidelik bepaalde gedeeltes uit die Evangelies saam. Hy skryf dan: “As julle nie dit wat klein is bewaar nie, wie sal dan vir julle dit wat groot is gee?”  Clemens herinner sy lesers dan aan Lukas 16:10,11; 19:17 en Mat 25:21. Al 15 jaar tevore het Barnabas die volgende geskryf: “Daar is geskryf: “Want baie is geroep, maar min uitverkies.” Sien Mat 22:14. Ons lees in ‘n ander geskrif, die Didache, wat verseker nog ouer as Barnabas se brief is (want Barnabas haal hierdie geskrif in sy brief al aan) die volgende: “Maar soos die Here in Sy evangelie beveel het: So moet julle dan bid.” Dan volg die Onse Vader soos ons dit in Mat 6 lees. Dis duidelik dat reeds in die begin van die tweede eeu die Nuwe Testament  as gesaghebbende eenheid bestaan het. As ‘n mens Melito van Sardes se Paaspreek lees, wat  omtrent 170n.C. dateer,  val dit op dat hy baie aanhalings uit die boeke van die Nuwe Testament gebruik. Dit word nog duideliker dat die Nuwe Testament  toe reeds ‘n eenheid was, wat gesag gehad het, veral as ons sien hoe die kerk op Marcion se siening oor die Bybel gereageer het.

 

Die kerk se reaksie op Marcion se Skrifbeskouing.

 

Marcion se siening was dat die feite wat ons in die Ou Testament lees, korrek is, maar dat dit die openbaring van die God van straf en vergelding was. Die Ou Testament kon volgens hom nie die openbaring van die goeie en liefdevolle God wees nie. Dis die rede hoekom Marcion die Ou Testament heeltemal verwerp het. Die Marcionitiese Bybel was ‘n Bybel sonder die Ou Testament. Marcion se Bybel was selfs dunner as ons Nuwe Testament. Sy siening was dat die Nuwe Testament, soos die kerk dit toe al geken het  deur Joodse smette besoedel was. Dit moes volgens hom uitgesuiwer word. Die resultaat daarvan was dat die Marcionitiese Bybel die volgende boeke bevat het: Lukas en 10 van Paulus se briewe. Selfs die boeke wat hy in sy Bybel opgeneem het,  het  hy nie ongeskonde gelaat nie. Dit wat nog met sy opvattings strydig was, het hy daaruit verwyder. So ontbreek in die Lukasevangelie hoofstuk 1 en 2.

 

Wat was nou die kerk se reaksie op Marcion se sienings? Het die kerk in reaksie op Marcion se samestelling van ‘n bybel, ‘n eie Nuwe Testament saamgestel? Of het die kerk die Bybel soos hy al deur die kerk erken was, verdedig? Dis belangrike vrae, want dit wys ons of die kerk self die Nuwe Testament saamgestel het en of hulle aanvaar en verdedig het dit wat die HERE gegee het. Hoe reageer mense vanuit Christus se kerk op Marcion? Hoe reageer hulle namens die kerk? Hulle reaksie is nie ‘n oproep om nou ook self tot samestelling van ‘n Bybel, of tot samestelling van ‘n Nuwe Testament te kom nie. Hulle reaksie is dat Marcion die Skrif, wat reeds bestaan, vermink en aantas. Tertullianus, wat van 160n.C. tot 220n.C. geleef het, het ‘n hele boek teen Marcion geskryf. Die titel van hierdie boek was: Adversus Marcionem. Hy skryf daarin o.a: “Die verminkte vorm van die ketter se evangelie moet ons al dadelik waarsku dat ons ook Paulus se briewe vermink sal aantref, ook wat hulle aantal betref.” Tertullianus wys in dieselfde boek dat hy nie alleen die Evangelies en Paulus se briewe ken nie, maar ook die ander boeke van die Nuwe Testament en dit saam met die kerk as God se Woord aanvaar. Selfs die boek Openbaring waaroor op ‘n sekere oomblik - deur die misbruik wat dwaalleraars van hierdie boek gemaak het - enige diskussie ontstaan het, erken Tertullianus voluit as ‘n deel van God se openbaring. Hy verwyt Marcion dat hy die boek Openbaring versmaai. Origines, wat van 185 tot 254 geleef het, se aanklag teen Marcion en die Marcionitiese kerke is dat hulle “die evangeliese en apostoliese Skrifte gewysig het.” Die kerk het nie in reaksie op Marcion die Nuwe Testament gaan saamstel en die Ou Testament verdedig nie. Die kerk het teenoor Marcion die Ou en Nuwe Testament as God se bestaande openbaring verdedig. Dit wys daarop dat die Nuwe Testament toe al deur die kerk ontvang en aanvaar was.

 

Gevolgtrekking

 

Die Nuwe Testament het nie deur ‘n besluit van die kerk tot stand gekom nie. Die kerk het die Nuwe Testament uit God se hand ontvang. In die vorige artikel het ons, ten aansien van die Ou Testament, tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Ons mag met volle oortuiging van al die boeke wat ons in die Bybel vind, bely: “Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige gees in ons hart getuig dat hulle van God is.” (Art 5 NGB)  Dis die Heilige Gees wat die 66 Bybelboeke gegee het en die kerk daarvan oortuig het dat dit God se onfeilbare Woord is.  Geen mensewerk nie, maar God se onfeilbare werk. Dit mag en moet ons ook bely ten opsigte van die samestelling van die Bybel.