Geskiedenis van die hemel

23-06-2014 15:36

 

IETS OOR DIE GESKIEDENIS VAN DIE HEMEL

 

DIE SKEPPING VAN DIE HEMEL

 

Ons  dink dikwels dat daar 'n groot verskil tussen die hemel en die aarde is.  Dat die hemel die plek is waar alles goed is  en  waar die sonde nooit gekom het nie.  Waar die sonde nooit 'n invloed uitgeoefen het nie. Ons sal egter merk dat  dit  nie  so is nie,  want ook in die hemel het die mag van die sonde homself bewys.  Ook in die hemel het die satan sy stem  laat hoor.  

Dit is belangrik om die verhouding tussen hemel en aarde in die geloof raak te sien.  Daarby is o.a. die eerste vers in die Bybel, Genesis 1:1, van groot belang.

   

Die hemel het 'n begin

 

Dit  is 'n magtige woord waarmee die Bybel begin.  'n Woord wat  God se krag en goddelikheid so duidelik wys.  God maak alles,   wat  jy  rondom jou sien en selfs alles wat jy nie sien nie.  Ons moet nie verby die eerste woorde van die Bybel lees nie, want hulle is van groot belang.

Die  Bybel begin met die woorde:  " In die begin".  Hierdie woorde wys dat dit God was wat die begin van die hele skepping  bepaal  het.   Die heelal,  die skepping was daar nie altyd  nie.  Hemel en aarde het 'n begin wat aanwysbaar is.

Die ewige God wat sonder begin en sonder einde is het hierdie begin gemaak.  Dit is vir ons ongebryplik dat die HERE sonder begin en einde is. Ons kan ons dit nie voorstel nie.  Slegs deur  die  geloof leer jy om dit raak te sien,  leer jy om met eerbied oor  die ewige God,  wat die Skepper van hemel en aarde is,  te praat. Soos Moses dit in Psalm 90 doen:

" Here, U  was vir ons 'n toevlug van geslag tot geslag. Voordat  die  berge gebore was en U die aarde en die wereld voortgebring het,  ja, van ewigheid tot ewigheid is U God." (vers 1,2)

Jy  kan  ook  sê dat die Seun van God hemel en aarde gemaak  het.  Want met Genesis 1 in gedagte lees ons in Johannes 1: "In  die begin was die Woord,  en die Woord was by God,  en die Woord was God.  Hy was in die begin by God.  Alle dinge  het  deur  Hom  ontstaan,   en  sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie." (vers 1-3)

Hier  gaan het oor die Seun van God.  Dit blyk duidelik uit wat ons in vers 14 lees:  "En die Woord het vlees geword en het  onder  ons gewoon - en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n  heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader

kom - vol van genade en waarheid.”

        

Hoe het God die hemel in die begin gemaak?

        

Ons antwoord op hierdie vraag moet wees:  deur Sy Woord.  Hy het  gespreek en dit was. Maar daaroor nou nie verder nie.  Die vraag waarop ek nou antwoord wil gee is wat is die resultaat van God se skeppingswerk. Die antwoord vind ons op die grens van Genesis 1 en 2.  As  ons  in Genesis 1 gelees het dat God hemel en aarde gemaak  het  en  daarna hoe die HERE aarde in ses dae ingerig het,  lees ons:  "Toe sien God alles wat Hy gemaak het,  en dit  was  baie goed.  En dit was aand en dit was m“re,  die sesde dag. So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag." Gen 1:31-2:1

Net  soos in Gen 1:1 gaan dit in hierdie gedeelte van Genesis oor die hemel as God se paleis. In teënstelling met wat ons in Gen 1:6 lees.  Daar gaan dit oor die lug wat ons kan sien.  Die lug as deel van die aarde. In Genesis 1:1 en 2:1   word  die  hemel bedoel soos ons in Psalm 115:15,16 daaroor  lees:   "Julle  is geseënd deur die HERE wat hemel en aarde gemaak  het.   Die hemele is hemele vir die HERE,  maar die aarde het Hy aan die mense kinders gegee."

Die  hemel is goed,  baie goed geskep.  Vanaf die begin het God Sy woonplek, die hemel, goed gemaak.

         

Wanneer is die hemel gemaak?        

 

Dit  lyk na 'n maklike vraag.  Want die aarde is tog in die begin gemaak! Dit is reg. Maar tog kan ons hiervan meer sê. Wat is die antwoord op hierdie vraag  as ons die skepping van die hemel met die skepping van die aarde vergelyk?

Was  die  hemel  of die aarde eerste gemaak en bewoon?  Die hemel eers geskep is. Dit maak  die Gees ons in die boek Job  duidelik.  Ons lees daar dat die hemel al inwoners  het  as die HERE nog aan die aarde werk.  Dit blyk as

die HERE vir Job praat. Die HERE praat met Job en sê dat Sy  wysheid  bo enige menslike wysheid uitstyg.  Die HERE sê dan in hoofstuk 38 o.a.:  "Waar was jy toe Ek die aarde gegrond  het? Gee te kenne as jy insig het. Wie het sy afmetinge bepaal?  - Jy weet dit mos!  Of wie het daaroor die meetsnoer gespan!" (vers 4,5)

En daarop volg: "Waar  is  sy  fondamentklippe  op ingesink?  Of wie het sy

hoeksteen gele? Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het?"(vers 6,7)

Terwyl  die  HERE  besig was met wat ons in Gen 1:3-31 lees, het  die  seuns van God daarna gekyk.  Hulle is die engele. Vol  bewondering het hulle gesien hoe God die aarde vir bewoning  gereedmaak.   Die engele in die hemel het hulle

bewondering met gejubel en gejuig geuiter.  Hoe wonderlik is onse God.  Die hemel gee God die eer as Hy in Sy almag die aarde skep.

         

Onderskeid tussen hemel en aarde

         

Die HERE het die hemel en die aarde gemaak. Hy het hulle so geskep  dat daar vanaf die begin onderskeid tussen hemel en aarde is.  Dink maar weer terug aan die teks uit Psalm 115: "Die  hemele  is hemel vir die HERE,  maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee."(vers 16)

Die HERE wys hierdie onderskeid. Die hemel is Sy paleis. Hy is die groot Koning wat daar woon.  Daar woon Hy in besondere sin, maar Sy heerlikheid is groter  as wat ons in die hemel kan sien.  Die HERE styg bo  Sy  eie  skepping  uit.  Selfs die hemel is te klein om Hom  volkome te bevat. Koning Salomo het dit by die inwyding van  die  tempel  so onder  woorde  gebring:  "Maar sou God werklik op die aarde woon?  Kyk die hemel,   ja,  die hoogste hemel kan U nie bevat nie,  hoeveel  minder hierdie huis wat ek gebou het." (1 Kon 8:27)

Ons sien op  die  aarde die glans van God se heerlikheid in dit wat Hy in 6 dae geskep het. Veral in die mens wat Hy na  Sy  beeld  gemaak  het.  Die mens wat as God se onderkoning  geskep is en wat God op die aarde verteenwoordig,  Sy glans uitstraal.

Vanaf  die begin is daar 'n duidelike onderskeid tussen hemel  en aarde.  'n Onderskeid en 'n afstand wat volgens God se  plan  eendag  sal verdwyn.  Die vereniging van hemel en  aarde,   soos ons daarvan lees in Openbaring 21,  is in Gen 1:1 al God se doel.

Uit  dit  wat ons in Gen 1:1 en  wat verder in die Bybel staan, is dit duidelik dat die onderskeid tussen hemel  en  aarde nie 'n skeiding is nie.  Want vanaf die staanspoor het hemel  en aarde hulle eenheid in die Skepper,  die Almagtige

God, gevind.

         

Eenheid van hemel en aarde

         

Ons  is  soms  geneig om die hemel en aarde in teënstelling   met mekaar te sien. Veral omdat ons van die gevolge van die  sondeval  weet  en met die sondeval rekening hou.  Die mens het deur die sonde die vloek oor die aarde gebring.  Selfs so  dat  ook  die  natuur na Christus se terugkoms uitsien.  Ons lees daarvan in Romeine 8: "Want  die  skepping  wag  met reikhalsende verlange op die

openbaarmaking van die kinders van God. Want  die  skepping  is aan die nietigheid onderworpe - nie  gewillig nie, maar terwille van hom wat dit onderwerp het -  in  die  hoop  dat ook die skepping self vrygemaak sal word

van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die kinders van God.

Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe." (vers 19-22)

Die hemel en aarde moet saam van God se mag en grootheid getuig.  Saam moet hulle van God se skoonheid en volmaaktheid getuig. As ons vandag oor hemel en aarde praat, moet ons met hierdie dinge rekening hou.

Ons  mag as God se kinders die aarde nie minag nie.  Dit is nie  'n  minderwaardig woonplek nie,  want ook die aarde is deur  die  HERE geskep.  Die vraag of jy as kind van God na  die lewe in die hemel mag verlang, kan egter wel opkom.

Ons mag daarna verlang maar nie omdat ons die lewe op aarde  minag nie.  Ons verlange na die lewe in die hemel of na  die  nuwe  hemel  en  aarde is goed as ons na 'n wêreld verlang  waar die sonde en die gevolge daarvan verdwyn het.

Die  sonde is dit wat die aarde bederf het.  Die sonde wat ons eie  lewe bederf het. Ons moet leer om na 'n lewe by die HERE te verlang. Omdat ons die gebrokenheid op hierdie aarde, juis as kinders van God,  so pynlik voel.  Omdat ons deur God se genade  leer dat 'n lewe sonder sonde soveel beter is.  Dit    beantwoord  aan  die  doel waarmee God ons geskep het.  Omdat jy dan sonder twyfel,  sonder aanvegting  met  volle  oortuiging die Skepper kan en sal loof.  Steeds  weer!

Soos  die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge dit doen in Openbaring 4:11:  "U is waardig, o Here, om te ontvang die  heerlikheid  en die eer en die krag,  want U het alles geskape en deur U wil bestaan hulle en is hulle geskape."

Die eenheid van God se werk behoed ons vir 'n ongesonde hemelverlange.   Die HERE het ons op hierdie aarde geplaas en ons na Sy wil gemaak. Ons opdrag op hierdie aarde bly: Wees  beeld van jou Skepper. Ons mag op hierdie aarde wat 'n toekoms het,  leef.  Die aarde wat eendag weer in God se heerlikheid sal skitter en waar die HERE onder Sy volk sal woon soos  nog  nooit  tevore nie.  Ons verlange sal veral gerig moet  wees op die  aarde wat vernuwe word..  Op die aarde waar die  eenheid van God se skepping nog grootser sal skitter as in Gen 1:1.  Ons moet daarvoor sorg dat ons hierdie uitsig nooit verloor  nie.  Laat ons met hart en siel glo wat ons in Sondag 9 van  die Heiderbergse Kategismus bely:  "dat die ewige Vader van  ons  Here Jesus Christus,  wat die Hemel en aarde met alles  wat daarin is, uit niks geskep het en deur Sy ewige raad en  voorsienigheid nog onderhou en regeer, terwille van Sy Seun  Christus my God en Vader is."

Dink jouself eers in dat die God jou God en Vader wil wees.  Hy,   die  Skepper van hemel en aarde sorg daarvoor dat die  gelowiges 'n plek op die nuwe hemel en aarde ontvang.  Daar  waar die onderskeid tussen hemel en aarde,  na God se plan,

verdwyn het.

       

DIE SONDEVAL IN DIE HEMEL

         

Voordat  die revolusie teen die HERE op aarde losbars,  het  dit in die hemel gebeur. Twee tekste in die Nuwe-Testament,  naamlik  in 2 Petrus 2:4 en Judas 6,  vertel ons dit duidelik.

Wat lees ons in hierdie tekste?

2 Petrus 2:4: "Want  as God die engele wat gesondig het,  nie gespaar het  nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het,om vir die oordeel in bewaring gehou te word."

Judas 6: "En  die  engele  wat  hul eie beginsel nie bewaar het nie,  maar hul eie woning verlaat het, het hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;"

         

In watter omstandighede het hierdie sondeval plaasgevind?

         

Alles  was  goed.  Dit het vir die engele  groot heerlikheid  beteken.   Hulle het in die hemel geleef en gewoon, in die  hemel  waar  God  se heerlikheid duideliker as  iewers anders  gesien  word.   Die engele is God se knegte.  Hulle mag dit  elke dag weer wees.  As knegte wat met die Skepper verbonde is, het hulle dit baie goed en sal hulle dit as kneg nêrens  beter  hê nie.  Dit het vir enige engel gegeld wat ook al hy vir die HERE moet doen.

In  die  engelewêreld is daar ook 'n rangorde.  Sommige is leiers en ander ondergeskiktes. Sonder dat hierdie rangorde  deur  dwang of sonde gestempel word.  Ons ken van  die  engele  wat leiding gee:  Migaël en Gabriël.  Die duiwel was voor die sondeval   'n vooraanstaande  engel.  Voor die sondeval was ook vir die engele alles baie goed. Toe  was  daar niks in God se skepping wat aanleiding gegee  het tot sonde of  daartoe kon verlei nie.

         

Die kenmerkende van die engele se val

         

Ons lees in Judas 6 van engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie.  Wat moet ons ons by hierdie woorde voorstel?  Ons mag daaroor nie spekuleer en fantaseer nie. Nogtans   beteken dit  nie  dat  ons niks kan sê nie.  Die woorde uit Judas 6 en 2 Petrus 2:4 vertel ons genoeg om die kern van die engele se sondeval te begryp.  Die  kern is dat sekere engele op 'n bepaalde moment hul eie beginsel nie bewaar het nie. Wat is nou hul eie beginsel? Hul   eie beginsel is dat  die HERE hulle gemaak het om Hom te dien en te eer.  Die HERE het die engele nie gemaak met die  bedoeling dat hulle met hul mag en heerlikheid kan doen wat  hulle  self  wil  nie.   Die  HERE het die engele gemaak as  knegte  wat  hul  mag  en  heerlikheid in diens aan Hom moet  ontplooi.   Daarby  behoort  ook dat die engele  in  diens  van die mens werk wat God na Sy beeld en gelykenis gemaak  het. Dit lees ons o.a. in Hebreërs 1:14:

"Is  hulle  (die engele)  nie almal dienende geeste wat vir diens  uitgestuur  word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?"

Die Here Jesus sê in Matteus 18:10:"Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want  Ek  sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is."

Net as knegte van die HERE,  wat deur die HERE se bevel ook die  mense  moet dien,  kan die engele goeie engele wees en bly.  Maar  op 'n sekere oomblik wil 'n deel van die engele onder  leiding van die duiwel nie meer knegte wees nie. Hulle voel  dat  hulle  te goed en te verhewe is om altyd God se knegte  te  bly.   Hulle wil nie aan God se bevele gebind wees nie.   Hulle dink dat hulle hul eie vryheid kan verower. Hulle wil  bo  die  Skepper  van  die hemel en aarde kom staan.  Met  hierdie revolusie in die hemel, het die eerste sonde in God  se skepping plaasgevind. In 2 Petrus 2:4 lees ons mos:

"Want  as  God  die  engele wat gesondig het nie gespaar het nie."

         

Die raaisel en die erns van hierdie sondeval

         

Die  sondeval  in  die  hemel  is vir ons 'n onverklaarbare raaisel.  Hoe kan dit gebeur dat jy, as goed geskape engel, wat dit baie goed by die HERE het!, jou teen die HERE begin versit?!

Hoe  is  dit moontlik dat jy 'n rewolusie ontketen teen Hom  wat jy in 6 dae die aarde sien skep het?  Die aarde wat die  HERE  baie  goed  gemaak  het.  Niks in God se skepping was  verkeerd  nie  en  daar was niks in Sy skepping wat tot die

verkeerde,   tot die sonde verlei nie.  Nogtans is daar 'n deel  van die engele wat vir 'n lewe los van die HERE kies. Hulle  kies vir 'n lewe teen die HERE.  Jy sien pas hoe erg dit is  as  jy  besef dat alles tot die oomblik van die sondeval in  die  hemel goed was.  Daar is geen enkele aanleiding,  geen  enkele oorsaak om tot hierdie daad van opstandigheid oor te  gaan nie. Dit gebeur nogtans.

In  die geskiedenis is dit 'n baie groot dwaasheid.  En wel  'n dwaasheid wat in die hemel plaasgevind het. 'n Dwaasheid wat sy ellendige uitwerking op die aarde gehad het, deurdat die satan na die sondeval in die hemel geprobeer het om die

mens te verlei. Die mens wat hy eintlik moet dien. Die ontroue kneg van die HERE,  die duiwel,  probeer om die kind  van  God,   die  mens,  in sy opstand teen God saam te sleep. Ons ken die vreeslike gevolg daarvan. Dit is dat die

mense,  wat alle moontlikhede van God gekry het om Hom  te  dien,   so  dwaas  was om op die pad van die opstandige engel te gaan.  Ons het die gemeenskap met die engele,  wat hul eie beginsel nie bewaar het nie,  gesoek.  Daardeur het ons  ook  ontrou geword.  Omdat ons as mense nie van God as ons  Vader afhanklik wil bly nie.  Ons wou nie kind van God die Vader bly nie.

         

Die woonplek van die gevalle engele

         

Die  gevalle  engele het in ellendige omstandighede beland. Hulle  moes hul heerlike woonplek,  die hemel,  vir 'n plek vol ellende verruil. Dit lees ons in Judas 6 as daar staan:"maar hul eie woning verlaat het".  In hierdie woning , God

se paleis,  het hulle niks meer te soek nie.  Hulle het God se teenstanders geword.

Dit  het  so  geword dat die gevalle engele vanuit 'n ander plek  werk.  Ons moet nie aan die aarde dink nie,  want toe die  sondeval in die hemel plaasgevind het was alles op die aarde nog baie goed. Die gevalle engele werk nou vanuit die

hel.   Al die duistere magte van die sonde kom daar saam. Die hel is soos die hemel ‘n plek.

 

'n Woonplek wat onder God se beheer staan

         

Die hel as woonplek van die gevalle engele is nie buite God se beheer nie. Dit lees ons ook in Judas 6: "En die engele  ....   het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar."

Die  HERE  het ook in die hel die gevalle engele in Sy mag. Hulle kan God nie ontvlug nie. Geen skepsel kan God ontvlug  nie.   Ook  vir die duiwel en sy volgelinge geld wat ons in Psalm 139 oor die mens lees:

"Waar  sou  ek  heengaan  van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?  Klim ek op na die hemel,  U is daar;  en maak ek  die doderyk my bed, kyk U is daar!   En  as  ek sê:  Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, dan is selfs die duisternis vir  U  nie  donker  nie,  en die nag gee lig soos die dag,  duisternis is soos die lig." (vers 7,8,11,12)

God  hou  die opstandige engele in alle omstandighede onder Sy  beheer.   God  se beheer beteken dat Hy die duiwels met ewige  boeie  onder die duisternis bewaar.  Hulle kan nooit  ontsnap nie.  Hulle word in die hel met ewige boeie geboei.  In hierdie gevangenskap het die gevalle engele nog 'n sekere  vryheid.  So kon die duiwel voor Christus se hemelvaart  nog  in  die  hemel  kom.   Maar  dit bly 'n vryheid in gevangeskap.  Sonder dat God dit toelaat, kan hulle geen voet  versit nie. Hulle bly gevangenes wat nooit kan ontsnap nie.  Die HERE trek hulle altyd weer na die hel terug.

 

'n Woonplek vir engele en mense

         

Die  hel  is  nie net  'n tronk vir engele wat gesondig het nie.   Dit is ook die plek waar mense wat hulle lewe nie op Christus  gebou het nie, teregkom.

As  ons  daaroor nadink ontdek ons 'n opvallende verskil in  God  se  omgang met engele en mense.  God het vir sondige mense  Sy  Seun  gestuur.  Hy het dit gedoen om Sy uitverkore  kinders  van die ewige straf te red.  Die HERE doen dit nie  vir die engele wat gesondig het nie.  In Hebreërs 2:16 lees  ons  naamlik:   "Want waarlik,  Hy bekommer Hom nie oor die  engele  nie,   maar  oor die geslag van Abraham bekommer Hy  Hom."

Die  gevalle  engele  asook die mense wat hulle lewe nie by  Christus  as  die Verlosser gesoek het nie kom in die tronk  wat  hel  genoem word.  Die HERE bring daar engele en mense  saam. Dit gebeur omdat dit vanaf die begin God se bedoeling  was dat engele en mense saam sal leef.  God se doel was vanaf  die begin dat engele en mense saam heerlik in Sy skepping sou leef. Eendag naby mekaar as hemel en aarde een geword het.

Die HERE hou aan Sy eie skeppingswet vas. Ook as dit om die  hel  gaan.   Dit bring gevalle engele en mense wat in hulle  sonde volhard saam in die hel.

         

Die karakter van die hel voor Christus se terugkeer

         

In  die  tyd voor Christus se terugkeer is die hel 'n tronk waar  die laaste oordeel afgewag word.  Oor hierdie oordeel gaan dit as ons in Judas 6 lees:  "En die engele ... het Hy vir die oordeel van die grote dag ... bewaar."

By hierdie oordeel gaan dit nie oor die hel soos die nou is  nie.   Die  oordeel  wat  hier  bedoel word is  soos 'n voorarres. Die definitiewe straf moet nog kom.

Wie  vandag  in die hel is,  weet dat die definitiewe straf  nog  sal kom.  Wie as gelowige gesterf het,  weet vandag in die hemel dat die  volle  heerlikheid in die toekoms sy deel sal wees.

 

Die karakter van die hel na Christus se terugkeer

         

Na  Christus  se  terugkeer sal alles tot volle ontplooiing kom.  Sowel die hemel as die aarde. Ook die hel sal dan tot sy volle ontplooiing kom.  Dan is die hel nie meer die plek van  voorlopige  gevangenskap nie.  Dan is die hel nie meer   die  plek vanwaar die duiwels nog op die aarde kan kom nie. Die  hel het dan die plek geword waaruit hulle nie meer kan  kom nie.

Dan  is die hel meer as 'n tronk waar hulle tot die tyd van die definitiewe oordeel bewaar word. Die  hel het dan geword die plek van vuur en swawel waarvan  ons in Openbaring 20:10 lees. Die hel is dan die plek waar God se straf in alle hewigheid ondergaan word.  Dit is die plek waarheen  Christus die gevalle engele en die ongelowiges by die  laaste  oordeel  verwys.  Oor hierdie plek gaan dit as  Christus  in  Mattheus 25 vir die mense wat oor Hom gepraat  het  maar nie regtig as christene geleef het nie sê:  "Gaan  weg van My,  julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei  is vir die duiwel en sy engele." (vers 41)

         

         

         

SATAN SE AANWESIGHEID IN DIE HEMEL

         

Ons het gesien dat  die  duiwel en die engele wat hom volg nie meer in die

hemel  kan  bly  woon nie.  Maar tog kon die duiwel nog vir lank in die hemel kom.

Die voorbeeld in die geskiedenis van Job is duidelik.  God se Woord wys ons wat in die hemel,  wat in God se troonsaal gebeur.   In Job 1 lees ons naamlik:  "En op 'n dag toe die seuns  van God (dit is engele R.V)  kom om hulle voor die  HERE te stel,  het die Satan ook onder hulle gekom. Toe vra  die HERE vir die Satan:  Waar kom jy vandaan?  En die Satan antwoord die HERE en sê: Van 'n swerftog oor die aarde, wat  ek deurkruis het." (vers 6,7)

Ook  in Sagaria 3 sien ons die Satan in die hemel.  Ons vind  hom  op die plek waar hy nie in gehoorsaamheid aan die HERE  wil leef nie.

 

Iets oor die naam satan

         

As  die  Bybel oor die werk van die Bose in die hemel praat,  is  veral  die naam satan opvallend.  So word die duiwel in Job 1 en 2, in Sagaria 3 en Openbaring 12 genoem.

Die woord 'satan' is 'n Hebreeuse woord wat teenstander beteken.  Vir ons is die woord satan baie opvallend omdat ons by hierdie woord dadelik aan 'n naam dink.  Die woord satan het  in  die loop van die openbaringsgeskiedenis ook al hoe

meer so'n klank gekry.

In  die  Ou-Testament  was  die  woord satan 'n  gewone  woord. Want elkeen wat as 'n teenstander optree word 'n satan  genoem.   Satan-wees  kan selfs 'n opdrag van die HERE  wees.

Dit kan selfs 'n aksie aandui wat God se koninkryk bou.  'n Voorbeeld  hiervan is Bileam as hy na koning Balak op pad is. Plotseling verskyn die Engel van die HERE en Hy hou Bileam en sy esel met 'n ontblote swaard in sy hand teë.  Ons

lees  daarvan in Numeri 22:22:  "Maar die toorn van die God het ontvlam,  omdat hy weggetrek het;  en die Engel van die HERE  het  gaan  staan  in die pad as sy teëparty".  In die Hebreeus staan vir teëparty, teenstander: as sy satan.

As  daar  in  die  Bybel oor die Satan wat in die hemel kom, gepraat  word,  wys die Heilige Gees ons op die persoon wat  een en al teenstand teen God se Seun,  die Engel  van die HERE,  is. Omdat hy God se groot teenstander is het

hy  die naam Satan in die mees negatiewe betekenis verdien.  Daarom  word  hy die draer van die naam Satan.  Christus noem hom in die Nuwe-Testament met hierdie naam.

         

Satan beskuldig in die hemel

 

Die Christus wat aan die kom is, staan in  die  hemel   teenoor die Satan.   Die  Christus  wat aan die kom is, is die satan van  elkeen  wat  in opstand teen die HERE kom.  Hy is die satan van elkeen wat God se werk aanval.

Ons sien in  Sagaria  3  dat die Seun van God en die Satan ook  teenoor  mekaar  staan.   Die Satan kom in   die  hemel  met  beskuldigings  teen  die  hoëpriester  Josua.  Satan wil met hierdie   aanklagte wil  God se werk op aarde vernietig.  Hy

wil  sorg  dat  die HERE  Sy volk sal verstoot sodat God se Seun nooit mens sal word nie.  Sodat die beloofde Verlosser  Sy werk nooit kan doen nie.

Die Satan het op hierdie manier  tot die tyd van Christus se hemelvaart  gewerk.   Hy  het  geprobeer  om  die  koms van  Christus te keer . Toe God se Seun tog mens geword het, het  hy  geprobeer om die Here Jesus so ver te kry dat Hy met Sy  werk as Middelaar  ophou. Hy het ook geprobeer om soveel   moontlik mense uit die hemel en van die nuwe aarde en hemel weg te hou. Een van die wapens wat die Satan daarby gebruik  het,  is dat hy die gelowiges aangekla het.  Hy het hulle in  die  hemel  aangekla.  Selfs so dat ons in Openbaring 12:10

lees:  "Toe hoor ek 'n groot stem in die hemel sê:  Nou het  die  heil en die krag en die koningskap die eiedom van onse  God geword,  en die mag van sy Christus;  want die aanklaer van ons broeders is neergewerp,  hy wat hulle aanklaag voor onse God,  dag en nag." Die stem van Satan het tot Christus  se hemelvaart steeds in die hemel geklink.  Want dag en nag het hy daar gelowiges aangekla. Die Satan was al die tyd  'n opvallende smet in die hemel.

         

Het hierdie klagte tot veroordeling gelei?

         

Die  ergste  is dat dit lyk asof die satan met sy aanklagte reg  is.  So lyk dit ook in Sagaria 3.  In hierdie hoofstuk lyk dit selfs asof die duiwel vir God se reg opkom. Die reg  van God dat die sonde gestraf moet word.

Dit  is nie 'n leuen as die Satan sondes by die hoëpriester  Josua  aanwys  nie.  Ons lees dat Josua se klere vuil klere is. Sy klere is besoedel. Dit beteken dat Josua teenoor die HERE skuldig staan.

Maar  tog  bereik  die Satan nie sy doel nie.  Dit sien ons duidelik in die heftige en skerp reaksie van die Engel van die  HERE.   Want  die Engel van die HERE sê:  "Mag die HERE jou  bestraf,  o Satan!  Ja, mag die HERE, wat Jerusalem verkies

het,  jou bestraf!" (vers 2)  Die Christus wat aan die kom is,  wys hier  die  diepste  grond vir Sy werk van verlossing aan.  Dit is God se verkiesing.

Dit  is wat ons God se ewige plan,  Sy ewige welbehae noem.  "Ja,  mag die HERE wat Jerusalem verkies het, jou bestraf!"  Die  diepste  grond vir God se genadige omgang met Sy volk,  lê nie in die goedheid van die volk nie.  Die diepste grond vir God se genadige omgang met die hoëpriester Josua lê nie

in Josua se voorbeeldige lewe nie.

Die HERE  wys dit baie duidelik net voor die verowering van Kanaan deur Sy volk:  "As die HERE jou God  hulle  (die  inwoners  van Kanaan R.V)  voor jou uitjaag,  moet dan nie in jou hart spreek en sê:  Die HERE het my ter  wille  van my geregtigheid ingebring om hierdie land in besit  te neem nie;  want weens die goddeloosheid van hierdie  nasies  verdryf die HERE hulle voor jou uit.  Nie ter wille  van  jou geregtigheid en die opregtheid van jou hart kom jy

in om hulle land in besit te neem nie,  maar weens die goddeloosheid van hierdie nasies verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit, en om die woord te vervul wat die HERE vir  jou vaders,  Abraham,  Isak en Jakob, gesweer het. Weet dan

dat die HERE jou God nie ter wille van jou geregtigheid jou  hierdie goeie land gee om dit in besit te neem nie, want jy is  'n hardnekkige volk." (Deuteronomium 9:  4-6)  Die HERE  het  vir  Homself  in  Sy heiligheid redes om Sy uitverkore

kinders te red, vir ewig te verlos.  Die HERE wys op  hierdie  onpeilbare liefdevolle verkiesing ook in Sag 1:17 en 2:12. Op hierdie genadige verkiesing

loop die aanklagte van die Satan in die hemel dood. Die HERE  swig  nie  voor  die Satan nie.  Nooit nie!  Vir God se  kinders kom sekerlik vryspraak. Ons sien hierdie wonder ook in Sagaria 3 gebeur.

         

Die Satan kan die verlossing nie keer nie

          

Ons sien in  die hemel sien die wonder van God se genade gebeur. Want  wat  doen Christus daar?  Hy gee 'n bevel wat wys dat  Satan met sy aanklag nie die laaste woord het nie. Sekerlik nie in die hemel nie.

Die  woord  van  God  se  Seun  is beslissend vir die ewige  verlossing  van Sy volk.  Ook vir die hoëpriester Josua wat  deur die HERE uit die ballingskap gered is,  wat Hy soos 'n  brandhout uit die vuur geruk is.  Die HERE het op hierdie manier  dat die hoëpriesterlike familie bewaar  bly. (sien ook 2 Kon 25: 18 e.v.; 1 Kron 6:15)

Die HERE bewaar hierdie familie sodat versoening gedoen kan  word  tot die dag dat Christus Sy beslissende offer aan die  kruis  gebring  het.   Totdat Hy Sy bloed vir die gelowiges gestort het.

Omdat  dit  sekerlik  sal gebeur kan die Engel van die HERE  vir  die hoëpriester Josua sê:  "Kyk,  Ek het jou skuld van jou  weggeneem,   en Ek beklee jou met feesklere." (vers 4) Dit  sê  die Seun van God ondanks die aanklagte van die Satan.

Hier  wys  God  se Seun ons reeds wat die effek van Sy werk sal wees. Die verlossing wat Hy sal verdien, red Josua en al die Ou-Testamentiese gelowiges. Die genade wat Christus sal verdien smoor Satan se aanklagte teen God se kinders in die  kiem. Satan se aanklagte word gesmoor in Christus bloed wat   sal vloei.  Satan kan die verlossing van God se kinders nie  stop nie. Ook nie in die hemel nie. Want die verlossing lê in God se ewige verkiesing vas.

         

SATAN VIR ALTYD UIT DIE HEMEL GESIT

         

Die HERE toon ons in Openbaring 12 op 'n indrukwekkende manier  die oorlog tussen Satan en Christus met Sy volk.  Dit sien  ons  baie  duidelik as jy Genesis 3 as agtergrond in gedagte hou. Ons sien in Openbaring 12  die stryd waaroor ons in

Genesis  3:15  lees:  "En Ek sal vyandskap stel tussen jou en  die vrou,  en tussen jou saad en haar saad.  Hy sal jou die  kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt."

Die  duiwel is vanaf die sondeval besig om die saad van die  vrou,   die kerk aan te val.  Hy probeer in die tyd van die  Ou-Testament  steeds  weer om die volk Israel te vernietig. Die Satan is hiermee besig omdat God se volk swanger geraak het.

Swanger   van  die  beloofde  Verlosser,   die  Here  Jesus  Christus.  Hy is die enigste wat die gelowiges van alle tye  uit die slawerny van die duiwel kan red. Die duiwel wil dit  voorkom!  As hy Israel kan vernietig sal hy ook voorkom dat

die  Verlosser gebore sal word.  Hoe die magtige slang  ook  tekere  gaan,   hy  sal  sy doel nie bereik nie.  Nogtans  word  die  beloofde Verlosser gebore,  word God se  Seun  mens.  Hy word in Betlehem gebore.  As dit gebeur het, wil  die  Satan probeer om die Here Jesus tot ongehoorsaamheid aan Sy Vader te verlei. Daarom versoek hy die Here Jesus in die woestyn, daarom val hy tydens die drie ure duisternis  op  Golgota Jesus in alle hewigheid aan.  Hoe swaar  was dit vir die saad van die vrou,  vir Jesus Christus,  om  die geweld, om die geraffineerde verleiding en spot van die duiwel  tot in die diepste diepte van Sy siel te moet deurmaak! Die duiwel het al sy krag gebruik in 'n poging om Jesus ongehoorsaam te maak.

 

Christus die hemel in, die duiwel die hemel uit.

         

Die  duiwel doen 'n groot kragsinspanning maar Christus bly trou.   Omdat Christus trou bly ruk die Vader Hom op 'n bepaalde  moment  van  die  aarde weg.  Jesus se hemelvaart is die oomblik dat dit gebeur.  Hierdie hemelvaart is nie net 'n aksie van Christus nie.  Christus styg self op. Maar  dis  ook 'n aksie van God die Vader.  Dit lees ons duidelik in Handelinge 1:9:

"En nadat Jesus dit gesê het,  is Hy opgeneem  terwyl hulle dit sien; en 'n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem."

As dit gebeur het, verskyn Christus skielik in God se troonsaal.   Hy gaan op die troon sit as die Koning van alle konings. Die gevolg hiervan is dat Christus as Koning die hemel  inkom  en die duiwel pad moet gee.  Die duiwel word as

aanklaer die hemel uitgejaag.

         

Die Satan begin oorlog voer.

 

Lê  die  magtige  draak hom by hierdie stand van sake neer?   Lê  hy  hom daarby neer dat Christus sy kop vermorsel en hy die hemel moet verlaat?  Nee! As 'n getergde draak skree hy  moord  en  brand.   Hy aanvaar  nie dat hy uit die hemel  uitgegooi  is  nie.   Hy  wil  nie  toegee dat hy vir altyd   verloor  het nie.  As hy Christus nie op aarde kan verslaan nie  sal  hy nogtans probeer om Hom in die hemel te oorwin. Die  Satan wil nie toegee dat hy God en Sy Gesalfde nie kan

oorwin  nie.  Daarom roep die duiwel sy leër saam.  'n Baie groot  leër,  wat tot die tande toe gewapen is,  verskyn in  die  hemel.  God se woonplek word nou deur die duiwel en sy  engele  beleër.  Hulle soek niks anders as die verderf,  as

 God se neerlaag nie. Hulle wil niks anders as om die hemel  in  'n  groot hel te verander nie.  Die uitslag van hierdie geveg is beslissend vir die vervolg van die geskiedenis.

Die  HERE  wag  nie af nie.  Hy stuur Migaël met die hemelse leër om die duiwel en sy leër te bestry.  Die naam Migaël  wys al vir wie hy veg.  Die naam Migaël beteken naamlik: Wie  is aan God gelyk!  Oor Migaël kan ons ook in Daniël 10  en 12 en in Judas:9 lees.

Ons sien op beslissende oomblikke van die geskiedenis dat Migael met  met krag in diens van die HERE optree.  Hy het dit met al sy krag en  mag  gedoen.  So 'n beslissende oomblik was Christus se hemelvaart.

As  Christus  in die hemel aangekom het,  breek die oorlog in  die  hemel uit.  Nou val die beslissing of die werk  wat  Christus op aarde gedoen het tot sy doel sal kom.  Sal  Jesus  in  die  hemel kan stand  hou?  Sodat Hy voor God se

troon  in die hemel vir die gelowiges kan pleit en daardeur  die gelowiges ewige vryspraak sal ontvang.  Sal Christus se  werk  daarvoor  sorg dat die draak geen aanklagte meer teen   die gelowiges kan inbring nie?  Hierdie oorlog in die hemel

beslis  oor  die  feit  of die nuwe hemel en aarde ooit sal  kom.   Of God Sy plan kan voltooi.  Die uitslag van hierdie oorlog in die hemel is van die allergrootste belang.

 

God se leër val aan

         

Die geveg in  die  hemel begin.  Migaël soek in Christus se   naam  die  aanval.   Die duiwel en sy volgelinge reageer daarop  want ook hulle voer oorlog.  Hoe lank die geveg geduur het weet ons nie.  Dis ook nie belangrik nie.  Net die uitslag is belangrik.

In  die  loop van die geveg word duidelik dat die draak vir God  se  leër moet wyk.  As Migaël  begin om aan te val kan die draak met sy leër nie standhou nie. Die duiwel moet erken dat die Skepper, dat die Verlosser,  dat die enigste God sy duiwelse krag te bowe gaan. Dat sy geslepe aanval in die paradys nie daartoe  sal  lei dat die uiteindelike paradys nie sal kom nie.  Die  duiwel moet erken dat hy Christus nie kan keer nie.

Die duiwel moet saam met sy engele vlug. Uit die hemel uit,  julle!  Julle kom nooit meer die hemel binne nie.  Ons lees  dit ook in Openb 12:8:  "en hulle kon nie oorwin nie,  en  hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie."

 

Die hemel sonder satan

         

Op  die  oomblik  dat  die  Satan  die  geveg  in die hemel  verloor  het, is  'n  belangrike  deel  van die geskiedenis afgesluit.   Die gedeelte van die geskiedenis wat die Satan  in  die  hemel  kon kom. Die tyd wat hy in die hemel 'n opvallende    smet kon wees.  Nou kan hy nie meer daar kom nie en daarmee  is die glorie van die hemel vergroot. Koning Christus skitter nou in al Sy majesteit en genade  in die hemel.  Vanweë  Sy werk het die duiwel uit die hemel verdwyn.  Nou hoor ons in die hemel nog net die lof op die HERE.  Ons hoor nog net  van  genade  vir  God  se kinders en van oordeel vir God se  vyande.  Die duiwelse aanklagte het vir altyd uit die hemel  verdwyn.

 

Hoekom kan Satan nie meer in die hemel aankla nie?

 

Hoe  is  dit  nou moontlik dat die duiwel God se kinders na   Christus  se hemelvaart nie meer kan aankla nie?  Dit is so omdat  op die oomblik toe Christus die hemel binnegekom  het elke rede om 'n gelowige aan te kla,  verdwyn het. Selfs  elke  skynbare  rede  (dink  aan Sagaria 3)  het toe verdwyn.   Christus wat die hemel binnekom is naamlik die Lam  van God wat die sondes van die gelowiges gedra het.  Dit is  die  Christus  wat die ewige lewe vir die hele volk van God verdien  het.  Hierdie Lam van God bedek nou elke sonde van  enige gelowige.

As die duiwel nou sou sê:  "HERE het u die sondes van daardie  persoon  gesien"  sal die HERE,  as dit om 'n gelowige  gaan, sê: "Waar is daardie skuld,  Satan? Ek sien net reinheid.   Ek  sien  net Christus se sondeloosheid wat daardie   persoon bedek."

Die duiwel moes in die tyd van die Ou-Testament  steeds weer  met die werk wat Christus nog moes doen weerlê word. Dit is die rede waarom  die Satan geprobeer om te voorkom dat Christus Sy werk klaar  sou  maak.  

Nogtans is dit  nou  heeltemal duidelik  dat  Christus oorwin het.

Paulus kan daarom as gelowige uitroep:  "Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.  Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het,  ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook  aan  die  regterhand  van God is,  wat ook vir ons intree."  (Rom 8: 33,34)

Vanaf  Christus  se hemelvaart word in die hemel gehoor dat  die  Lam  van  God  vir God se kinders intree pleks dat die duiwel  hulle aankla.  Die bloed van die Lam het die duiwel  se aanklagte laat verdwyn. Dis 'n heerlike boodskap wat die

gelowige se hart warm maak.

 

Satan se val uit die hemel het gevolge vir die aarde

         

God  se  leër het Satan se leër verslaan en dit  maak bly. Dit maak die gelowige ook waaksaam. Die duiwel is naamlik op die aarde neergewerp.  Wat dit vir die aarde se bewoners  beteken word duidelik as 'n stem in die hemel hard uitroep:

"Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee  die bewoners van die aarde en die see,  want die duiwel het  na  julle neergedaal met groot woede,  omdat hy weet dat hy min tyd het." (Open 12:12)

Die  draak  sal sy aandag nou op die aarde konsentreer.  Hy sal daarby sy aandag weer op Christus se kerk, op die gelowiges konsentreer. Dit lees ons in Openbaring 12: 13 en 17: "En  toe  die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, dat  hy  die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het, ..... En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om  oorlog  te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie  van  God  bewaar en die getuienis van Jesus Christus  hou." Die vrou is God se volk, Christus se kerk.

Petrus beklemtoon dit ook. In sy eerste brief skryf hy o.a: "Wees nugter en waaksaam,  want julle teënstander, die duiwel,   loop  rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan  verslind.  Hom moet julle teëstaan,  standvastig in die

geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelˆ word aan   julle broederskap wat in die wêreld is." ( 5:8,9)

Dit  alles  beteken vir ons vandag dat ons bly mag wees met  Christus se oorwinning oor die draak. Nogtans mag  die blydskap  ons nie onversigtig of sorgeloos maak nie. Ons mag nie dink dat  ons  nou  nie weer deur die verleidinge van die duiwel gepla  sal word nie.  Dat die duiwel hier op aarde geen mag  meer  kan  uitoefen nie.  Dit is 'n slegte teken as jy nooit  voel  dat die duiwel aan jou trek nie.  As jy nooit opmerk hoe die  Satan besig is om Christus se gemeente aan te val nie. Juis  aan  die  gelowiges,  juis aan Christus se kerk  bestee die duiwel die meeste aandag.

Maar in al die verleidinge wat die duiwel op ons laat afkom wil  die  Heilige  Gees ons wapens gee om in die geestelike stryd te kan standhou. Die Heilige Gees verbind die gelowiges aan Christus in wie die oorwinning seker is.

         

HEMEL EN AARDE WORD EEN

 

God  kom  tot Sy doelwit.  Wat Hy besluit het kom sekerlik,  ondanks Satan se teenwerking.  Ondanks dat die mens hom van die HERE afgekeer het en vir die plan van die duiwel gekies het.

         

Hemel en aarde een

         

Die  HERE is trou aan Homself.  Hy is ook trou aan die doel wat  Hy  vanaf die staanspoor met hemel en aarde gehad het. Die  groot doel is dat hemel een aarde eendag een sal wees. Nie as 'n hemelaarde,  of 'n aardehemel,  waarop nog gebrek

en sonde sal wees nie.  Nee, as die groot stad waarin alles  volmaak sal wees.  So volmaak dat selfs die moontlikheid om te sondig nie meer bestaan nie.

Daardie moontlikheid het in die paradys bestaan.  Die heerlikheid van die nuwe hemel en aarde sal meer wees as in die  paradys. Dit sal ook op 'n ander punt so wees.

In Genesis 1 en 2 is dit nog so dat die hemel God se paleis is.  Toe was daar nog 'n afstand tussen hemel en aarde. Die HERE  is  met  Sy heerlikheid in die besonder in die hemel.  Somtyds het Hy vanuit die hemel na Adam en Eva toe gekom om  met  hulle  te  praat.   Die nuwe aarde sal nog baie mooier  wees.  Dan is dit sover dat God se paleis,  die  hemel, op die aarde neergedaal het. Dan bly die HERE op die  aarde.

Ons lees daaroor in Openbaring 21:3: "En  ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê:  Kyk,  die  tabernakel  van  God  is  by die mense,  en Hy sal by hulle  woon,  en hulle sal sy volk wees,  en God self sal by hulle wees as hulle God."

         

Die eerste skepping verdwyn

         

Hoe  sal dit sover kom dat God in die Nuwe-Jerusalem by die  mense  sal  bly?   Nadat die duiwel sy mag ontplooi het kom  skielik  God se oordeel.  Dit gebeur as Christus terugkeer.  Dan  spreek  Christus  die  oordeel oor die lewendes en die

dooies uit. Wat sal dan gebeur?

Daaroor lees ons in Openbaring 21:1: "En ek het 'n nuwe hemel  en 'n nuwe aarde gesien,  want die eerste hemel en die  eerste aarde het verby gegaan; en die see was daar nie meer nie."

Dan  gebeur  waarvan Jesaja in die tyd van die Ou-Testament  al  geprofeteer  het.  Toe hy in die HERE se Naam gesê het:  "Want   kyk, Ek skep nuwe hemele en 'n nuwe aarde, en aan die vorige  dinge  sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie." (65:17 sien ook 66:22) Hier word beklemtoon dat  die HERE  nuwe hemele en 'n nuwe aarde  skep. Wat word daarmee bedoel? Beteken dit dat die nuwe hemel en aarde heeltemal  anders  is?  Dat dit 'n heeltemal ander hemel en aarde  sal wees?

Nee,  dit sal 'n  skepping wees wat deur die HERE vernuwe is. Die  skepping  wat  van  elke  gebrek  en van alles wat aan  gebrek en sonde herinner,  gesuiwer is. God se oordeelsvuur  het dan alles wat aan die ou, gebrekkige skepping herinner,

verbrand.   Dit  bely  ons  ook  in  artikel 37 van die Nederlandse  Geloofsbelydenis:   "Ons Here Jesus Christus sal  met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel kom,  liggaamlik  en sigbaar,  soos Hy opgevaar het (Hand 1:11),  om  Homself  as  Regter  oor  die lewendes en die dooies aan te   kondig,   terwyl  Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal  prysgee  om  dit te suiwer."

Nie  net  die  aarde  word  vernuwe nie maar ook die hemel. Altwee  kry  'n nuwe gesig.  Die nuwe gesig sal baie mooier  wees  as wat ons tot vandag toe gesien het.  As daar in die  hemel  nog dinge is wat aan die engele se val herinner,  as

daar  nog  dinge  is wat daaraan herinner dat die duiwel in  die hemel kon kom het dit dan heeltemal verdwyn. Dan het in vervulling  gegaan  wat  Petrus  in  sy tweede brief skryf:"Maar  ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe

aarde waarin geregtigheid woon." (3:13)

Al  die  dinge  wat  nou  nog  die  goeie lewe met die HERE  bedreig,   alles wat ons lewe vandag nog swaar maak,  alles  wat  nou  nog  gebrekkig is, sal dan verdwyn het.  Omdat die  krag  van  die  sonde  wat  die  oorsaak van al die ellende is, dan verdwyn het.

Daarvoor kan ons niemand anders as die HERE dank nie.  Want net  Hy kan die nuwe en volmaakte hemel en aarde skep.  Ons  kan daaraan niks bydra nie.  Heeltemal niks nie!  Dat jy op die nuwe skepping mag leef, het jy aan niemand anders as Jesus Christus te danke nie.  Elke plek in die Nuwe-Jerusalem  het  Christus  met  Sy  bloed verdien.  Sonder Sy bloed sou  daar vir geen enkele mens plek wees nie.  As jy jou lewe op  hierdie  aarde  nie  by Christus gesoek het nie het God vir  jou geen plek op die nuwe aarde gereserveer nie. Wie sy lewe  by  Christus  soek mag weet dat hy "'n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry,  wat in die  hemele  bewaar  is  vir  ons wat in die krag van God bewaar  word  deur  die  geloof  tot die saligheid wat gereed is om

geopenbaar te word in die laaste tyd." (1 Pet 1:4,5)

God  sal  hierdie erfenis in die laaste tyd in volle glorie toon.   Dan  sal die erfenis vanuit die hemel kom en op die  aarde neerdaal.

         

Die Nuwe-Jerusalem daal neer

         

Johannes  sien in Openbaring 21:2 iets besonders  gebeur.  Ons lees daar:  "En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei  soos  'n  bruid  wat  vir  haar  man  versier  is."

'n  Wonderlike  groot  en skitterende stad kom van bo na onder. Hierdie stad is nuut en wys in sy naam dat dit die kerkstad is. Die stad waarin God temidde van Sy volk woon. Jesaja het al van hierdie  stad  wat  aan die kom is geprofeteer.   Ons lees  in Jes 65:17,18: "Want kyk, Ek skep nuwe hemele en  'n  nuwe aarde,  en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep;  want kyk, Ek skep  Jerusalem  om  te  juig,  en sy mense om bly te wees."

 

Die Nuwe-Jerusalem, die kerkstad

 

Die  Nuwe-Jerusalem is die kerkstad. Dit  word duidelik as  ons  lees  dat hierdie stad met 'n bruid vergelyk word.  'n Bruid wat op die dag van die bruilof pragtig lyk.  Alles vir  die fees is gereed.  Die bruilofsmaal van die Lam kan begin. Dat die kerk met 'n bruid vergelyk word, met die bruid wat by Christus behoort,  lees ons meerdere kere in die Bybel. Een voorbeeld daarvan is Psalm 45.

Met  de  koning  in hierdie Psalm word uiteindelik Christus  bedoel. (sien Hebr 1:8,9) Die dogter, die bruid is die kerk wat haar mooi maak vir haar Verlosser,  vir Hom wat sy eindeloos bewonder, wat sy innig liefhet. (sien o.a: Jes 26:1;

40:9;  49:18;  61:10;  2 Kor 11:2; Ef 5:22-33) Die kerk het  tot voltooiing gekom. Sy daal op die aarde neer in die heilige stad.  God se volk van alle tye en plekke begin om die nuwe  aarde  te  bevolk.   Dan  sien  ons  dat die werk van  Christus,   wat  tot doel het om Sy kerk te vergader tot Sy  doel gekom het.  Christus het die inwoners van die kerkstad  in  ooreenstemming  met  God  se  plan  versamel.   Niemand ontbreek  nie.  Die Heilige Gees het elkeen wat God daartoe   bestem  het,   deur  die  geloof  tot Christus en die Vader  gebring.

         

Die Nuwe-Jerusalem is heilig

         

Hierdie pragtige kerkstad is heilig. Dit is God se stad. Hy het die stad gebou. Hierdie stad is ook heilig omdat daarin niks  wat  gebrekkig  is,  gevind kan word nie.  Alles is in ooreenstemming met God se plan. Daardeur staan hierdie stad

in teenstelling tot die groot stad op die ou aarde.  Dit is  die  groot Babilon waarvan ons in Openbaring 17 en 18 lees. Daardie stad is vol owerspel en hoerery. Jy sien in daardie stad baie bedrieglike skoonheid wat niks anders as uiterlike  skoonheid  is nie.  Nou sien ons die stad wat heilig is neerdaal,   waarin  alles  van  God  se heerlikheid en trou  spreek.  Waarin alles van egte skoonheid,  wat jy nie stukkend kan maak nie, spreek.

 

Die Nuwe-Jerusalem die hoofstad van die nuwe aarde?

         

Watter  plek  neem die Nuwe-Jerusalem op die nuwe aarde in?  Is  die Nuwe-Jerusalem die hoofstad wat 'n deel van die hemel op die aarde gebring het?  Of moet ons dit anders sien?  Ons sal ons dit inderdaad anders moet voorstel.

Hierby is dit baie belangrik om raak te sien dat ons die  woorde nuwe hemel en nuwe aarde in Openbaring net in hoofstuk 21:1  lees.  Ons lees hierdie omskrywing ook nie in Openbaring 22 nie.   Die  Nuwe-Jerusalem bedek die hele aarde.  Die hemel daal  as  stad  onder toe en so word hemel en aarde een geheel.

In  Genesis 1 en 2 was dit so dat God 'n deel van die aarde gereed  gemaak het waar die mens kon woon.  Dit was die hof van  Eden,  die paradys.   Die HERE het in Openbaring 21 die  hele aarde gereed gemaak. Nou is die hele aarde God se heilige  stad pleks van 'n tuin op  'n deel van die aarde.  Nou is die hele aarde die woonplek vir God se volk. Nou het die  afstand  tussen hemel en aarde verdwyn.  Alles is een.  Die HERE het Sy doel bereik, die doel wat Hy in Genesis 1 al in  die oog gehad het.  Christus leef in die heilige wêreldstad  saam met Sy volk in volmaakte eenheid. Die engele en God se  volk dien God met groot vreugde in hierdie stad.

         

Slot

    

As  die  Nuwe-Jerusalem  neergedaal het, beteken dit dat die HERE  alles  nuut gemaak het.  Die geskiedenis van hemel en aarde het tot God se doel gekom deur Christus se werk.  Die  toekomstige  skepping  staan vir die gelowiges gereed.  Die nuwe  skepping kom.  Niemand kan dit keer nie.  Christus is   elke  dag  besig  om die inwoners van die Nuwe-Jerusalem te versamel.  Elke keer wat iemand  hom by die Goeie Herder se  kudde voeg,  by God se volk,  daal die Nuwe-Jerusalem om so te sê 'n bietjie neer. Dan kom die koms van die Nuwe-Jerusalem nog meer naby.

Hoe  belangrik  is dit  om op Christus se uitnodiging ja  te  sê.   Hoe  belangrik  is dit  dat jy Hom as jou Verlosser  liefhet.  Dan leer jy om na die groot dag uit te  sien. Dit leer die Heilige Gees ons. Dan leer jy om ook vir  jou toekoms net op die HERE te vertrou en Hom te roem. Hy wat dan:  "al die trane van hulle oë sal afvee".  (0penb 21:4)

         

              En God sal self, en vir altyd,

              die trane van hul oë wis;

              geen dood sal daar dan langer wees,

              geen smart of rou of kommernis.

              Dis alles nuut, van sonde vry;

              die eerste dinge is verby! (Skrifberyming 23:4)

         

          SOLI  DEO GLORIA! GOD ALLEEN SY DIE EER!