Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 8 Die HERE die Drie-enige God

06-12-2016 07:22
 
 
Die HERE is die Drie-enige God

Reeks oor die Nederlandse Geloofsbelydenis

Artikel 8

 

‘n Geheimenis

Ons kry in ons lewe met dinge te doen wat ons met ons verstand nie kan deurgrond nie. Die afstand tussen God en mens bly bestaan. Selfs voor die sondeval en weer ná Christus se terugkeer is daar die verskil tussen God en mens. Sekere dinge wat gebeur en wat bestaan, gaan ons menslike verstand te bowe.

Een van die dinge is dat God die Drie-enige God is. Die HERE is die een God wat in drie Persone bestaan. Ons gaan dit nooit volledig met ons verstand deurgrond nie. Dit mag vir ons ook nie die belangrikste wees nie. Dit gaan daarom dat ons ons eie kleinheid  teenoor die groot God erken. As Hy vir ons dinge wys wat ons nie volledig kan verstaan nie, gaan dit daarom dat ons dit glo en aanvaar soos Hy dit vir ons in die Bybel wys.

Dit wys vir ons dat die “Jehova’s Getuies” op ‘n heeltemal verkeerde manier redeneer. Hulle wil vir ons op ‘n volledig rasionele manier bewys dat die Drieënige God nie kan bestaan nie omdat 3 X 3 nie 1 kan wees nie.

 

Die naam HERE

 

Baie belangrik vir die ken van God is die Naam waarmee Hy Homself aan ons geopenbaar het. Ons lees daarvan in Eksodus 3:11-15. Die HERE het Moses geroep om na Egipte te gaan en daar Sy volk te lei. Hy moet vir die Farao sê dat hy die volk Israel moet laat gaan. Ons lees dan in vers 13,14 die volgende: “Hierop het Moses tot God gespreek: Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam – wat moet ek hulle antwoord? En God sê vir Moses: Ek is wat Ek is. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: Ek is  het my na julle gestuur.”

 

God wys hier vir ons Sy Naam en die betekenis van Sy Naam. Hy wys hier dat Sy Naam Jahwe is. Dit is in die Ou Vertaling HERE met 4 hoofletters. Die HERE wys hier dat die betekenis is: Ek is wat Ek is. Dit beteken dat Hy Homself as die Betroubare openbaar. Hy is orals by en Hy werk so dat Hy altyd trou aan Homself, aan Sy eie woorde is en bly. Hy is altyd aanwesig, Hy werk altyd. Hy is. Dit het vir Israel toe ‘n baie konkrete betekenis gehad.  Die HERE het vir Abraham gesê dat die volk wat uit hom sal voortkom,  400 jaar in ‘n vreemde land sal wees en dan na die beloofde land sal trek. Die God van hulle vader Abraham is die HERE, is Hy wat altyd doen wat Hy gesê het.  Hy is dus ook die God wat hulle nou volgens Sy Woord  uit Egipte sal bevry en in die beloofde land Kanaan sal bring.

 

Nou kan juis oor die naam HERE ‘n probleem ontstaan as ‘n mens die Bybel lees. Jy het Eksodus 3 gelees en nou kom jy by hoofstuk 6 en jy lees daar: “Verder het God met Moses gespreek en vir hom gesê: Ek is die HERE. En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam HERE het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie.” Nogtans lees ons ook in die boek Genesis al die Naam HERE. Ons lees daar ook dat Abraham en ander van die HERE praat en God met hierdie Naam noem. Hoe is dit moontlik?

 

Ons het nie hier met ‘n teenstrydigheid te doen nie. Die aartsvaders het die Naam HERE gebruik sonder dat hulle die betekenis daarvan mooi geken het. Dit was vir hulle ‘n Naam en nie baie meer nie. Hulle het God as die Almagtige geken, die betekenis van die titel Almagtige het hulle verstaan. Ons mag vanuit die Hebreeus die laaste deel van Eks 6:2 ook so vertaal:  “Ek het My Naam HERE nie vir hulle uitgelê nie.” Dit is taalkundig heeltemal reg dat dit hier nie om die gebruik nie, maar die verstaan van die naam HERE gaan. Die HERE is wie Hy is. Dit wys baie duidelik op Hom as die een God. Op Hom as die enigste God. Hy is die God wat altyd volgens Sy belofte verlossend by Sy volk is.

 

Die HERE die enigste God

 

Die HERE is een. Dit is ‘n baie belangrike belydenis. Want dit beteken dat as die Vader, die Seun en die Heilige Gees God genoem word, ons nie met drie gode maar met die een God te doen het. Die HERE bestaan uit die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Ons sal aan die Godheid van die Seun en die Godheid van die Heilige Gees by die behandeling van die ander artikels van die NGB aandag gee.

 

Die belydenis dat die HERE die een God is, wat ‘n mens nie in verskillende gode kan skei nie, wys vir ons ook dat Hy die enigste God is. Die ware geloof bind hom aan die aanbidding van Hom alleen. Die ware geloof ken nooit die aanbidding van 2 of meer gode nie. Hoe kan die profete met die bestaan en die aanbidding van ander gode as die HERE spot! Ek noem een voorbeeld. As Elia en die Baalpriesters op die berg Karmel is en daar  vuur van die hemel moet kom om ‘n altaar aan die brand te steek. Dan roep die Baalpriesters ure lank tot Baal en niks gebeur nie. Dan sê Elia: “Roep hard; hy is mos ‘n god! Hy is seker besig om te peins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word.” (1 Kon 18:27)

Hier wys Elia dat Baal nie God is nie. Wie God is, is daar tot hulp van Sy volk.  Hy wys altyd dat Hy volgens Sy belofte handel. Wie God is, is nooit vir Sy kinders afwesig nie, Hy vertrek nooit vir ‘n rukkie nie. Dit is alleen die HERE wat altyd daar is en elke oomblik volgens Sy beloftes werk. Die belydenis dat die HERE die enigste en die Drie-enige God is, is so belangrik dat ons daarvan in die Geloofsbelydenis van Atanasius bely: “Vir elkeen wat salig wil word, is dit in die eerste plek nodig dat hy die algemene geloof vashou. …. Die algemene geloof is: Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die eenheid eer, sonder om die persone te vermeng of die wese te deel.”

 

Die ewige verhouding tussen Vader, Seun en Heilige Gees

 

God het nie op ‘n sekere oomblik in Sy bestaan Vader geword nie. Die HERE is ewig.  Die HERE het nie ‘n begin en nie ‘n einde nie. Hy is die ewige Vader. Hy was altyd Vader. Sy Vaderskap is sonder begin. Hier sien ons weer die wonder van God as die Drie-enige God. Ons praat van die Vader en die Seun. As ons dit doen, moet ons mooi bedink dat dit hier ook om ‘n Goddelike verhouding gaan. As ons as mense van ‘n vader en ‘n seun praat  is daar tussen die vader en die seun altyd ‘n verskil in leeftyd. Die een het eerder bestaan as die ander. Dit is by die HERE nie so nie. Die Vader was altyd Vader. Dit beteken dat daar nie een oomblik was dat die Vader sonder die Seun was nie. Die Vader en die Seun was ook nooit sonder die Heilige Gees nie. As ons by God van die Vader en die Seun praat gaan dit dus nie daarom dat die een ná die ander ontstaan het nie. Hoe groot en wonderlik is die HERE. Hy is nie ‘n mens of ‘n skepsel waarvan ons Sy leeftyd, Sy mag en Sy status kan bereken en toets nie. Die HERE gaan so ver bo ons en die hele skepping uit.