Preke vanuit Nederlandse Geloofsbelydenis

16-09-2014 19:05

PREKE VANUIT DIE NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS

 

Hieronder vind jy preke wat ek in 2003 en 2004 in die Vrye Gereformeerde Kerk Maranata in Pretoria gehou het. Dit is preke vanuit artikel 1-21 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Dit was in afwisseling met de prediking vanuit die Heidelbergse Kategismus. Ek hoop elke week hier 'n volgende preek te plaas. Die eerste gedeelte is 'n artikel oor die ontstaan van die Nederlandse Geloofsbelydenis. 

 

DIE ONTSTAAN  VAN DIE NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS

 

Ons het vorige Sondag in die prediking daarmee begin om die Nederlandse Geloofsbelydenis te behandel. ‘n Preek is nie die plek om uitgebreid op die ontstaan van ‘n Belydenisgeskrif in te gaan nie. Ek wil as agtergrond juis ook vir die prediking iets van die ontstaan van die Nederlandse Geloofsbelydenis vertel.

 

2 November 1561

 

Dit was die dag waarop in die nag iets oor die muur van die kasteel van Floris de Montigny gegooi is. Hierdie kasteel kan ‘n mens vind by die stad Doornik in die huidige België. Floris die Montigny was die goewerneur van Doornik. Die volgende oggend word die pakkie gevind. Op hierdie pakkie is duidelik geskryf dat dit vir Koning Philips II bestem is. Dit is die rede hoekom die goewerneur van Doornik dit na landvoogdes Margareta van Parma in Brussel stuur. Sy stuur dit op haar beurt weer na koning Philips wat in Madrid woon.

Wat was daar in die pakkie? Die Nederlandse Geloofsbelydenis wat Guido de Bres in daardie jaar opgestel het.

 

         Guido de Bres   

 

Wie was hierdie Guido de Bres? Hy was in 1522 in Bergen in die streek Henegouwen geboren.  As hy 25 jaar oud is of ‘n rukkie daarvoor kom hy tot die insig dat die leer van die Roomse kerk nie die ware leer is nie. Hy gaan dan oor tot die Reformasie. Hy het tot hierdie stap gekom deur die Bybel te lees en boeke van verskillende manne wat die HERE by die Reformasie in die 16e eeu gebruik het.

As hy teen die Roomse kerk kies, beteken dit dat sy lewe gevaar loop. Hy kan in die tyd nie openlik vir sy geloof in die Suidelike Nederlande uitkom nie. Dit is lewensgevaarlik. De Bres trek soos baie gereformeerde Nederlanders  in die tyd na Engeland. Daar regeer koning Edward VI wat die gereformeerdes goedgesind is. De Bres sluit hom  by die Franssprekende deel van die Nederlandse vlugtelingegemeente in Londen aan.

Hy keer in 1552 weer in sy vaderland terug en word ondanks al die gevaar predikant van die gereformeerde kerk in Ryssel. Dit was toe nie moontlik om lank op een plek as leraar van ‘n gemeente te bly nie. Dan het mens te bekend geraak en was die gevaar van gevangeneming en die doodstraf baie groot.

Guido de Bres word dan ook ‘n predikant wat van die een gemeente na die ander gemeente swerf. Hy besef dat die kerke in die Nederlande ‘n eie Belydenisskrif nodig het. ‘n Belydenisskrif waarin hulle duidelik uitspreek wat hulle glo. ‘n Belydenisskrif wat vir al die inwoners van die Nederlande en daarbuite wys wat die Gereformeerde kerke hier glo. Dit is nodig om dwaalleer van mense in die kerke te bestry en ook om misverstande oor wat die Gereformeerde Kerke leer weg te neem. De Bres het waarskynlik al in 1559 met die opstel van die Nederlandse Geloofsbelydenis begin.

 

         In Doornik    

 

Guido de Bres het in Doornik gekom en werk daar nou as leraar van die Gereformeerde kerk daar. Doornik was toe ‘n stad  op die grens tussen Frankryk en die Suidelike Nederlande. Die regeerders van die stad het nie baie aktief die gereformeerdes vervolg nie. De Bres kon hier in die verborgene sonder al te veel gevaar sy werk doen. Hy het in ‘n tuinhuisie gebly.

Sy manier om mense  met die ware evangelie te bereik wat nog nie deel van die gemeente was nie,  was om hulle by ‘n maaltyd te laat nooi. Dan het Guido ook by die maaltyd onder die skuilnaam Jerome verskyn. Hy het die mense dan die ware evangelie vertel en dit verder uitgelê. Hy het daarop gewys hoe die Roomse kerk nie werklik Christus verkondig nie en hulle opgeroep om met die Roomse kerk te breek.

Een van die diakens van die gemeente is met hierdie manier van werk nie tevrede nie. Hy het gehoor hoe gereformeerdes in verskillende Franse stede die straat opgegaan het en deur die strate gegaan het terwyl hulle Psalms gesing het. Hierdie diaken, sy naam is Dufour,  wil nie meer in die verborgene werk en so kerk van Christus wees nie. Hy organiseer, teen de Bres se wil in, dat 'n deel van die gemeente die strate van Doornik opgaan. Dit gebeur 29 en 30 September 1561. Die gevolg van hierdie optrede van Dufour was dat die aandag van die regeerders van Doornik, van die landvoogdes en ook van die koning op Doornik en die gereformeerde kerk daar gevestig word. Dit word vir die plaaslike regeerders daardeur baie moeilik om nie tot aktiewe vervolging van die gemeente oor te gaan nie. Dit was vir de Bres een van die ergste dinge dat vir die volk nou weer die misvatting bevestig was dat hy en al die gereformeerdes eintlik rewolusionêres is. Een van die dinge wat hy juis in die Nederlandse Geloofsbelydenis wil wys is dat Gereformeerdes nie soos die Dopers rewolusionêres is nie.

Dit is juis ook daarom dat De Bres iets meer as ‘n maand later daarvoor sorg dat juis die owerheid die Nederlandse Geloofsbelydenis in hande kry waarin o.a. bely word: “Verder is elkeen verplig, van watter hoedanigheid, rang of stand hy ook al mag wees, om hom aan die owerhede te onderwerp, belasting te betaal, aan hulle eer en onderdanigheid te bewys, hulle te gehoorsaam in alles wat nie met die Woord van God in stryd is nie, en vir hulle voorbidding te doen dat die Here hulle in hulle handelinge mag bestuur, sodat ons in alle godsvrug en eerbaarheid ‘n rustige en stil lewe kan lei (1 Tim 2:2). Hierin verfoei ons die Wederdopers en ander oproerige mense en in die algemeen almal wat die owerheidsgesag en regeerders wil verwerp en die regsorde omver wil stoot, terwyl hulle die gemeenskaplike besit van goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder die mense ingestel het, versteur.” Art 36 NGB

 

‘n Brief vir die koning

 

Ek onderbreek die verhaal van de Bres se lewe nou om vanuit die geskiedenis van die Nederlandse Geloofsbelydenis te wys dat de Bres hierdie Belydenis veral teenoor twee fronte geskryf het. Die twee fronte is die Roomse kerk  en die al eerder genoemde Wederdopers. Die Wederdopers was mense wat o.a. die kinderdoop verwerp het en die owerheid nie erken het nie. As de Bres die Nederlandse Geloofsbelydenis oor die muur van die kasteel laat gooi is daarby ‘n brief vir die koning. Ons lees in hierdie brief o.a. die volgende:

“Ons weet sowel vanuit die Woord van God as ook vanuit die voortdurende onderwys van ons predikante dat konings, vorste en owerhede volgens God se bevel daar is. Wie hom teen die owerheid verset, verset hom teen God se bevel en lê dus onder God se oordeel. Ons erken en bely dat danksy God se ewige wysheid konings en vorste regspreek. ……

Om te bewys dat dit nie lippetaal is nie maar dat dit in die diepste van ons hart geskryf en ingegrif is, willen wy aan u, koning,  vra: Wie het u onder ons gevind wat geweier het aan u, allergenadigste heer, belasting of tolgelde te betaal? Inteendeel, elkeen het  gehoorsaam betaal dadelik sodra betaal moes word. Watter besit van wapens en watter sameswering het u by ons ontdek? …..

Ons vyande moet nie u geduld op die manier, koning, misbruik dat u hulle moet aanhoor as hulle sê dat ons vanweë ons klein aantal nie teen u opstaan nie. Asof elkeen van ons in ons hart ongehoorsaam en oproerig sou wees.Asof ons net daarop sou wag dat ‘n groot groep mense teen u in opstand sou kom en ons dan ons baie groot haat teen u sou uitleef. Al verdraai hulle hierdie saak nog so, ons beloof u, genadige heer, dat in u Nederlande meer as honderdduisend manne die godsdiens aanhang en daarby behoort wat ons in hierdie Belydenis geskryf het en u gegee het. Dit terwyl by niemand van hulle enige voorbereiding tot oproer te sien is nie. Niemand van hulle praat selfs maar daaroor nie. …..

Ons vra u met erns terwyl ons nie net as vyande van u kroon en van die algemene saak vervolg word nie maar ook as vyande van God en Sy kerk om nederig u oordeel ooreenkomstig die Belydenis wat ons u hier aanbied te maak. Ons is bereid en gewillig, as dit nodig is, hierdie Belydenis met ons bloed te beseël.”

Volgende keer kyk ons daarna hoe die Nederlandse Geloofsbelydenis ook teen die leer van die Roomse kerk geskryf is.

 

 

Die tweede front

 

Hiervoor het ek vanuit die brief wat Guido de Bres by die Nederlandse Geloofsbelydenis vir koning Filips II bygevoeg het duidelik gemaak dat een van die fronte waarteen hierdie Belydenisskrif geskryf is die Wederdopers was. Ons het toe gesien dat die Wederdopers genoem word in art 36 van die NGB. Ander plekke waar hulle genoem word is die artikels 18 en 34. Die ander front is die Roomse kerk.

Ook dit word duidelik in die brief wat by die NGB gevoeg is. Die Roomse kerk en ook die koning sien die gereformeerdes as skeurmakers en ketters. As jy dit weet verstaan jy wat de Bres bedoel as hy die volgende in die brief skryf: “Ons hoop dat u deur hierdie belydenis verstaan dat dit nie reg is dat baie ons skeurmakers en verbrekers van die eenheid, ongehoorsames en ketters noem. ….. Ons bely juis die hoofsake van die Christelike geloof, wat in die Simbool, in die Apostoliese Geloofsbelydenis opgeneem is. Ons bely alle onderwys van die Here Jesus Christus, die evangeliste en apostels. Hierdie onderwys wat deur die bloed van die martelare verseël is maar later deur menslike siening en voorskrifte bederf geraak het. Ons teenstanders loën onbeskaamd dat die Evangelie ‘n krag van God tot die saligheid is. Hulle staan daaraan skuldig dat hulle die Heilige Gees laster.”

Artikels waar baie duidelik teenoor die Roomse kerk en leer stelling ingeneem word is o.a.: 7,21,22,26,29,31,32,33,35.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis staan baie duidelik in sy eie tyd. Hierin het de Bres en die kerk van daardie tyd aktueeel die leer van die Skrif teenoor die geeste van die tyd bely. Hoe belangrik is dit dat ons dit ook vandag doen. Dat ons vanuit die inhoud van die Nederlandse Geloofsbelydenis ook die geeste van ons tyd herken en daarteenoor die ware Evangelie bely.

 

         Terug na Doornik    

 

Ons keer weer terug na Guido de Bres wat in Doornik was. Ons het in die vorige artikel gesien hoe in Doornik ‘n deel van die gemeente die straat opgegaan het en Psalms begin sing het. De Bres was daarmee baie ongelukkig. Dit waarvoor hy bang was, het gebeur. Die aandag van die owerheid was nou op Doornik. Die regering in Brussel stuur mense na Doornik om daar mooi op te let en die ketters  uit te roei.

De Bres was nie meer veilig in Doornik nie. Hy vlug uit Doornik maar baie van dit wat hy geskyf het en sy boeke val in die hande van sy vervolgers.

Guido de Bres swerf in die volgende 6 jare weer rond. Hy is in hierdie jare o.a. predikant van die gemeentes in Sedan, Antwerpen en Valenciennes.

Hy is in die laaste stad saam met Peregrin de la Grange predikant. Hulle preek daar buite die mure van die stad. Baie mense kom na hierdie hagepreke luister. Die landvoogdes laat onder baie druk die gereformeerdes nou ‘n rukkie met rus. Die rus word in Augustus 1566 versteur deurdat in die Nederlande dan op baie plekke die Beeldestorm losbars. Mense dring die Roomse kerke binne en verniel al die beelde en ander simbole in die kerke. Dit gebeur ook in Valenciennes. Hierop reageer die goewerneur van die provinsie Henegouwen en laat Valenciennes beleër. Die stad word maande beleër. Dit beteken dat geen voedsel die stad in kan kom nie. Na enkele maande is die tekort aan voedsel so groot dat die stad hom oorgee. De la Grange en de Bres vlug. Dit lyk asof hulle aan hul vyande kan ontsnap. Hulle steek hulle in ‘n bos buite die stad weg. Hulle het baie honger geraak en bestel iewers ‘n maaltyd. Hulle word herken en gevangegeneem.

Hierdie twee troue herders van Christus se gemeente word dan in die kasteel by Doornik in ‘n tronk gegooi. De Bres sit nou in ‘n tronk van die kasteel waar enkele jare gelede die Nederlandse Geloofsbelydenis oor die muur gegooi is.

De Bres word gemartel. Hy word steeds weer verhoor. Die Biskop van Atrecht en ander kom met hom allerhande gesprekke voer oor dit wat hy glo en wil hom weerlê. Steeds bly de Bres en la Grange in daardie gesprekke troue getuies van Jesus Christus. Hulle bly selfs nou die dood hul in die oë staar steeds weer getuig van die ware leer van Christus. In die gesprekke vra die vervolgers aan la Grange o.a: “Waarom volg jy Calvyn en waarom volg jy nie die leer van die kerk nie?” (met die kerk word die Roomse kerk bedoel) La Grange se pragtige antwoord is dan: “Ek volg nie die leer van Calvyn nie. Ek volg die leer van die Skrif. Wat Calvyn volgens die waarheid sê, wil ek volg. As hy nie volgens die waarheid praat, volg ek nie Calvyn nie.”

Die HERE bly hulle steeds weer die krag van Sy Gees gee.

 

        31 Mei 1567    

 

Drie uur in die oggend word vir de Bres en la Grange vertel dat hulle daardie dag die doodstraf sal ontvang. Hulle kry enkele ure om hulle op hulle dood voor te berei. De Bres skryf in daardie ure nog ‘n brief aan sy vrou en aan sy moeder. Ek haal nou ‘n gedeelte uit sy brief aan sy vrou aan. Bedink dat Guido de Bres dit skryf in die wete dat hy oor enkele ure gedood sal word.

Hy skryf o.a: “My geliefde vrou, my baie geliefde vrou.

Ons moet na die ware land verlang, die vaderland. Ek vra jou, liewe en troue vrou, om jou saam met my te verheug en om die goeie God te dank vir wat Hy gedoen het. Hier is nie die plek vir ons woning nie, maar in die hemel. Hier is ons pelgrimsreis. Ons moet daarom na die ware land, dit is die hemel verlang om daar in die huis van my hemelse Vader ontvang te word. Om daar ons broeder, meester en saligmaker Jesus Christus te sien. Ek hoop om daar, as ek die loop van my bediening volbring het, deur die spesiale geselskap van patriarge, profete en apostels en so baie duisende martelare  ontvang te word.

Ek vra jou dan, vir wie ek so baie lief is, dat jy jou in die oordenking van hierdie dinge troos. Beskou met jou volle bewyssyn die eer wat God jou verleen deur aan jou nie net ‘n eggenoot te gee wat net dienaar van die Seun van God is maar ook so deur God geag en op prys gestel word dat Hy hom waardig ag om deelgenoot aan die kroon van die martelare te word. God gee so’n eer selfs nie aan die engele nie. Ek is bly, my hart is opgewek,  my ontbreek niks nie. Ek is vervul met die oorvloed van die rykdom van my God. Ek voel nou my Here Jesus Christus se trou. Ek bring nou in die praktyk wat ek vir ander gepreek het. Ek moet nou verseker bely dat toe ek gepreek het, ek gepraat het as ‘n blinde wat van kleure praat. As ek dit vergelyk met wat ek nou deur ondervinding meemaak en voel.”

6 uur in die oggend word de Bres en la Grange uit die tronk gehaal. Hulle word na die plek gebring waar hulle opgehang sal word. Dan vra la Grange om ‘n borsel om sy skoene en klere nog te mag skoonvee. As hulle vir hom vra hoekom hy dit wil doen is sy antwoord: “Omdat ek nou na die mooiste bruiloffees op pad is.”

Dan word la Grange die ladder opgestuur en die tou om sy nek gedoen. Die ladder word weggetrek en la Grange sterf om  in te gaan in die fees van sy Here en Verlosser. Daarna is dit de Bres se beurt. As hy op die ladder staan, spreek hy die gemeente nog aan en roep hulle op om met Christus te bly leef en aan Sy Woord vas te hou. Hy roep hulle selfs nou nog op om gehoorsaam aan die owerheid te bly. Die opsteller van die Nederlandse Geloofsbelydenis verseël die bely van Christus met sy bloed.

 

        ORDE VAN DIENS    

 

Opening

Vrede/Seëngroet

SB 34:1,2

Geloofsbelydenis

Psalm 14:1,5,6

Skriflesing: Jesaja 45:1-8

                   Romeine 10:1-13

 

Gebed

Kollekte

Psalm 135: 8,9,10,11

       Teks: NGB art 1   

Preek

Psalm 27:1,6

Dankgebed

Psalm 73:11,12

Seën

 

Gemeente van Jesus Christus ons geliefde Heiland, broers en susters

 

Ons begin vanoggend met die behandeling van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Ons wil sien wat ons in hierdie belydenis in ooreenstemming met God se Woord bely. Ons wil so weer verder groei in die kennis van die HERE en Sy werk. Groei in die hemelse leer van die Skrif.

Ek gaan nou niks sê oor die ontstaan en die indeling van hierdie Belydenisskrif nie. Ek hoop om in die eerste Kerkblad wat verskyn daaroor iets te skryf. Die Nederlandse Geloofsbelydenis begin in die eerste artikel dadelik om te bely dat in die een en enigste God glo.

Ons leef in ons tyd en kultuur in ‘n omgewing wat juis op hierdie punt vol van twyfel is. Die twyfel of God bestaan en as Hy bestaan wie en hoe hy is deurtrek ons geskiedenis van meer as die laaste tweehonderd jaar. Dit het op allerhande dele van die lewe en samelewing ‘n geweldige invloed. As ‘n mens naamlik aan God twyfel, gaan hy ook aan die waarde van God se Woord twyfel. As mense aan God twyfel, word al gou gesê dat ons God en godsdiens buite ons diskussies en ook buite die wetenskap en maak van planne vir die gewone lewe moet hou. God en godsdiens mag iets van ‘n mens se private lewe wees. ‘n Ruk was dit so dat in die Westerse kultuur dit vir baie so was dat God en godsdiens net onsin was en dat dit ook vir die private lewe net mense met outydse idees was wat nog glo. Die gety het die laaste jare in die Westerse kultuur weer gedraai. Vandag mag godsdiens weer maar as ‘n algemene kulturele verskynsel omdat mense spiritualiteit nodig het. Dit is vir baie mense lekker om daaroor te praat hoe jy godsdiens ervaar en wat jou beeld van God is. Daar moet vir elke mense ruimte vir spirituele ervaring wees. Dit is een van die kenmerke van deesdae se manier van dink. Nogtans bly dit so dat ons tyd gekenmerk word deur groot twyfel of God bestaan en hoe Hy is. Dit beteken dat God se Woord deur die meeste nie erken word as ‘n bron van ware kennis nie. As die belangrikste bron van wysheid nie. Die Bybel is vir baie mense ‘n godsdienstige boek waar jy wyshede kan vind maar dit is nie die fondament waarop die hele lewe, die hele samelewing, die wetenskap gebou word nie. Hierteenoor staan ons met die belydenis van art 1 van die NGB. Laat ons sien wat ons hier bely en wat dit beteken as ek vir julle die evangelie onder die volgende tema verkondig:

 

            DIE HERE IS GOD   

 

1.      Ons bely dit

2.      Hy is die enigste God

 

1.      Ons bely dit

 

  Die vraag na die bestaan van God het steeds weer in die geskiedenis opgeduik. Die laaste tweehonderd jaar het dit in ons geskiedenis met al  As 

 ‘n mens na hierdie soort redenerings kyk, sien jy al hoe mense met krom redenerings probeer om op God se plek te gaan sit. As iemand vir jou sê dat hy nie glo dat God bestaan nie omdat hy Hom nog nooit gesien het nie, is dit niks anders as ‘n drogredenasie. Ons weet vandag dat daar atome en selfs nog kleiner deeltjies as atome is. Honderd jaar gelede kon ons daardie klein deeltjies nog nie sien nie nogtans het hulle vanaf God se skepping bestaan. Dit is nie beslissend dat mense iets gesien het om te kan sê dat iets of iemand bestaan nie. As ek iets wetenskaplik kan verklaar. As ons deur ondersoek nou weet in watter omstandighede reën en donderweer ontstaan, sê dit nog niks daarvan of dit van God kom of nie van Hom kom nie. Ons weet vanuit God se Woord dat Hy regeer ook oor reën en donderweer. Die navorsing oor hoe reën en donderweer ontstaan, maak die wete dat die HERE dit gee nog ryker. As ‘n mens sien wat alles daarby ‘n rol speel, sien jy juis die HERE se grootheid dat Hy al die elemente op Sy tyd by mekaar bring om dit juis dan daar te laat reën of donderweer te laat kom. Wie bely dat God bestaan, leer deur voortgaande navorsing juis met nog meer verwondering die Vader van ons Here Jesus Christus te aanbid. Wie na die werklikheid en na die skepping rondom hom kyk en werklik sy oë oop het, moet erken dat dit nie vanuit die mens verklaar kan word nie. Die mens kan nie op die troon sit nie, die mens kan nie die Skepper wees nie. Die mens mag deur die verstand wat hy van die Skepper gekry het iets van die werking wat God in die skepping gelê het ontdek. Juis om te sien hoe groot Hy is. Dit ook daarom dat ons in God se Woord lees:  

“Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie”. Ps 14:1.  Sonder om te bely dat God bestaan, is God se liefde en hulp ook nie in ons lewe nie. Ons lees naamlik in Hebr 11:6: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”

Dit is dan ook heerlik dat die Nederlandse Geloofsbelydenis begin met die woorde:  “Ons glo almal met die hart en bely met die mond”. Ons vind hier ‘n duidelike verwysing na Romeine 10. Ons lees daar in vers 9,10: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word, want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” Wat is die verband waarin Paulus hierdie woorde skryf? Hy wys in die voorafgaande verse dat sy eie volksgenote God nie werklik ken nie omdat hulle hul eie geregtigheid soek. Hulle wil nie net van genade leef nie maar dink dat hulle iets by God moet verdien. Sien vers 2,3. Dit is daarom dat hulle die Here Jesus nie as die Christus aanneem nie. Hulle weier om hulle hele verlossing in Hom te soek. Die ware geloof is so eenvoudig, nogtans vir ons sondige hart so geweldig moeilik om te aanvaar. Die ware geloof  is dat jy na Christus en Sy Woord, wat naby is (kyk vers 6-8), luister. Dan wys Paulus vir ons baie duidelik wat die karakter van die begrip “bely” is. Dit is dat jy op grond van Christus se Woord wat naby is met jou hele wese Christus bely.  Dit beteken dat jou hart vol liefde vir Christus is, dat jy met jou hart Hom soek en vir Hom as jou God en Koning wil lewe. Sien Joh. 20:28. As jy so met jou hart aan Christus verbonde is, is jy ook so met die Drie-enige God verbind. Dan glo jy met jou hart in God! Dan glo jy met jou hart “dat God die Here Jesus uit die dode opgewek het”. Hier sien ons hoe die “glo in die Here Jesus” nooit van die “glo in God” losgemaak mag word nie. Hier sien ons raak dat die kerk wat waarlik “bely”, ook nooit die Ou en Nuwe Testament van mekaar  mag losmaak nie. Die kerk wat aan Christus verbonde is, kan nie stilbly nie.  Die ware geloof kan nie iets bly wat net iewers binne-in ‘n mens is nie en nie met krag na buite sou uitstraal nie. Die Here Jesus wys daarop o.a. in Matteus 10 as Hy sê: “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.” Vs 32,33.

“Verloën” is ook wanneer die kerk stilbly  as verkeerde dinge van God, Christus en Sy Woord geleer word.  “Verloën” is ook wanneer ons die vrede met mense, menslike vrede in die kerk soek ten koste van die waarheid.  Dit is opmerklik dat die Here Jesus net na hierdie woorde in Matt 10:32,33 sê: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.” Bely beteken dat ons openlik getuig. Openlik van God en Christus getuig volgens die Skrifte. (Kyk die Geloofsbelydenis van Nicea hoe ons daar bely: “Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan). Dit gaan daarom dat Christus se kerk openlik teenoor die wêreld en in die wêreld die evangelie van Christus laat hoor. Dit is ook wat die kerk van die staanspoor af gedoen het. Ons lees daarvan in Genesis 4:26: “En ook vir Set is ‘n seun gebore, wat hy Enos genoem het. Toe het  hulle die Naam van die HERE begin aanroep.  Die aanroep van die HERE se Naam wys daarop dat die gelowiges openlik saam gewys het dat hulle van die HERE afhanklik is en na Sy Woord as die lewende waarheid vir hulle lewe wil luister. Hierin staan die kerk teenoor die wêreld wat dit nie wil doen nie. Bely met jou hele wese is dat jy met jou hele lewe na God wys en ander na Hom verwys. Die kerk wat bely, wys van haarself af na die HERE en Sy Woord. Die kerk wil nie kreatief wees nie, maar luister na die HERE en daarom in alles Christus volg en net van Sy genade leef.

Ek kan dit nou nie nalaat om nog op die woordjie almal te wys nie. Dit is ‘n klein woordjie en tog so belangrik.  Hierdie woordjie wys daarop dat dit nie net ‘n deel van die kerk is wat die inhoud van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely nie maar dat die hele kerk dit doen. Dit mag nie die belydenis wees van ‘n sekere groep in die gemeente wees nie. Nee, dit is almal se belydenis. Dit is nie net die belydenis van die ampsdraers nie. Dit is daarom so belangrik dat ons ons belydenis ken en leer liefhê. Dat ons deur kategese en prediking en deur self te lees werklik weet en leef vanuit die hemelse leer wat ons in die Belydenisskrifte bely.  Wie nie meer van harte die inhoud van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely nie, het homself van die kerk vervreem omdat hy homself van die leer van die Skrif, die leer van Christus vervreem het. Die kerk wat die Nederlandse Geloofsbelydenis as haar Belydenisskrif aanvaar, is dan ook geroep om hierdie belydenis te handhaaf en toe te sien dat dit elkeen se persoonlik belydenis word. As ons toelaat dat dinge geleer word wat nie hiermee ooreen kom nie, is ons besig om ons eie belydenis te verlaat en voor te gee dat hierdie belydenis maar ‘n kreatiewe poging van die kerk is om die geloof te omskryf en dat dit nie noodwendig die leer van Christus is nie. Hoe heerlik en goed en noodsaaklik is dit  om te bely. En, om dit saam te mag doen! Om sodoende waarlik kerk te wees: “Ons glo en bely ‘n enige katolieke of algemene kerk, ‘n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo”. Kyk art 27 NGB. Die leer van Christus bind die ware gelowiges in Sy kerk saam. Ja, ALMAL saam!

Dan bely ons almal saam dat die HERE die enigste God is. Ons let daarop in die tweede plek.

 

2.      Hy is die enigste God

 

Ons bely van die HERE dat Hy die enige God is. Ons staan daarmee saam met die volk Israel in die tyd van die Ou Testament en met saam met die apostels wat die evangelie van Christus onder die volke verkondig in die midde van die samelewing. Ons staan met hierdie belydenis in ‘n samelewing wat juis op hierdie punt hom aan die belydenis van Christus se kerk vererg. Selfs baie leiers in kerke in ons land vererg hulle as ons bely dat die HERE, die Vader van ons Here Jesus Christus die enigste God is en dat Allah, die gode van die hindoes,  die gode in die Afrika godsdienste en al die ander sogenaamde gode nie gode is nie.

Die HERE sê dit vir ons baie duidelik en steeds weer in Sy Woord. Hy is die enigste God. Ek noem nou twee plekke waar Hy dit vir ons sê: “Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE. Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.” Deut 6:4,5. Let daarop dat in die tweede deel van hierdie teks van “jou hele hart, met jou hele siel, met al jou krag” gepraat word. In jou en my lewe behoort geen plek vir ‘n ander God as die HERE te wees nie. Hy as die enigste God behoort jou en my hele lewe te beheers.

Hoe duidelik en skerp wys die HERE dat Hy werklik die enigste God is: “Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie, Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; wat die lig formeer en die duisternis skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.” Jes 45:5-7.     

Selfs van die Jode wat nie Christus as die Verlosser erken nie moet ons sê dat hulle nie die ware God aanbid en dien nie. Hulle het om die HERE in waarheid, om werklik Hom te dien nodig dat hulle hul tot Jesus Christus as die Redder van hulle lewe bekeer. Die apostels het juis die Jode tot bekering tot Christus opgeroep en duidelik gemaak dat sonder die geloof en lewe met Christus niemand ware verlossing van skuld en sondes ontvang nie. Petrus sê op die Pinksterdag o.a. die volgende:

“Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die here onse God na Hom sal roep. En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag.” Hand 2:38-40

Later bely Petrus in naam van die apostels voor die Joodse Raad Christus o.a. so: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel mwat onder mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” Hand 4:12.

Dit is nog weer later dat Christus self van die Jode wat Hom nie erken maar wel in hulle sinagoges saamkom die volgende sê: “Ek ken jou werke en verdrukking en armoede – maar jy is ryk – en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge van die Satan”. Openb 2:9. “Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg – Ek sal maak dat hulle kom en voor jou voete neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het.” Openb 3:9

Die HERE, die Vader van ons Here Jesus Christus is die enige God. Ons bely dat Hy as die enige God  “’n enkelvoudige geestelike Wese is.”

Die bedoeling van hierdie woorde is nie om een of ander moeilike filosofiese redenering neer te skryf nie. Die woord Wese  wat ons hier gebruik wys net daarop dat ons God eintlik nie in menslike terme kan beskryf nie. Hy is daarvoor te groot. Hy is die lewende God wat bo alles en almal uitstyg. Die woord Wese wil aanwys dat ons in God met ‘n Persoon te doen het wat met niks en niemand in die skepping vergelyk kan word nie. Hoe groot is Hy!

Hy is “enkelvoudig”. In die oorspronklike versie van die Nederlandse Geloofsbelydenis staan dat God “eenvoudig”. Hierdie woorde wys daarop dat in God geen teenstellings is nie. In Hom is daar geen teenstrydige gedagtes en gevoelens nie. Hoe kan ons heen en weer geslinger raak deur verskillende gedagtes en gevoelens. Dit is by die HERE nie so juis omdat Hy God is. Hy oorsien alles en Hy sien dadelik wat al die verbande tussen verskillende dinge in die geskiedenis is. Hy twyfel nie maar reageer dadelik op die manier wat reg is. Hy wys wat Sy wil en daarmee in ooreenstemming Sy gevoel is. Die HERE is die betroubare God. Hy doen en voel altyd so soos Hy dit gesê en beloof het! Die HERE is nooit anders as wat Hy gesê is wat Hy is nie. Ons kan altyd op Sy Woord, op Hom as die betroubare steun en ons deur Hom laat lei.

Hy is ook geestelik. Hierop wys die Here Jesus o.a. in Joh 4:24: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Hy is geestelik wys o.a. daarop dat Hy nie liggaamlik is nie. Ons kan Hom nie vang in ons sigbare bestaan nie. Ons kan op geen manier oor Hom heers nie. Hy is Gees. Selfs van al die geestelike wesens is Hy die God. Alles, sowel die sigbare as die onsigbare dinge staan onder Sy gesag.

Hoe heerlik is dit dat ons die enigste God mag ken as die God wat so ver bo ons uitstyg. Dat ons Hom deur Christus ons Redder as ons Vader mag ken! Dat ons in diepe eerbied mag sê: Die God is ons God. Nie omdat ek oor Hom kan heers nie maar omdat ek deur Christus onder Sy reddende beskerming mag leef. Hoe heerlik dat ek steeds my weer aan Hom mag vasklem ook as die twyfel van die tydgees my oorval. In Sy beloftes, ja in Hom, in Christus my sekerheid mag vind.

Sonder die lewe met hierdie God is daar geen lewe nie maar net ellende. Laat ons dit nooit vergeet nie. Laat ons in ‘n wêreld wat so dikwels God nie ken en nie wil ken Hom tog in Christus ken en aanbid.

AMEN         

 

        ORDE VAN DIENS

 

Opening

Vrede/Seëngroet

Psalm 93

Gebed vir die opening van die Woord

Skriflesing: Jesaja 40: 18-31

Psalm 102:1,11,12

Skriflesing: Psalm 139:1-12

SB 35

        Teks: NGB art 1

Preek

Geloofsbelydenis (sing)

Dankgebed

Kollekte

Psalm 145:1,2,3,12

Seën

 

Gemeente van die Drieenige God, broers en susters in Jesus Christus ons Here

 

Is ‘n Belydenisgeskrif nie maar ‘n dor en dood ding nie? Is dit in werklikheid eintlik nie baie meer as ‘n opsomming nie? Terwyl ‘n mens die werklik lewe in die oorspronklike, die Bybel vind. Dikwels is dit die manier waarop mense na die Belydenisskrifte kyk. Kennis van die Belydenisskrifte word eintlik as onbelangrik gesien.

As mense dan wil aanwys hoe dor en droog  die Belydenisskrifte is, wys hulle graag na art 1 van die NGB. Dit sou nou ‘n goeie voorbeeld wees dat dit wat ons in die Bybel lees op ‘n dor en filosofiese manier beskryf word. Om God ‘n enkelvoudige geestelike Wese te noem sou daarvan nou ‘n kroongetuie wees. Ons het vorige week al gesien dat dit nie die bedoeling is om hier moeilik en filosifies oor God te praat nie. Die woord Wese word gebruik om aan te wys dat die HERE so groot is dat ons hom nie in Sy grootheid en volheid in menslike terme kan beskryf nie.

Hoe belangrik is dit dat ons leer om met die belydenisskrifte werklik as ons belydenis wat vanuit God se eie Woord opkom om te gaan. Om werklik met ons hart daarby te wees en ons te verwonder oor God en Sy werk. Dan vra ons steeds weer wat dit wat ons bely beteken en waar en hoe ons dit in God se eie Woord vind. Dan bly ons nie by woorde staan nie. Dan gaan dit om die inhoud van die woorde en wil ons die inhoud daarvan met ons hart toeëin. Dan leer ons sien dat die kerk in die Belydenisskrifte die geloof bely waarvan die harte van God se kinders so vol is. Die inhoud van die ware geloof soos ons dit in die Bybel vind.

Dan leer jy raaksien dat art 1 nie ‘n dor en dooie artikel is nie maar ‘n loflied op die HERE. ‘n Loflied waarin iets van God se grootheid besing word. Allerhande eienskappe van God word hier genoem sonder om te wil sê dat daarmee alles van God gesê is. Hy is nog groter as al die eienskappe saam wat ons hier van Hom bely. Hy is nog groter maar nie anders nie! Hoe groot is die Vader van ons Here Jesus Christus wat ons as die Drieenige God mag ken en aanbid. Ek hoop dat ons almal daarvan iets sien en van die HERE onder die indruk raak as ek vir julle die evangelie onder die volgende tema verkondig:

 

HOE GROOT IS GOD!

 

Ons het vorige week by die behandeling van die eerste deel van hierdie artikel gesien  dat die HERE, die Vader van ons Here Jesus Christus die enigste God is! Hy is ook die Skepper en God van al die  al diebare dinge. Ook van die skepsels wat ons nie kan sien nie.

Nou word in die tweede deel van hierdie artikel met 10 tiperings iets van die enigste God vertel. Woorde met so ‘n groot en diep inhoud dat ons menslike verstand dit nooit volledig kan bevat nie. Nogtans is dit goed om aandag aan die inhoud van hierdie tiperings van die HERE te gee. Dan doen is dit met ‘n hart wat aan Hom verbonde is. ‘n Hart wat so graag wil hoor hoe groot en heerlik die HERE is. ‘n Hart wat altyd weer in liefde in die kennis van sy God en Verlosser wil groei.

Die eerste wat ons hier bely is dat die HERE  “ewig” is. Ek noem nou eers enkele plekke in God se eie Woord waar Hy Homself as die Ewige aanwys.

Ps 90:2: Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja van ewigheid tot ewigheid is U God.”

Jes 57:15: “Want so se die Hoë en Verhewene wat in ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.”

Openb 10:6: “en die engel het gesweer by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel geskape het en wat daarin is, die die aarde en wat daarin is, en die see en wat daarin is, dat daar geen tyd meer sal wees nie.”

Juis as ‘n mens daaroor nadink dat die HERE die Ewige is, kan ons God se mens as skepsel nie bevat nie. Die hele skepping het ‘n oomblik waarop dit begin het. Jy en ek kan sê wanneer ons gebore is. Jy kan omtrent uitreken wanneer jy verwek is. Dit is vir ons as mense baie moeilik om ons voor te stel dat die HERE altyd daar was. Dat Hy geen begin en geen einde het nie. Die HERE was en is en bly. Dan staan jou en my verstand stil. Hoe ons ookal redeneer, watter teorië ons ookal bedink. Die HERE is ewig. Hy was daar altyd. Dan sien jy hoe ver Hy bo ons mense, bo al die skepsels uitstyg wat die begin van hulle bestaan net aan Hom te danke het. Die HERE sal altyd daar wees. Hy is God en Hy alleen!

Nou is die heerlike wonder broers en susters dat die God by jou en my wil woon! Hy wil by die mens woon wat eie kleinheid en skuld ken. Wat vol liefde en afhanklikheid en ware skuldbesef na Hom gaan. Die mens omring Hy met Sy sorg en liefde vanweë Christus se werk. Dan is dit ‘n wonderlike troos in jou lewe om te weet dat God die Ewige is. Dit beteken dat God se kind mag weet dat hy nooit wat die tyd betref buite God se bereik is nie. Wanneer jy ook leef altyd is God daar. Hy staan bo die tyd, Hy is altyd met Sy hele wese by Sy volk, by Sy kinders. Nooit maak tyd ‘n afstand tussen wie op Christus bou en God as jou Vader nie. Hy woon dan by jou. Hy van wie ons bely dat Hy onbegryplik  is.

Die woord onbegryplik kan ‘n misverstand wek. Beteken hierdie woord dat ons God eintlik nie kan ken nie? Jy kry mense wat vir jou sê dat hulle glo dat iemand die Skepper is, dat daar ‘n God is maar dat hulle nie weet wie en hoe Hy is nie. Hulle sê dat God bestaan maar juis vanweë die afstand tussen God en skepping hy nie deur ons geken kan word nie. Dit is nie wat ons met die woord onbegryplik bedoel nie. God se grootheid sorg nie daarvoor dat ons Hom nie kan ken nie. Hy het Homself juis deur Sy Woord, deur Sy dade, deur Christus laat ken, Homself aan ons gewys. Die woord onbegryplik wys daarop dat God in dit wat Hy doen, in Sy God wees, in Sy wysheid ver bo Sy skepping en ook ver bo die mens wat Hy as Sy beeld geskep het uitgaan.

Ons lees van God se onbegryplikheid o.a. in:

Jes 40:18,28: “By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel? ….Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.

As dit oor die pad van verlossing van sondige mense gaan, kon geen skepsel sien hoe dit moontlik sou wees. Die pad deurdat God se eie Seun vir die verlossing sou gee kom en dat Hy as die gekruisigde die ewige redding verdien,  kom net uit God se ondeurgrondelike wysheid voort. Ons lees daarvan in 1 Kor 2:9-11: “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.”

Ook in God se onbegryplikheid lê vir God se kind weer ‘n heerlike houvas. As jy nie weet hoe dit in en met jou lewe verder moet. Kan jy jou lewe werklik in alle rus in Sy hande laat. Sy verstand is so groot dat Hy die regte pad vir jou deur die lewe weet. Die pad wat jou by Hom en die lewe met Hom bewaar.

Die HERE is ook onsienlik. Dit wil nie sê dat mense die HERE nie gesien en ontmoet het nie. Ons kan hier dink aan die HERE wat in Gen 18 in ‘n menslike gedaante aan Abraham verskyn het. Ons moet ook veral dink aan God wat in Jesus Christus mens geword het. Baie duidelik kom dit na ons toe in wat ons in Joh 14:8,9 lees: “Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. Jesus sê vir hom: Ek is so lank al by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader?”

Nogtans lees ons ook in God se Woord dat Hy die Onsienlike is en dat geen mens Hom gesien het nie. Ek noem weer enkele voorbeelde:

“Wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewig krag.” 1 Tim 6:16

“Deur die geloof het Moses Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien.” Hebr 11:27

Dit is duidelik dat God die Onsienlike is en nogtans gesien kan word. Hy is in die sin onsienlik dat geen skepsel Hom in Sy volle heerlikheid kan sien! Daarvoor is die HERE te groot en te heerlik. Hy is meer as Sy hele skepping. In die sin is God onsienlik. Nogtans wys Hy Homself. Hy maak homself sigbaar, Hy woon op die nuwe aarde onder Sy volk. Hoe heerlik is dit. Hy woon dan by ons terwyl ons mag weet dat Hy nog baie groter en heerliker is as wat Sy volk Hom eendag mag sien.

Die HERE is ook onveranderlik.  Mense is meerdere kere geneig om dit op ‘n negatiewe manier op te vat. Onveranderlik vat hulle dan op as hard en nors. Dit is nou heeltemal in teenstelling met wat die HERE as die Onveranderlike vir Sy volk is. Sy onveranderlikheid wys o.a op Sy betroubaarheid, dat Hy nooit sal lieg nie:

Jak 1:17: “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.”

Hebr 6:17,18: “Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ‘n eed gewaarborg; sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê”.

Dat die HERE onveranderlik is gee vir ons die heerlike boodskap dat Hy doen wat Hy beloof het. Dat ons daar nooit aan hoef te twyfel nie. As jy tot Christus met jou lewe vlug, is Sy belofte dat Hy jou as Sy kind met al Sy liefde en sorg omring. Jou laat deel in die vergifnis van sondes. Die HERE is die onveranderlike en dit beteken dat Sy plan uitgevoer word tot die laaste toe. Dit beteken dat die Nuwe Jerusalem van die hemel sal neerdaal en die duiwel eendag al sy mag sal verloor. Hoe heerlik is dit om te weet dat die Onveranderlike ons God en Vader is.

Die Here God is oneindig. Dit beteken hier nie dat Hy altyd sal bestaan nie want dit het ons al bely in die woord ewig. God se oneindigheid is dat Hy oral is. Dat daar geen plek in die skepping is waar Hy nie aanwesig is nie. Hy sien werklik alles. Ons lees dit op ‘n pragtige manier in Psalm 139:

“Want daar is nog geen woord op my tong nie – of U, HERE, U ken dit geheel en al. U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie. Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk tot my bed, kyk, U is daar! Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.” Vs 4-10.

Waar God se kind ookal gaan oral is die HERE met al Sy aandag liefde en beskerming by jou. Hoe heerlik is dit dan juis om te weet dat Hy ook die Almagtige is.  Wat beteken dit nou dat God almagtig is? Hy kan alles wat Hy wil. Let hierby ook op die tweede deel van die sin. Dit is nie sommer dat God alles kan nie. Dit is naamlik ook nie waar nie. God kan byvoorbeeld nie lieg nie, Hy kan nie sondig nie. Hy kan alles wat Hy wil. Dan mag ons weet dat alles regtig in Sy hand is en dat niemand Hom kan verslaan nie. God is nie die lydende God wat met mense meeleef maar hulle verder nie kan help behalwe dat hy vol simpatie is nie. Ons mag juis uit die wete dat God almagtig is altyd weer moet put. As ons dink dat ons lewe vasloop en nie verder kan nie. As ons eensaam is en eintlik nie sien hoe nog ‘n pad vorentoe moontlik is nie mag ons weet dat God Almagtig is en dat Hy regeer. Juis op die dag dat die HERE na die geboorte van Ismael wil duidelik maak dat nie Ismael Abraham se opvolger sal wees nie maar dat Abraham by Sara, al is sy al negentig nog ‘n seun sal verwek, sê Hy: “Ek is God die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.”

As ons in eenvoudige vertroue op God leef, mag ons weet dat dit wat ons Vader kan doen so baie meer is as wat ons dink. Die Heilige Gees sê dit vir ons op ‘n pragtige manier in Efese 3:20,21: “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid!"            

Die Almagtige Vader is nie die God wat net die sterkste wat daar is nie. Hy is die Almagtige wat ook volkome wys is. Paulus noem die HERE in Rom 16:27: die alleenwyse God. Dit beteken dat die HERE alles oorsien. Daar is niks wat Hom ontgaan en ook niks waarop Hy nie die antwoord weet wat vol wysheid is en die regte bewerk nie. Nooit ontgaan Hom iets waardeur Hy iets doen wat nie reg is nie of waardeur Hy verras word nie. Ons is nie alleenwys nie. Ons neem dikwels verkeerde besluite en ons het dikwels ander nodig wat ons raad gee om die regte besluite te kan neem. So is dit nie met die HERE nie. Hy is regtig alleenwys. Hy is die Bron en die Begin van alle wysheid. As Israel die HERE se grootheid nie werklik meer raaksien en eerbiedig nie vra die Gees in Jes 40 enkele vrae waarvan elkeen weet dat daarop die antwoord niemand moet wees. Dit is die volgende vrae: “Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman onderrig? Met wie het Hy raad gehou, dat die Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig?” vs 13,14

Die alleenwyse God is ook regverdig.  Regverdig beteken dat Hy volgens reg handel. Dit is God se eie reg. Dit beteken nie dat God die reg in eie hand neem in die sin dat Hy willekeurig is nie. Sy reg is dit wat werklik regverdig is en daarvolgens handel die HERE. Hy is nooit oneerlik, Hy kroek nooit nie. Selfs toe dit God baie gekos het om die gelowiges, om Sy uitverkore kinders uit die mag van sonde en satan te verlos het die HERE volgens reg gehandel. Hy het toe Sy eie Seun na die wêreld gestuur omdat volgens reg ons skuld werklik gedra en afbetaal moes word. Die enigste moontlikheid daarvoor was dat die Seun mens sou word en ons straf op Hom sou neem. Ons sien dan dadelik ook God se heerlike liefde wat nie in stryd met Sy regverdigheid is nie. Hy het die wêreld so lief gehad dat Hy Sy Seun werklik gestuur het en Hy volgens God se plan tot aan die kruis gely het en ons straf  volledig betaal het. Juis in Christus sien ons dat God regverdig is, volledig. Paulus wys daarop in Rom 3:25,26:

“Jesus Christus het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys  deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God – om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees  en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.”

Hierin sien ons die HERE se goedheid. Hy is goed. Hierin lê dat Hy vol van liefde is. Hy wil juis dit wat goed is gee. Dit is ook juis daarom dat as Hy skep die resultaat die volgende is: “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en – dit was baie goed.” Gen 1:31 Dit is nie Hy maar ons wat dit wat goed was bederf het. Ondanks dat ons die skuld van bederf is, wil die HERE nog altyd vanuit Sy trou en liefde in die verbond vir ons die goeie gee. Hoe heerlik is dit om te weet dat God goed is. Dit beteken dat ons in ‘n wêreld waar niemand werklik goed is altyd ons toevlug by die HERE neem. By Hom van wie die Here Jesus sê: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God.” Mark 10:18

Die HERE is goed en die heerlike is dat Hy nie alleen goed in Homself is nie. Sekere mense sê dat God die skepping gemaak het en dat Hy daarna Sy hande van die skepping afgetrek het en ons nou daarmee moet maak wat ons wil. Gelukkig is die HERE nie so nie. Hy die goeie God is nog elke dag by Sy hele skepping betrokke en is die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is. Dit wat in ons lewe goed is, is niks ander as ‘n geskenk van God nie. Alles waarvan ek in my lewe op ‘n goeie manier mag geniet, kry ek van God. Van die vergifnis wat ek nodig het en die Gees wat my lei en sterk tot die vriendelike gebaar, die woord van bemoediging, die kind wat my deur wat hy sê of doen laat lag. Alles goeie gawes, heerlike onverdiende presente van Vader in die hemel. Hy maak die lewe van Sy kinders in ‘n sondige wêreld goed. Hy is dit wat eendag vir Sy volk, vanweë die Here Jesus se werk, die nuwe hemel en aarde as ‘n heerlike geskenk vir ons gee. ‘n Ewige geskenk!

Broers en susters, seuns en dogters ons het nou nog maar net iets van God se grootheid gesien. Ons kan nog so onnoemlik baie meer noem en dan weet ons die meeste selfs nog nie. Hoe groot is God en hoe heerlik dat ons Hom in Christus mag ken. As jy Hom nie ken het jy geen toekoms en ware vreugde nie. Laat God se grootheid jou beindruk en jou tot Hom laat gaan. Leef met Christus en daardeur met God. Dan kom in jou en my lewe die loflied op dat ek Hom mag ken. As ek Hom maar werklik ken! Dan leer ek met Paulus van harte sê: “o Diepte van rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid.

 

AMEN (Rom 11:33-36)                                         

 

        ORDE VAN DIENS

 

Opening

Vrede/Seëngroet

Psalm 19:1,2,3

Geloofsbelydenis

Psalm 147:3,7

Skriflesing: Psalm 19

                   1 Korinte 13

Gebed

Kollekte

Psalm 19:4,5,6,7

        Teks: NGB art 2

Preek

Psalm 104:17,18,20,21

Dankgebed

Psalm 25:5,6

Seën

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus, broers en susters

 

Die HERE is God. Hy is die enigste God. Hy is ‘n Geestelike wese. Dit beteken dat ons met ons liggaamlike oë die HERE nie kan sien nie. Die HERE is God en is op geen enkele manier verplig om Homself vir ons te wys nie.

Ons sou die HERE nie geken het as Hy Homself nie aan ons sou gewys het nie. Dan sou ons op aarde nie verder kon gekom het as die gedagte dat daar Iemand moet wees wat die aarde en die hele heelal geskep het. Dan sou ons dalk na ‘n god of gode gesoek het maar altyd in onsekerheid bly leef het. Dan kon ons in ons gedagtes en in ons woorde nooit verder kom as dit wat ons met ons oë sien en deur die ondersoek van die skepping ontdek nie. Dan sou daar niks meer moontlik wees as ‘n sogenoemde “geslote wêreldbeeld”. Dan kon ons nie verder as die skepping kyk nie. Ons sien vandag baie mense wat vanuit so’n geslote wêreldbeeld leef en dink.

Ons kan dan in boeke of  deur die radio of televisie of internet dalk indrukwekkende woorde lees. Mense praat dan van holisme, panteisme, panenteisme, die moedergodin aarde. Hierdie woorde en name wys met hulle verskille almal daarop dat mense nie verder as die skepping kyk nie. Die hele skepping saam is dan op een of ander manier god. Elke skepsel, elke mens sou dan ‘n stukkie van God in hom of haar hê en saam vorm ons dan God of die waarheid.

Hierteenoor staan nou juis dat God wat bo die skepping staan, wat die Skepper is Homself aan ons geopenbaar het. Hy het in Sy wysheid en goedheid Homself as die enigste God gewys. Ons hoef nie in onsekerheid te leef nie en tot allerhande menslike teorië ons toevlug te neem nie. Ons bely dit in art 2 en ons hoor daarin Christus se evangelie as ek vir julle God se Woord onder hierdie tema bedien:

 

          GOD OPENBAAR HOM AAN ONS    

 

1.      In Sy werke

2.      Deur Sy Woord

 

1.      In Sy werke

 

Dit is vir die verstaan van art 2 belangrik om op die eerste sin te let: “Ons ken Hom deur twee middele”. Let op die woordjie ons. Die ons is die gelowiges, hulle wat met die hart glo en met die mond bely. Dit gaan om hulle wat die evangelie ken, wat die inhoud van die Bybel as God se Woord ken. Die twee middele waardeur ons God mag ken staan by die gelowiges dan ook in die regte verhouding en funksioneer los of sonder mekaar nie. God se kind sien juis die HERE in die skepping, onderhouding en regering van wêreld raak omdat Hy die HERE vanuit Sy Woord, die Bybel ken. Die Heilige Gees het deur die heerlike voorreg om God se Woord te ken vir hom ‘n bril op sy neus gesit. Die bril sorg daarvoor dat hy in die skepping, onderhouding en regering van die wêreld baie meer van God se werk kan raaksien en daaroor bly en verwonderd kan raak. As ons nou daarop let hoe die HERE Hom in Sy werke wys doen ons dit as gelowiges, as mense wat die voorreg ontvang het om God se Woord te hê en te ken.

Die HERE openbaar Hom in Sy werke het ons gesê. Ek het dit met opset so gesê  en nie geformuleer: “in Sy skepping” nie. Dikwels het ons die neiging om net daarvan te praat hoe pragtig en oorweldigend ons die HERE in die skepping kan sien. Dit is ook so dat ons Sy krag en Goddelikheid heerlik in die skepping sien. Ons hoef hier maar net enkele plekke in die Bybel te dink waar die Gees dit vir ons wys.

As jy ‘n seekoei sien dan mag jy weet wat die HERE in Job 40 gesê het: “Kyk, daar is die seekoei wat Ek gemaak het saam met jou. Gras eet hy soos ‘n bees. Kyk tog, sy krag is in sy kruis, en sy sterkte in die spiere van sy buik. Hy hou sy stert reguit soos ‘n seder, die senings van sy dye is inmekaar gevleg. Sy gebeente is pype van koper, sy bene soos stawe van yster. Hy is die eersteling van die weë van God; Hy wat hom gemaak het, het hom sy swaard verskaf.”

Dit is nie net in diere dat ‘n mens God se grootheid sien nie. Ons lees naamlik in Psalm 19: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel die werk van sy hande. Die een dag stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan” vs 2,3. As jy en ek in die aand na die helder sterrehemel kyk, sien ons die HERE se grootheid, sien ons die grootheid van die Skepper: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie. …. Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.” Jes 40:26,28.

Die HERE wat alles geskep het, is die God wat daarvoor sorg dat Sy skepping nou nog bestaan.        

Die HERE het die hele skepping nie gemaak om gou te wys waartoe Hy in staat is en dit dan weer aan sy lot oor te laat nie. Die enigste God wys Sy trou, Sy grootheid juis ook daarin dat Hy Sy skepping laat bestaan. Hy hou die skepping in stand, hy onderhou dit. Dit is nodig want op die oomblik dat die HERE Sy hande van die skepping sou aftrek, sou dit as ‘n kaarthuis in mekaar tuimel.  Die skepping het nie die krag op homself in stand te hou nie. Let o.a. op dit wat ons in Psalm 102 lees:

“In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande. Hulle sal vergaan, maar U sal bly; ja, hulle almal sal soos ‘n kleed verslyt; U verwissel hulle soos ‘n kledingstuk, en hulle verdwyn. Maar u bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.” Vs 26-28

Dit is die HERE wat steeds weer daarvoor sorg dat mens, dier en plant op hierdie aarde kan voortbestaan. Hy gee alles wat daarvoor nodig is: “Sing ‘n danklied tot eer van die HERE, psalmsing tot eer van onse God met die siter; wat die hemel met wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat uitspruit, wat aan die vee hulle voedsel gee, aan die jong rawe as hulle roep.” Ps 147:7-9

Die is die Heilige Gees wat elke jaar weer daarvoor sorg dat na die winter weer nuwe lewe orals deur ons gesien mag word: “U stuur U Gees uit, hulle word geskape; en maak die gelaat van die aarde nuut.” Ps 104:30. As ons na die skepping kyk sien ons die HERE ons God. Hoe pragtig is alles wat Hy gemaak het. Hoe groot moet Hy wees. As ons daarop let hoe Hy elke dag weer daarvoor sorg dat die heelal bly bestaan, hoe Hy steeds weer vir nuwe lewe op aarde sorg, staan ons vol ontsag en bewondering en kan ons nie ander as Hom prys nie.

Nou is dit nie so dat die HERE Homself alleen daarin wys dat die skepping en die lewe bly bestaan nie. Nee, Hy wys Homself ook in die geskiedenis van die wêreld, in die geskiedenis van die mensheid. Die HERE sorg nie net vir die lewe nie maar regeer ook die geskiedenis. Hy doen dit ook in ‘n wêreld waarin die mens na die sondeval nie ‘n gehoorsame burger in God se Koninkryk wil wees nie. Ondanks die duiwel en die mens wat daarvoor gekies het om nie God as Koning  te eerbiedig nie is dit nogtans die HERE wat regeer. Hy regeer ondanks alle teenstand so dat Hy onstuitbaar op pad is na die verwerkliking van Sy plan. Niks en niemand kon Hom teenhou om Sy volk te bewaar en om die Verlosser Jesus Christus in hierdie wêreld te bring nie. Niemand kon teenhou dat die Here Jesus volgens God se plan die werk van ewige redding gedoen het nie. Hoe die duiwel dit ookal deur Herodes, deur die versoeking in die woestyn, deur ander teenstand geprobeer het. Hoe die duiwel ookal probeer het om die verkondiging van Christus die Verlosser te kniehalter deur verskriklike geweld en marteling, deur dwaalleer nogtans het die HERE gewys dat Hy Koning is. Hy bewaar Sy kerk, Sy kinders deur alles heen. Hy regeer en niemand anders nie. Christus self regeer! Hy is dit wat die geskiedenis so regeer dat dit op pad is na die groot dag dat die Here Jesus op die wolke terugkom, die Nuwe Jerusalem van die hemel neerdaal. Dan sal almal moet erken dat die HERE regeer en nie die magtiges van die wêreld nie.

Laat ons so na die geskiedenis kyk en daarin steeds weer Christus se hand van regering en bewaring van Sy kerk sien. Laat ons ook so mekaar leer en ook veral in ‘n gereformeerde skool die leerlinge leer om so na die geskiedenis te kyk. Om daarin God se hand te sien. Om daarin die grootheid en krag van die enigste God raak te sien.

Hoe belangrik is dit vir elkeen van ons dat ons die skepping en die geskiedenis leer lees. Dat dit vir ons ‘n pragtige boek is wat nie vol raaisels en geheimtekens is nie maar dat dit vir ons al meer ‘n pragtige boek word waarin ons die HERE se werk sien. Waarin ons Christus sien regeer tot verlossing van God se volk.

Dit is werklik  dat die HERE Hom  in skepping en geskiedenis so wys. Dit is ‘n feit. Nogtans sien baie mense dit nie. As mense in die skepping en die geskiedenis nie die HERE as die enigste God sien werk nie moet ons God daarvan nie die skuld gee nie. Hy wys Hom daarin baie duidelik. Dit is die mens se eie skuld dat hy dit nie sien, dat hy dit nie wilo sien nie. Toe ons in die sondeval teen God gekies het, het ons self daarvoor gesorg dat ons dit nie meer wil sien nie. Ons het ons van God afgekeer en wil Hom nie meer as die enigste God erken nie. Dit wat die HERE in skepping en geskiedenis wys is vir die mens soos Hy hom geskep het genoegsaam om die HERE as die enigste God te ken.  Genoegsaam om hom daarvan te oortuig dat die HERE God is. Ons het werklik nie ‘n verontskuldiging nie want die HERE het ons goed gemaak. Nog altyd wys die HERE Hom elke dag as Hy die son laat opgaan, as jy die bome en blomme sien, as jy deur jou verkyker die seekoeie en krokodille sien lê of speel. As jy vanuit jou venster die voëls in jou tuin sien. As ons daarin nie die HERE raaksien nie is die oorsaak daarvan dat ek vir die sonde gekies het en nie verder as die skepping wil kyk nie. Dit is wat die mens wat aan die sonde vashou doen. Paulus skryf in Rom 1 nadat hy in vers 20 daarop gewys het hoe die HERE Hom in Sy werke wys hoe die mens wat vir die sonde bly kies dit vervorm. Hy skryf dan dat die mens dwaas geword het sy hart verduister geraak het. Waaruit blyk dit dan? : “Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormingheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.” Rom 1:22,23

Laat ons verder as hierdie wêreld en selfs verder as die hele heelal kyk. Mense wat nie verder kyk, vertrou daarop dat deur ruimtuie en signale wat ons nou ver uit die ruimte kan ontvang, kan sien hoe die heelal miljarde jare gelede ontstaan het. Ons sou die hele geskiedenis waarin die materie homself geskep het deur hierdie sake kan aflees. Hier sien ons weer hoe die mens nie verder as die skepping wil kyk nie. Al maak hy nie meer beelde en praat hy nie meer van gode nie nogtans het sy eie ontdekkings en sy eie uitleg daarvan sy god geword. Hy het homself ‘n god geword. So maak ons onsself blind vir God wat Hom in Sy werke openbaar.

Hoe heerlik is dit om die HERE te ken en om deur die heldere bril van God se eie Woord, die Bybel die Here God te mag sien werk in verlede en hede. Om deur die Gees se werk daarvoor oop oë te mag hê. Dan is die Bybel vir ons ‘n heerlike geskenk van God wat ons nie genoeg kan waardeer nie. Dit is ook daarom dat in die Nederlandse Geloofsbelydenis so baie aandag aan die Skrif gegee word. Dit begin in ons artikel en strek tot by artikel 7. Hoe belangrik is dit ook in ons tyd om daarop te let wat die Bybel is en watter plek die Bybel in ons lewe behoort in te neem. Enkele elemente daarvan sien ons in punt 2.

 

2.      Deur Sy Woord

 

Ons het die Skrif nodig. Ons het dit nodig om te sien hoe die HERE in skepping en geskiedenis werk. Om dit al hoe duideliker en al hoe meer te kan raaksien. Die Heilige Gees wys dit vir ons op ‘n pragtige manier in Psalm 19. Die Gees wys ons in die eerste deel van hierdie Psalm (vs1-7) hoe God Hom in die natuur wys. Jy sien God as jy die hemel kyk, as jy die son sien opkom. Om dit te kan raaksien en om die HERE wat dit doen nog beter, nog inniger te kan ken het jy Sy Woord, Sy wet nodig. Ons lees dan na die eerste 7 verse: “Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige. Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë.” Vs 8,9.

Die HERE laat Hom intiemer en duideliker in Sy Woord, die Bybel ken. Hy wys daarin meer van Homself, meer volkome, as in dit wat ons van Hom in die skepping en die geskiedenis sien. Let daarop dat ons in ons belydenis beklemtoon dat die HERE Homself in Sy openbaring bekend maak.

Dit is baie belangrik vir die manier waarop jy Bybellees, Bybelstudie doen, preek maak en na die preek luister. Dit gaan in die Bybel nie om leerstukke, nie om geloofsteorië nie. Dit is die HERE wat in die Bybel na ons toekom. Hy vertel vir ons wie Hy is en wie Hy vir jou wil wees! Die Bybel is nie een of ander godsdienstige boek met pragtige gedagtes nie maar die HERE praat in die Bybel persoonlik met jou. Hy vertel vir jou persoonlik, vir Sy volk wie Hy is en wat Hy gedoen het. Hy vertel self hoe Hy wil dat ons Hom dien en liefhê. Die Bybel is werklik die unieke boek in die geskiedenis. Nie een boek is soos die Bybel nie. Nie een ander boek is God se eie Woord nie. Dit is ook die rede dat ons hierdie boek nie as enig ander boek mag behandel nie. Die Bybel is God se Woord. Dit is die Woord waaraan ons al die ander boeke, die hele lewe, die hele geskiedenis behoort te toets.

As ons nou bely dat die Bybel God se Woord is, ons kom daarop volgende week uitgebreid terug,  beteken dit dan dat ek alles van God kan weet ?

Nee! Die Bybel is God se heilige Woord, dit is Sy eie stem maar nogtans het Hy daarin nie alles van Hom geopenbaar nie. Die HERE is meer en groter as wat Hy van Homself in die Bybel vertel. Nou is dit baie belangrik om dan te weet dat ons nie alles van God weet nie maar dit wat Hy vir ons gewys het is volledig betroubaar. Soos Hy Hom in die Bybel gewys het so is Hy en nie anders nie.  Hy is self groter as dit!

Dit beteken dat om die HERE te ken ons altyd weer na die Bybel gryp, steeds weer vol verwagting luister na die prediking van God se Woord.  Dit maak ons gretig om met liefde die Bybel te lees en te lees. Dit maak God se kind ook nederig want ekn weet dat ek my hemelse Vader nog altyd net vir ‘n deel ken. Dit leer ons om altyd nog uitsien na die tyd dat ons by Hom saam met God se hele volk op die nuwe aarde mag woon. Dan mag ek deur Christus God sien as nooit tevore nie. Ons lees daarvan in 1 Kor 13: “Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot nie gaan. Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind; maar nou dat ek ‘n man is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê. Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.” vs 9-12

Nogtans is dit heerlik dat ons nou die HERE op ‘n heeltemal betroubare en regte manier mag ken. Dat Hy ons Sy eie Woord gegee het waardeur ons ook Sy wil en Christus as ons Verlosser mag ken. Ons wat vir die duisternis gekies het en om dan in die donkerheid van ons eie sondige hart rond te dwaal sonder om die regte pad van verlossing te sien het van die HERE Sy Woord gekry. Die Woord wat is: “ ‘n lamp vir my voet en ‘n lig op my pad.” Ps 119:105 Die Woord waarvan Petrus skryf: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte”. 2 Petr 1:19 Die Woord wat die waarheid is! Joh 17:17.

Die heerlike is dat ons in die Bybel van Vader in die hemel genoeg gekry het om so te leef, om so te werk, om so jou vakansie deur te bring, om as gesin so te leef, om so met wetenskap te kan besig wees dat jy dit tot eer van God doen. Dat jy dit in liefdevolle gehoorsaamheid aan Hom en Sy wil doen. Om Hom vanweë die grootheid wat jy deur Sy openbaring ken Hom te aanbid, te prys en te loof as die enigste God.

As jy so na die HERE self luister. As jy juis daarom in gebrokenheid oor jouself, oor jou sondes en in verwondering vanweë God se liefde deur Christus na die Heiland steeds weer gaan.  Dan sien jy in jou eie liefde, so wonderlik groot, dat Hy Hom en Christus die Verlosser aan jou gewys het tot jou saligheid, tot jou ewige verlossing. God se Woord, die Bybel is die Woord van verlossing tot eer van die Drieenige God. Halleluja!

 

AMEN