Daniel 12

29-03-2015 11:44

Opening
Vrede/Seëngroet
Psalm 37:2,3
Lesing van die wet
Psalm 39:3,7
Skriflesing: Handelinge 1:1-8 
Openbaring 22:6-21
Gebed
Kollekte
Psalm 125
Teks: Daniël 12 :5-13
Preek
Psalm 16:1,3
Dankgebed
Psalm 148:1,5
Seën

Broers en susters, soldate in Christus se leër.

God se volk hoor deur die profesie wat Daniël ontvang van baie swaar tye vir God se volk op die pad vorentoe. Die aanval van die duiwel is altyd weer op die hart van Christus se kerk. Hy wil ons daar raak waarvan ons in ons lewe afhanklik is. Die verdrukker probeer sy teenstander altyd daar te raak waar hy hom die meeste seer kan maak.
‘n Voorbeeld daarvan is toe Hitler in Duitsland sy vervolging teen die Jode begin het. Toe vat sy volgelinge ‘n baie talentvolle Joodse klavierspeler. Hy was nog jonk en ‘n groot belofte vir die toekoms. Wat doen hierdie jodehaters? Hulle breek al sy vingers waardeur hierdie man wat nog jonk is nooit meer goed klavier kan speel nie. Hulle het geweet dat dit sy liefde en toekoms was.
So is dit die duiwel wat deur mense altyd weer sy aanval rig op die ware verkondiging van die evangelie. Hy doen dit deur die verstandiges te vervolg. Ons het in hoofstuk 11 gesien dat dit hulle is wat juis vir ander vertel wat die HERE in Sy Woord sê. Hy sal juis die offerdiens in die tempel verhinder omdat dit toe die diens van die versoening was. 
Hy sal totdat die Here Jesus terugkeer probeer om of deur geweld of deur dwaling die ware prediking vir God se volk weg te neem. Hy doen dit ook deur in sekere kerke dit reg te kry dat daar op die preekstoele die een keer die ware evangelie klink en die ander keer die dwaalleer verkondig word. So bring hy mense in verwarring en al hoe meer tot afval. Mense kan nie meer onderskei wat die ware evangelie is nie en begin in hulle lewe ook al hoe meer van die liefdevolle gehoorsaamheid aan die HERE af te val.
Ons lees nou in die laaste verse van die boek Daniël hoe God se volk hulle tot die einde van die geskiedenis van hierdie aarde moet en kan staande hou. 

DIE HERE WYS HOE SY VOLK TOT CHRISTUS SE TERUGKEER IN DIE GELOOF SAL VOLHOU.

1. Hy wys dat aan die vervolging ‘n einde kom (5-7)
2. Hy wys dat dit nie volgens menslike berekenings gebeur nie.
3. Hy wys dat Daniël in vrede kan sterf.

1. Hy wys dat aan die vervolging ‘n einde kom.


Daniël het gehoor dat hy die profesieë wat hy gehoor het baie goed vir die nageslag moet bewaar. Die volgende geslagte moet dit kan lees en hierdie boek mag nie verlore gaan nie maar moet tot die einde gelees word. Baie sal dit doen en daardeur met die nodige kennis toegerus word. 
As Daniël hierdie opdrag van God gehoor het, sien hy weer iets besonders voor sy oë gebeur. Dit is die Man in die linne wat steeds met hom praat. Dit is duidelik dat hierdie Man meer as ‘n mens is. Hy kom uit die hemel. Ons het al eerder gesien dat die mees aanneemlike is dat ons hier aan die Seun moet dink wat nog nie mens geword het nie. Die Engel van die HERE. Nou sien Daniël dat nog twee ander persone wat uit die hemel gekom het by hom is. Hierdie twee staan by die walle van die rivier. Die een aan duskant en die ander aan die ander kant. 
Die Man in die linne staan bo die rivier. Hy styg bo die ander uit. Hy is meer as hulle. Sy staan bo die rivier wys daarop dat Hy ook oor die riviere, ook oor die water op die aarde regeer. Een van die ander twee vra iets vir die Man in die linne. Ook dit maak duidelik dat hy bo die ander twee staan. Hierdie twee engele ken ook die profesieë wat die Man in die linne vir Daniël en God se hele kerk bekendgemaak het. Hulle sien raak hoe swaar hierdie tyd vir die kerk sal wees en vra daarom aan die Man in die linne: “Hoe lank sal die einde van die wonderbaarlijke dinge uitbly? “
Kom ooit aan hierdie moeilike tyd ‘n einde? Die engele vra dit om vir die gelowiges die antwoord te kry. Die HERE self stuur alles so dat ons vandag deur die vraag van die engele en die antwoord van die Man in die linne bemoedig word.
Die antwoord lyk eintlik nie ‘n antwoord nie. Dit lyk asof die antwoord agter raaisels verberg word. Nogtans word dit ook duidelik dat hierdie antwoord baie belangrik is. Dit is die magtige verskyning van die Man in die linne wat die antwoord gee en as hy antwoord gee, hef hy altwee Sy hande na die hemel en hy sweer by die Ewig-Lewende. Die Man in die linne beklemtoon met alles wat Hy kan dat die antwoord wat nou kom die baie belangrike antwoord van die HERE is. Die ophef van die twee hande is die gebaar wat moet duidelik maak dat Hy sweer, dat Hy God in die hemel as Sy getuie aanroep. Dit is hier die Seun wat by die Vader as Sy getuie sweer. Ons sien hier hoe God by Homself sweer. Dit is verseker nie onmoontlik nie want ons lees in Hebr 6:13: “Want toe God aan Abraham die belofte gegee het, het Hy, omdat Hy by geen ander kon sweer nie, by Homself gesweer.” 
Hy sweer by die Ewig-Lewende. Die Man in die linne beklemtoon op hierdie manier dat die HERE altyd daar was en altyd sal bestaan. Hy is die enigste God. Hy staan soos die Man in die linne bo die rivier staan bo die tyd en regeer vir ewig. Hy is die enigste wat ook antwoord kan gee op die vraag: “Hoelank sal die einde van die wonderlike dinge uitbly?”
Dan kom die antwoord: “’n Tyd, tye en ‘n halwe tyd, en as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het, sal al hierdie dinge vervul word.” 
Hierdie antwoord is vir Daniël moeilik om te verstaan en hy sê dit ook vir die Man in die linne. Nogtans mag ons vandag vanuit alles wat later gebeur het en wat die HERE in die Bybel gegee het meer hiervan verstaan. Hier sien ons hoe belangrik hierdie boek vir ons vandag is en ons kennis deur God se verdere openbaring ook meer geword het. 
Daar lê vir ons as God se volk ‘n bemoediging in “die tyd, tye en ‘n halwe tyd” Ons het in een van die preke oor Daniël 7 al gesien dat hierdie 3 en ‘n halwe tyd gelyk staan met die 42 maande, die 3 en ‘n halwe jaar in Openbaring 13. 
Hierdie periode van drie en ‘n half is die helfte van die volmaakte getal 7. Die getal 7 wys daarop dat die doel bereik is. Hierdie ontsettende anti-Christelike mag, hierdie Anti-Chris kom nie verder as die helfte wat hy wil bereik nie. Hy kom nie verder as drie en ‘n half terwyl die HERE deur alles heen Sy Goddelike doel bereik. Christus bly regeer en bewaar Sy kerk in die geskiedenis deur alles heen en eendag regeer die kerk saam met Hom!
Die kerk sal swaar, baie swaar moet ly. Selfs so erg dat God se heilige volk heeltemal verstrooi word. As ‘n mens menslik na die kerk lyk dit asof elke toekoms verdwyn het. Ons kan somtyds ook so voel hoe al hoe meer mense en kerke die pad gaan van kritiek op die Bybel. As ons sien dat ons al hoe meer eensaam word as ons die Bybel in alles as God se onfeilbare Woord aanvaar en dit ook wil doen in dit wat die HERE in Sy Woord oor die ontstaan van die Bybel en die Bybelboeke sê. Die duiwel gaan in die drie en ‘n halwe tyd verseker as ‘n brullende leeu rond. 1 Petrus 5:8. Dikwels kom die duiwel op kousvoete, hy kom in ‘n baie vriendelike verskyning. Hy praat so vroom maar in sy woorde is die dwaal. Hy kom as ‘n engle van die lig en so verstrooi hy God se volk. Ons lees ook in die boek Openbaring van die groot aanval van die duiwel op die kerk. Maar as dit die ergste is, as dit lyk asof die kerk werklik geen toekoms meer het en nie kan bly bestaan gryp die HERE in. Ons lees dit ook in Openb 20 as dit dan gaan om die baie kort tyd voor die Here Jesus se terugkeer: “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel; en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.”
Die oomblik dat dit vir God se kinders te swaar dreig te word, gryp die HERE in, dan kom die Here Jesus terug. Dan gebeur wat die Here Jesus sê van die tyd van groot verdrukking: “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar terwille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.” (Matt 24:22)
Dit is vir ons ‘n groot bemoediging. Ook as ons rondom ons groot afval en intense aanvalle sien, is dit nie nodig om moedeloos te word nie. Ook dan sien jy gebeur wat die HERE geprofeteer het en dan mag jy weet dat die HERE ons vashou en dat Hy ondanks alles Sy kerk, Sy volk die ware toekoms gee. Dit moet ons steeds op die been hou en ons leer om tot die einde vol te hou.
Dan kom die vraag tot wanneer ons moet volhou. Ons let daarop in die tweede punt.

2. Hy wys dat dit nie volgens menslike berekenings gebeur nie.

Daniël verstaan die antwoord van die Man in die linne nie. Dit is vir hom raaiselagtige woorde. Daniël se vraag is: “My heer, wat is die uiteinde van hierdie dinge? “
Die antwoord wat gegee is, is vir Daniël te vaag. Die woord “uiteinde” wys op ‘n konkrete gebeurtenis en op ‘n sekere oomblik in die geskiedenis. Daniël vra om ‘n konkrete datum waarop ‘n einde aan die moeilike tyd vir God se volk kom. Hy wil ‘n antwoord waardeur hy kan reken, waardeur hy presies weet wanneer. 
Hoe belangrik is dit nou om God se antwoord op hierdie vraag raak te sien. Die Man in die linne wys hierdie vraag as ‘n verkeerde vraag af. Hy gee daarop geen antwoord en stuur Daniël weg. “Daniël op hierdie vraag gee ek jou nie antwoord nie. Dit wat jy tot nou toe gehoor het en wat ek vir jou in die profesieë gegee het is genoeg.”
Die genoeg daarvan word in die tweede deel van vers 9 nog beklemtoon. Ons het die vorige keer by vers 4 al gesien dat die woorde verborge en geheim hier nie ‘n gelukkige vertaling is nie. Dit gaan daarom dat dit wat Daniël gehoor het en opgeskryf is, goed gebêre word. Die boekrol waarop dit geskryf staan moet ook elke keer weer goed gesluit, verseël word. Die inhoud van hierdie boek is so belangrik dat dit nie onleesbaar mag word nie en dit mag verseker nie verlore raak nie. 
Dit moet vir Daniël en God se volk duidelik wees dat hulle vir die lewe as God se kinders genoeg moet hê aan God se Woord en dat dit nie nodig is om datums te weet waarop allerhande dinge sal gebeur nie. Hierdie profesieë was vir God se volk toe genoeg. As hulle hierdie profesieë goed bewaar en intensief lees, sal hulle sonder datums te weet sien gebeur wat die HERE gesê het en by Hom hulle houvas en heil bly soek. 
Dit is vandag vir ons nie anders nie. Ons moet genoeg aan God se Woord, aan die Bybel hê. Dit moet vir ons genoeg wees om ons in ons tyd op Christus se terugkeer voor te berei. God se Woord wat ons nie die datum van die Here Jesus se terugkeer gee nie is vir God volk die gids wat by al die ellende wat oor die wêreld kom vir ons wys dat dit tekens is wat ons daaraan herinner: Die Here Jesus kom terug, wees gereed om Hom te kan ontmoet. 
‘n Kort rukkie voordat die Here Jesus van die aarde na die hemel gaan, vra Sy leerlinge vir Hom: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” Die Here Jesus se antwoord is dan: “Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie”. (Hand 1:6,7)
Die Here Jesus gee hier dieselfde antwoord wat Daniël gekry het. Ons lees verskillende kere in die N.T. dat die datum van Jesus se terugkeer nie bereken kan word nie en dat Hy selfs vir die gelowige plotseling, op ‘n oomblik dat hulle dit nie verwag sal kom. Hy kom so plotseling as ‘n dief in die nag. Ons moet leer om in alles die HERE se Woord intensief en met liefde te lees. Dan hoor ons Vader se woorde wat ons leer om steeds as Sy kinders te lewe. Dan is dit die Heilige Gees wat ons deur die hoor en lees van die Woord leer om in die geloof vol te hou en om teen die gees van die tyd in Christus te bly volg. Om te kan onderskei wat Christus se werk is en wat die werk van die Antichris is. 
Dit gaan daarom dat jy en ek volhard tot die einde toe. As die Here Jesus praat van die tyd voor sy terugkeer sê Hy: “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (Matt 24:13)
Hoe kan ‘n mens nou volhou in tye dat verleiding so groot is? Die tyd van die verleiding is ook nie ‘n kort tyd nie. Die Man in die linne sê dat die tyd na die afskaffing van die voortdurende offer en die oprigting van die ontsettende gruwel nog 1290 dae sal wees. Ons moet by die afskaffing van die offer en die oprigting van die gruwel dink aan Antiogus Egifanes se maatreëls waarby die offers tussen 167-164 voor Christus nie meer in die tempel gebring mog word en ‘n beeld van Zeus in die tempel opgerig is. 
Die begin van die periode van 1290 dae begin dus omtrent 380 jaar nadat Daniël hierdie woorde hoor. Dit is baie moeilik om met sekerheid te sê waarom ons hier van 1290 en later 1335 dae lees. Hierdie getalle is ook al baie kere misbruik om die datum van Jesus se terugkeer te bereken. Wie die hele hoofstuk lees, sien raak dat dit nie die bedoeling is nie. Die beste verklaring lyk dat die HERE hier met opset getalle gegee het wat ons nie vir berekeninge kan gebruik nie. Die 1290 wys op ‘n lange periode van swaarkry vir die kerk. Dit is moeilik en as mense dink dat nou ‘n einde aan hierdie periode van swaarkry gekom het, dan moet hulle nog volhard want dan kom nog 45 dae, ‘n kort periode van moeite. Dit lyk daarop dat die 1290 dae die periode vanaf die mees ingrypende maatreëls van Antiogus Epifanus bevat tot die einde van die 1000 jaar waarvan Openbaring 20 praat. Die 45 dae wys dan op die kort tyd dat die duiwel nog losgelaat word. Ook dit is periodes wat ons nie presies wiskundig kan bereken nie. 
Waarom gaan dit nou vir ons? Dat ons besef dat die lewe vir God se volk op aarde nie ‘n maklike lewe is nie. Die vyand gaat met groot mag en verleiding rond. Dit is ook die tyd dat juis deur die vervolging en verleiding die teeenstelling tussen gelowiges en ongelowiges al hoe meer sigbaar word. Dit wys die HERE in vers 10. Hulle wat regtig lief vir die HERE is, wat Sy kinders is en wil wees, sal al hoe meer dat hulle hul reiniging by Christus soek. As die verleiding sterk is, word duidelik wie die HERE in liefde volg. Hulle sal al word hulle om hulle volg van die HERE vir outyds uitgemaak, al beteken dit dat hulle ekonomiese toekoms baie sleg word, al moet hulle met ‘n baie lae plek op die maatskaplike leer tevrede wees, Hom al hoe meer in gehoorsaamheid volg. Hoe meer dit voordelig is om die HERE nie te gehoorsaam nie hoe duideliker dit word wie Hom dien. Hulle begin al hoe meer besef en wys wat die dien van Christus beteken. Hoe eensaam dit hulle ook in die wêreld en ook in die kerklike wêreld maak. Hulle wil net luister na die stem van Christus hulle Verlosser en Koning. Ons lees in die laaste hoofstuk van die Bybel, in Openbaring 22 dan ook dieselfde as in vers 10 as ons daar lees: “Wie onreg doen, laat hy nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word; en laat die heilige nog heiliger word.” 
Wie nie werklik aan Christus, wie nie werklik met sy hart aan die HERE verbind is, sal dit nooit verstaan om werklik heilig vir Hom te lewe nie. Die sal dit nooit in sy lewe verstaan dan die gehoorsaamheid en liefde vir die HERE eerste kom en dat dit verloëning van baie dinge in die wêreld beteken. Die sal dit nie verstaan as hy eie ekonomiese en menslike voordeel moet opgee vanweë die liefde vir God nie. Die verstandiges, hulle wat hulle deur die Heilige Gees laat lei, wat hulle verstand uit God se Woord put verstaan dit. Die verstandiges is hulle wat deur die werk van die Gees in hulle geleer het om nie na hulle eie hart te luister nie. Ons lees daarvan in 1 Kor 2:14: “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasHeid; en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.”
Hoe belangrik is dit om in die tyd tot Christus se terugkeer steeds weer te bid dat die Heilige Gees in jou lewe werk en jou verstandig, wys deur God se Woord maak. Dat Hy vir jou steeds weer die liefde en lus gee om Sy Woorde in liefde te doen en te leer. Wie so leef mag rus in sy lewe hê. Ons sien dit in die derde punt.

3. Hy wys dat Daniël in vrede kan sterf.

Ons het Daniël se lewe gevolg vanaf dat hy 14 jaar oud was. Ons het toe gesien hoe die HERE so in hom gewerk het dat die HERE vir hom alles is en dat hy daarom hom nie aan die voedselvoorskrifte van Nebukadnesar gehou het, hoe gevaarlik dit ooal vir hom was. Daniël het dikwels met sy vriende alleen gestaan omdat die gehoorsaamheid aan die HERE vir hulle die belangrikste was. Die HERE het Sy troue kind en kneg bewaar. Hy is nou omtrent 90 jaar. Die HERE het hom bewaar en steeds weer ‘n plek aan die hof gegee om Sy volk te bewaar, om die pad na die koms van die Verlosser Jesus Christus oop te hou.
Hy het in die profesieë gesien hoe die volk na Kanaan sal terugkeer en dat God se volk tot die tyd van Christus se terugkeer in ‘n moeilike, vyandelike tyd sal lewe. Hy het ook gesien dat God se kinders deur God se krag tot die einde sal volhard. Dat hulle wat vervolg, vermink, verag, gemartel en gedood is om hulle liefde vir die HERE eendag as konings sal regeer. Hoe die vervolgers en verleiers dan hulle definiteiwe straf sal ontvang. Al hierdie dinge het die HERE vir Daniël gewys. 
Dit is waarom Daniël na die einde van sy lewe kan gaan. Die dag van sy sterwe kan nou maar kom. Dan mag hy rus van al sy werk en moeites in diens van Sy God en Vader. As hy sterwe beteken rus. Die rus waarvan ons later in Openb 14:13 lees: “Skryf – salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.”
Daniel mag self nog verder kyk. Al sal hy nou sterwe en nie saam met die volk in die beloofde land terugkeer nie nogtans mag hy by Vader tuiskom. Nogtans mag hy weet dat hy eendag op die groot dag van die oordeel weer met sy liggaam sal opstaan. Dan bereik ook sy lewe die groot en herlike doel, die lewe met God op die nuwe aarde. Dit is sy ewige erfenis. Dit is wat Jesus Christus ook vir hom gaan verdien.
As jy en ek in dieselfde geloof as Daniël staan, as jy Jesus Christus in geloof omhels en volg mag jy weet dat jou lewe en ook jou toekoms pragtig is. Dan is jou erfenis vir jou heerlik. Gaan dan ook na Christus as jou Heiland en Koning. Dan kan en sal die sorge van die wêreld ons nie oorweldig nie. Dan is die toekoms lig en het jy vandag in jou lewe alles wat jy nodig het: jou God en Heiland. 


CHRISTUS SE GEMEENTE Sê OP HIERDIE EVANGELIE:AMEN!