Die HERE is die Skepper

24-07-2015 07:24

Jy vind hieronder ´n kort verklaring van artikel 12 van de Nederlandse Geloofsbelydenis. Die bedoeling is om ook teenoor allerhande ewolusiegedagtes te wys hoe groot die HERE as die Skepper van alle dinge is! 

 

DIE HERE IS DIE SKEPPER

Artikel 12 Nederlandse Geloofsbelydenis

 

Ons mag die ewige, Drieenige God ken. Ons mag Hom as die Skepper van ons lewe ken. Sonder die HERE, sonder Sy werk sou Hy alleen daar wees en niks anders nie. Dit wys vir ons dat die HERE Sy skepping en dus ook ons nie nodig het nie. Dit is nie so dat Hy genoodsaak was om die skepping te maak nie. Hy kan ook sonder Sy skepping, sonder ons bestaan.

Nogtans het die Vader op ‘n sekere oomblik hemel en aarde, die hele skepping gemaak. Dit was in Sy oë goed. Hy het dit op die oomblik gedoen dat  “Hy dit geodgedink het”. Kyk begin art 12. Die inisiatief vir die hele skepping kom van Hom alleen.

 

Net deur openbaring

 

Eendag het iemand vir Luther gevra wat God gedoen het toe die skepping nog nie daar was nie. Luther se antwoord was: “God het stokke in die bos gesny om mense wat te nuuskierig is daarmee te slaan.” Hy het daarmee gewys dat ons nie dinge moet wil weet en  daaroor allerhande teorië ontwikkel  waarvan ons nie werklik iets kan weet nie. Sekere dinge onttrek hulle aan ons oë en ook aan ons menslike ondersoek. So is dit ook met die skepping.

Ons kan naamlik nie deur menslike waarneming weet wat voor of by die skepping gebeur het nie. Geen mens was toe naamlik daarby aanwesig nie. Geen mens het gesien dat en hoe die HERE geskep het nie. Die mens is as laaste deel van God se skepping gemaak. Adam was selfs nie by sy eie skepping betrokke nie. Hy het niks daarvan gesien en geweet nie. Die HERE het die asem in sy neus geblaas en toe het die mens tot lewe gekom. Gen 2:7. Adam het selfs nie gesien hoe Eva later op die sesde dag geskep is nie. Die HERE het toe ‘n diepe slaap oor Adam laat kom. Gen 2:21.

Die enigste manier waarop ons ‘n betroubare beeld van die ontstaan van die aarde het, is deur God se eie openbaring. Die enigste goeie en betroubare beeld daarvan het ons deur wat die HERE self daaroor in Sy Woord laat opskryf het. Hierop wys ook Hebr 11:3: “Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die Woord toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit die sienlike nie.”

 

Die HERE skep uit niks      

 

Ons bely in art 12 dat die HERE  “die hemel en die aarde en alleskepsels uit niks geskep het. Dit wys daarop dat die HERE werklik niks nodig gehad het om alles wat ons nou sien te maak nie.

§  Sy skeppende aktiwiteit is uniek. Hy het geen  materiale nodig om iets te laat ontstaan nie. Die enigste keer dat die HERE iets van dit wat Hy eerder geskep het gebruik, is by die skepping van die mens. Ons moet dan daarop let dat die “stof van die aarde” wat God dan gebruik op geen enkele manier lewe in hom het nie. Dit is dooie materie. Die HERE skep werklik uit niks die mens wat leef. Hy blaas die lewensasem in die mens se neus. Die HERE het terwyl niks daar was nie die hele skepping gemaak.

§  Die HERE wys in die skepping hoe groot van krag Hy is. Niks anders as Sy Woord, as Sy bevel is nodig om dadelik te laat ontstaan nie wat Hy wil hê. Ek noem enkele gedeeltes in God se Woord waar ons dit lees:

Psalm 33:6,9: “Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van Sy mond hulle hele leër. …. Want Hy het gespreek, en dit was; Hy het gebied en dit staan.”

Psalm 148:5: “Dit gaan dan om die hemel, die engele, son, maan, sterre en die lug. Dan  lees ons: “Laat hulle die Naam van die HERE loof; want Hy het bevel gegee – en hulle is geskape.”

Rom 4:17:  Ons lees hier van God se belofte vir Abraham en dan tipeer die Heilige Gees die HERE in hierdie vers op ‘n besondere manier: “Soos geskrywe is: Ek het jou ‘n vader van baie nasies gemaak – voor die aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan.”

Die HERE is die God wat uit niks die lewe skep, wat uit die dood die lewe skep. Hy doen wat geen skepsel kan doen nie.

§  Ons het gesien dat die HERE se skep iets is wat jy nie met mense se skeppende aktiwiteite kan vergelyk nie. Die woord skep wys juis op die afstand en verskil wat tussen God en enige skepsel  bestaan. Die HERE is die Skepper en alles wat en wie verder bestaan is skepsels! Alles en almal buite God het uit niks ontstaan en is nie Goddelik nie! Hoe belangrik is dit om te weet. Veral in ons tyd waarin die gedagte weer populêr is dat eintlik alles en almal in die skepping ‘n deeltjie van God, van die Goddelike is.

Ons sou saam as skepsels God vorm. Die gevolge van hierdie soort gedagtes is dat mense hulle nie aan God onderwerp nie. Hulle meen dat hulle deel van die Goddelike is en daarom vanuit hulleself die waarheid ken. Hulle meen dat dit genoeg is om na die stem van hulle hart of verstand te luister. Dit sou hulle op die regte pad lei. As ‘n mens so dink maak hy homself onaanspreekbaar vir die evangelie. Jy dink dan ook dat jy nie ‘n Verlosser en Betaler vir jou sondes nodig het nie want dit sou genoeg wees om na die Goddelike in jouself te luister. Hierdie gedagtes stry met alles wat ons in God se Woord lees en stry daarom met die werklikheid. Die HERE is die Skepper. Hy is die enigste God.          

 

Die HERE is ‘n God van orde

 

Ons bely in art 12 o.a: “Hy het aan elke skepsel ‘n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien”. Die HERE is ‘n God van orde. Hy is ‘n God van vrede. Kyk  1 Kor 14:33. Dit wys die HERE as Hy in ses dae die aarde vir die mens bewoonbaar maak. Die HERE het  die aardbol  geskep sonder dat daarop toe dadelik lewe moontlik was. Die rede daarvan lees ons in Gen 1:2: “En die aarde was woes en leeg.” Die HERE wat die Skepper is, het die aarde nie geskep om woes en leeg te laat nie. Hy is nie die God wat alles in wanorde wil laat lê nie waardeur lewe nie moontlik is nie. Ons lees in Jes 45:18 dat dit nie die doel van die HERE is nie: “Want so sê die HERE, wat die hemele geskape het – Hy is God! – Wat die aarde geformeer en dit gemaak het – Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word – Ek is die HERE, en daar is geen ander nie.”

Die HERE skep volgens Sy plan wat daarvoor sorg dat alles wat Hy geskep het in vrede met mekaar bestaan. Alles pas by mekaar en so ontstaan ‘n pragtige wêreld waar elke skepsel in vrede met ander leef. So getuig die hele skepping in sy orde en vrede van die HERE se grootheid. Ons mag so in elke onderdeel van God se skepping Sy heerlikheid sien. God het naamlik elke skepsel ‘n eie wese, gestalte en voorkoms en verskeie take gegee.

 

Die skepping in diens van die mens

 

Toe die HERE na ses dae na Sy skepping kyk, funksioneer die hele skepping as ‘n pragtige eenheid. Daar is orde, ware vrede tussen alle skepsels. Een van die sake wat opval is dat al die skepsel daar is om in diens van die een skepsel: die mens, te staan. Die hele skepping erken die mens as die koning wat bo hulle staan. Ons sien dit op ‘n pragtige manier in Genesis 2. Die HERE bring dan al die soorte diere wat Hy geskep het na die mens. Die mens kry die opdrag om al die diere name te gee. Dit wys hoe die mens ‘n posisie bo die diere gekry het. Die mens kry die bevoegdheid om hulle name te gee en volgens die naam sal hulle genoem word. Gen 2:19. Dit was nie net die diere wat geskep is om naby die mens te leef wat gekom het nie. Ook die wilde diere het gekom. Al die diere stel hulle onder die mens. Hulle wys dat hulle aan die mens diensbaar wil wees. Hulle voeg hulle in God se skeppingsorde.

 

Die ellende van die sondeval

 

Ons het deur die sondeval hierdie pragtige orde van God deurbreek. Ons sien dit elke keer weer raak as ons lees dat ‘n dier ‘n mens aanval, beseer of selfs doodmaak. Ons lees hoe mense deur seekoeie, olifante of selfs kinders deur honde doodgemaak word. Dit behoort nie by God se goeie skepping nie. Die sonde wat ons in die wêreld gehaal het, is die oorsaak van die verbreking van God se vrede in die skepping. Ons is daarvan die skuld dat die skepping onder hierdie ellende sug. Die skepping kyk self met groot verlange na die herstel van God se vrede in die skepping uit. Ons lees dit in Rom 8 so: “Want die skepping wag met reikhalsend verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Wat die skepping is aan die nietigheid onderworpe – nie gewillig nie, maar terwille van hom wat dit onderwerp het – in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Want ons  weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.” Rom 8:19-22

 

Die heerlike herstel van God se skepping

 

Die herstel, die heerlike orde en vrede van God in die skepping kom net weer deur Christus ons Verlosser terug. Hy het dit met Sy lewe en lyding in ons plek verdien. Hy het ook terwyl Hy op aarde was, gewys dat Sy oorwinning op die sonde en die Satan hierdie heerlike vrede weer herstel. Ook die vrede met die wilde diere. Die lewe sonder angs vir hulle. Ons lees naamlik in Markus 1 nadat die Here Jesus die versoekings van die Satan deurstaan het: “En Hy was daar in die woestyn, veertig dar lank, terwl Hy deur die Satan versoek is; en Hy was saam met die wilde diere, en die engele het Hom gedien.” Vs 13

Die HERE het ook vir Sy volk wat op die sondige wêreld leef die heerlike belofte gegee dat hierdie skeppingsvrede op die nuwe aarde weer herstel sal word. Ons lees dit o.a. in Jesaja 11:6-9: “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ‘n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ‘n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”

Hoe heerlik is dit as op hierdie manier God se vrede weer oor die hele skepping heers en almal op hulle plek in die skepping die HERE dien.