Stabiel terwyl alles skud en skok Psalm 125

29-08-2016 08:20

STABIEL TERWYL ALLES SKUD EN SKOK

Enkele aantekeninge by Psalm 125

PSALM 125

 

‘n Bedevaartslied

Die wat op die HERE vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, maar  bly tot in ewigheid.

Rondom Jerusalem is berge; so is die HERE rondom sy volk van nou af tot in ewigheid.

Want die septer van goddeloosheid sal nie rus op die erfdeel van die regverdigies nie, sodat die regverdiges hulle hande nie sal uitsteek na onreg nie.

HERE, doen goed aan die goeies en aan die wat opreg van hart is.

Maar die wat langs krom paaie wegdraai, sal die HERE laat vergaan saam met die werkers van ongeregtigheid. Vrede vir Israel!

 

Stabiel

 

Israel gaan volgens God se gebod drie keer ‘n jaar na Jerusalem om daar die drie groot feeste te vier. As hulle op pad is en alhoe meer mense by die groep aansluit sing hulle die bedevaartsliedere. Terwyl hulle Jerusalem sien, terwyl hulle op ‘n afstand die tempel op die berg Sion sien, sing hulle van Jerusalem. Jerusalem wat aan drie kante deur berge omring word en so ‘n natuurlike verdediging teen vyande ontvang het. Die mens wat op die HERE vertrou word eers met die vastheid van die berg Sion vergelyk. Die berg Sion is vir God se volk die teken van die vastheid dat die HERE  by hulle woon, dat Hy vir hulle sorg. Die berg Sion beweeg nie,  dit is die berg wat die HERE uitgekies het om daarop te woon. God se volk vind in die HERE hulle rus en hulle beskerming. Elke gelowige vind in God rus. Wat ook rondom hom gebeur as hy sy lewe in die HERE se hande lê, staan sy lewe so vas as die berg Sion. Dan straal rus en stabiliteit uit sy lewe uit. Nie die omstandighede beheers sy lewe nie maar die sekerheid dat die HERE by hom is. Dit gee ook die sekerheid dat sy lewe veilig is. Sy lewe is veilig omdat hy deel van God se volk is. Hierdie veiligheid, hierdie sekuriteit wat die HERE vir Sy volk gee vergelyk die Heilige Gees hier met die berge wat  rondom Jerusalem is. As die gelowige in die pad val om na Jerusalem gaan en hy kom nader, sien hy hoe berge God se stad omring. Hierdie berge gee vir Jerusalem ‘n natuurlike beskerming teen vyande. Die opvallende is dat in Psalm 125 al die klem gelê word op die 3 kante waar Jerusalem deur berge omring word. Hier word niks gesê oor die een kant waar Jerusalem ooplê nie. Dit gaan die Gees daarom dat beklemtoon word hoe die berge rondom Jerusalem hierdie stad beskerm. Soos die berge aan drie kante vir Jerusalem beskerm so omvou die HERE met Sy beskerming Sy volk. Die kerk word deur die HERE beskerm. Dit kan lyk asof  op sekere plekke die vyande sommer in kan stroom. Al lyk dit so nogtans is dit vir God se ware volk nie nodig om paniekerig en bang te wees nie. Ook daar staan God as die Almagtige beskermer. Hierdie beskerming het Christus met Sy werk verdien. Die HERE se beskerming waarborg Jesus se woorde: "d“e poorte van die de ryk sal die gemeente nie oorweldig nie." (Matt 16:18) Hierdie Goddelike beskerming van Sy volk en daarmee ook van enigeen van Sy kinders is nie tydelik nie. Hierdie beskerming word nooit onderbreek nie. Dit is nie so dat die HERE enig oomblik deur slaap, moegheid of deurdat allerhande dinge Sy aandag vra iewers nie met Sy beskerming aanwesig is nie. Die HERE is orals en altyd rondom Sy volk. Hy is die berge wat niemand, selfs die duiwel nie kan deurbreek nie.

 

Nogtans aanvegting

 

Die gelowige is na die tempel op pad. Sy hart is vol van sorg. Hy is besorg oor sy volk. Dit woel in sy hart as hy aan die kerk ding. Die oorsaak daarvan is dat ‘n vreemde koning oor God se volk heers. Israel is nie meer vry nie. ‘n Koning heers oor God se volk wat nie vir die HERE dien nie. Dit kan ook so wees dat die ware gelowige wat  in die pad geval het om na die tempel gaan hartseer in sy lewe ken omdat die Dawidiese koning wat regeer goddeloos regeer. Psalm 125:3 praat van die septer van goddeloosheid. Dit beteken dat afval van die HERE oor God se volk regeer. Wat is die groot gevaar as ‘n goddelose koning oor Juda regeer? Wat is die gevaar as onder God se volk die goddeloosheid kan voortwoeker sonder dat dit bestraf word? Die gevaar is dan dat die regverdiges, dat hulle wat die HERE wil volg, die reg in eie hand begin neem. Dat hulle met geweld die goddeloses wil straf en nie die wraak aan die HERE laat nie. Die gevaar is daar dat ook die regverdiges deur die aanhoudende goddelossheid aangesteek word. Dat ook hulle stadig maar seker dinge begin doen wat met die HERE se reg stry. Die gevaar bestaan altyd in die geskiedenis. Ook vir ons vandag. As ‘n lewe sonder Christus, ‘n lewe anders as volgens die HERE se Woord gewoon word,  kan gelowiges begin afval. Dit is die groot gevaar in ‘n samelewing wat al hoe meer verwêreldlik. Ook in hierdie omstandighede bemoedig die HERE Sy volk. Ons lees naamlik in vers 3 dat die septer van goddeloosheid nie op die erfdeel van die regverdiges sal rus  nie. Die Heilige Gees verseker hier dat die septer van goddeloosheid nie blywend sal regeer nie. Hierdie septer sal nie rus vind nie maar eendag weer verdwyn. Hier sien ons dat die Here in die geskiedenis vir Sy kerk tye gee dat dit moeilik is omdat die lewe sonder God en Sy goeie gebooie aanbeveel word en deur die regeerders gepropageer word. Dit kan baie swaar vir die kerk word, soos die tyd onder koning Agab toe nog net 7000 oorgebly het wat nie vir die afgode aanbid nie. Nogtans is dit nie nodig om op moedverlore se vlaktes te kom nie en by die HERE weg te beweeg nie. Die HERE sal dit vir Sy volk ook nooit te moeilik laat word nie. As die Here Jesus van die tyd voor die laaste oordeel praat en daarop wys dat dit op ‘n sekere oomblik baie moeilik vir die gelowiges word sê Hy: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af  tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.”

Die septer van goddeloosheid sal nie langer heers as wat dit deur die gelowiges verdra kan word. Hier sien ons hoe die HERE in Sy liefde met elke kind van Hom rekening hou. Ons lees dit ook in 1 Kor 10:13: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan verdra.”

Die HERE laat Sy volk nie sonder uitsig en hoop nie.

 

Vrede vir God se volk           

 

Ons lees in vers 4 ‘n gebed. ‘n Gebed  waarin die regverdiges ook verder getipeer word. Hulle word hier die goeies en die opregtes van hart genoem. Hulle is die goeies omdat hulle op die HERE se Woord let, omdat hulle Sy verbondswoord as die betroubare woorde aanneem en daarvolgens lewe. Dit beteken dat hulle dit doen wat goed in die HERE se oë is en goed vir hulle naastes is. Die regverdiges is hulle wat dit nie net doen omdat die omgewing dit van hulle verwag nie. Hulle is nie hulle wat net ‘n uiterlike gehoorsaamheid aan die HERE toon nie. Dit kom uit hulle hart uit. Hulle lewe word deur die liefde van God beheers. Hulle is opreg in dit wat hulle sê en doen. Dit beteken nie dat hulle sondeloos is nie. Selfs as hulle sondig is daar by hulle die opregte hartseer, die berou vanuit hulle hart. Die gebed om vergifnis kom vanuit hulle hart. ‘n Voorbeeld daarvan is Dawid. Hy het swaar teen die HERE gesondig. Nogtans is hy ‘n man na God se hart omdat berou en die gebed om vergifnis vanuit sy hart kom. Ons lees in vers 5, na die gebed van vers 4,  ‘n belydenis. Die skrywer van hierdie Psalm bely hier dat hulle wat goddeloos lewe nie vir altyd koning kraai nie. Hulle wat van die HERE se goeie paaie afwyk en hulle wat ooglopend dit doen wat die HERE haat,  sal eendag verdwyn. Dan verdwyn ook op daardie punt die aanvegting vir God se volk. Die egte vrede is in Christus se kerk. As Hy opgestaan het en aan Sy dissipels verskyn, sê Hy vir hulle: “Vrede vir julle!” (Joh 20:19). Dit beteken dat die kerk wat Christus verwerp het God se vrede kwyt is. God se vrede is nie meer vir die Joodse kerk nie maar vir hulle wat Christus uit alle volke dien. Hulle het deur Christus vrede met God, hulle is deur Hom regverdiges. Dit is nog steeds ‘n vrede wat aangeveg word. Eendag het hierdie aanvegting verdwyn. Dit is die dag dat vir enigiemand duidelik word dat die septer van goddeloosheid nie op die regverdiges rus nie. Die dag dat dit vir ewig gebeur is die dag as Koning Christus in die wolke terugkeer. Hy spreek dan die laaste oordeel uit. Sy oordeel sorg daarvoor dat dan waarheid word wat ons in Openbaring 22:14,15 lees: Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad. Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.” Die nuwe aarde het gekom en daarop is niemand meer wat die sonde doen nie. Die aanvegting het vir die regverdiges verdwyn. Die volle vrede van God mag nou deur die regverdiges geniet word sonder enige aanvegting. God se vrede het dan in alle volheid oor Sy Israel gekom. Dit is die perspektief waarin ons in Suid-Afrika mag lewe. Dan is dit nie die omstandighede in die land wat ons beheers nie. Die beheersende is dan Christus wat koning is en bo die omstandighede  staan en regeer. Gee Hy vir ons opdragte, al is dit daar waar alles skud en skok, mag ons in rus verder werk. Dan kan van ons as Sy kerk rus uitstraal. Van ons uitstraal die krag van God se vrede. Wie in ‘n roerige samelewing op sy pos bly en rus uitstraal, getuig daarmee van Christus.