WAS JESUS DIE WETSGETROUE JOOD?

02-10-2013 09:43

Hierdie artikel het ek in 2001 geskryf en is toe in de blad Kompas gepubliseer.                    

 

WAS JESUS DIE WETSGETROUE JOOD?

 

Ons lees die laaste maande baie berigte oor die ondersoek na die “historiese Jesus”. Hierdie sogenoemde wetenskaplike navorsing moet vir ons wys wat in die Nuwe Testament nou werklik deur Jesus gesê en gedoen is. Hierdie ondersoek gaan daarvanuit dat dit wat in die Bybel staan nie betroubaar is nie. Hoe belangrik is dit dat ons vanuit God se Woord self die regte beeld van Jesus het! Een van die belangrike vrae vir ons is of Jesus ‘n wetsgetroue Jood was. Moes God se Seun wat mens geword het ‘n wetsgetroue Jood wees?

 

Jesus ‘n Jood?

 

Hierdie vraag is verseker nie ‘n oorbodige een nie. As ons antwoord op hierdie vraag moes wees dat Jesus geen Jood was nie moet ons sê dat Hy nie die Verlosser is nie.

Die Here Jesus moes ‘n Jood wees om volgens God se beloftes die Redder te kan wees. Hy moes ‘n nakomeling van Abraham wees. Die HERE sê naamlik vir Abraham as Hy hom roep: “en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” (Gen 12:3) Van die nakomelinge,  van die saad wat God aan Abraham beloof het ( Sien o.a: Gen 13:15;17:8), sê die Heilige Gees in Galasiërs 3:16: “Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sou sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.”

Jesus moet dus ‘n nakomeling van Abraham wees. Die HERE het later nog meer beloftes gegee waar selfs gesê word uit watter stam en uit watter familie die Verlosser moet voortkom.

Hy moet ‘n deel van die stam Juda wees. Jakob gee elkeen van sy seuns op sy sterfbed ‘n seën. Die seën wat hy in God se naam oor Juda uitspreek is: “Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig. Juda is ‘n jong leeu; van roof af het hy opgeklim, my seun. Hy buig hom neer, hy gaan lê soos ‘n leeu en soos ‘n leeuin; wie sal hom opjaag? Die septer sal van Juda nie wyk nie, nog die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.” (Gen 49:8-10)

Hier lees ons al God se profesie dat uit Juda die man sal voortkom wat eendag “alle mag in die hemel en op aarde” ontvang. Sien Matt 28:18.

Die HERE openbaar in die Ou-Testament ook nog dat die Redder ‘n nakomeling van Isai en Dawid sal wees. Ek noem twee voorbeelde daarvan:

·                                                “Maar daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van vrees van die HERE.” (Jes 11:1,2 sien ook vers 10) Isai is Dawid se pa. (Rut 4:17)

·                                                Ook die Nuwe Testament wys hoe die Jode die Verlosser as ‘n nakomeling van Dawid verwag het. Ons lees in Matteus 22:41,42: “En toe die Fariseërs saamgekom het, vra Jesus hulle en sê: Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy? Hulle antwoord Hom: Dawid s’n.”

Dit is opvallend dat juis Matteus in sy evangelie beklemtoon dat Jesus ‘n nakomeling van Abraham, Juda, Isai en Dawid is. Hy begin sy evangelie met Jesus se stamboom. Dit het alles te doen daarmee dat  hy die Jode deur sy evangelie daarvan wil oortuig dat die Here Jesus die Verlosser is wat in die Ou-Testament beloof is. Die Verlosser moes ‘n Jood wees om die egte Verlosser te kan wees! Gelukkig mag ons deur God se openbaring daarvan seker wees dat die Here Jesus volgens sy afstamming en volgens die wet ‘n Jood uit die stam van Juda en die familie van Dawid is.

 

Wetsgetrou

 

Wat bedoel ek met wetsgetrou? As ons van ‘n wetsgetroue Jood praat dink ons dikwels aan die Skrifgeleerdes en die Fariseërs. Ons dink dan aan mense wat aan God se wet baie reëls toegevoeg het. Die reëls wat hulle gemaak het, het hulle aan ander mense opgelê en was dikwels belangriker as dit wat die HERE in die Bybel gesê het. Dit was nie die manier waarop die Here Jesus wetsgetrou was nie. Hy het hulle wat eie wetjies maak en daarmee selfs God se wet uitskakel, ontmasker. Hy doen dit o.a. in die Bergrede, Matteus 5-7.

Die Here Jesus sê ook dit vir hulle: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle na: die reg en barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.” (Matt 23:23)

As ek van Jesus as ‘n wetsgetroue Jood skryf, gaan dit daarom dat die Here Jesus in alles vol van liefde aan Vader se wet gehoorsaam was. Dit is die gehoorsaamheid wat die Heilige Gees in Psalm 119 laat besing: “Welgeluksalig is die opregtes van weg, wat in die wet van die HERE wandel. Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek; ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in sy weë wandel. U het u bevele gegee om dit trou te onderhou.” (vs 1-4)

Die Here Jesus was wetsgetrou omdat Hy met sy hele hart Vader se wet en wil liefgehad het. God se wet was in Sy hart geskryf. Sy toepassing van God se wet was volmaak!

 

Hoekom is Jesus se wetsgetrouheid vir ons so belangrik?

 

As ons aan Christus se kom in die wêreld dink, gaan ons gedagtes dikwels dadelik na sy lyding. Ons dink dadelik aan die skaduwee van die kruis wat oor sy geboorte val. Ons mag dit ook nooit vergeet nie. Nogtans is daar ook ‘n ander element  aan Sy werk as Verlosser.

Die Here Jesus het in die wêreld gekom om vir en in ons plek te ly en ons straf te dra. Hy moes op hierdie punt God se plan van verlossing uitvoer en daaraan gehoorsaam wees. Hoe swaar was dit vir Hom. Die liefde vir God se uitverkore kinders het Hom beweeg om tot die einde van Sy lyding vol te hou. Ons lees dit o.a. in Joh 13:1: "En voor die fees van die pasga het Jesus, omdat Hy wis dat sy uur gekom het dat Hy uit hierdie wêreld sou oorgaan na die Vader, en omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, hulle liefgehad tot die einde toe.”

Hierdie gehoorsaamheid van die Here Jesus was met ‘n ander gehoorsaamheid verbind. Sy lyding en offer kon alleen krag van verlossing hê as Hy as die totaal Regverdige sou ly.

Adam en ons as sy nakomelinge het God se wet nie gehou nie. Ons het teen die HERE opgestaan. Ons is sondige mense. Die Here Jesus moes nie net die straf dra wat ons vir ons sondes verdien het nie. Hy het as die tweede en laaste Adam (sien 1 Kor 15:45)  gedoen wat die eerste Adam moes doen: volledig lewe volgens God se wet wat goed en heilig is.

Die Here Jesus het gelewe as die wetsgetroue Jood. Hy het vir God se volk gewys wat egte gehoorsaamheid en liefde vir God beteken. Hy was op aarde die egte en regverdige mens. Juis daarom het Sy kruisdood so ‘n geweldige krag. Hy het as die sondelose  mens Sy lewe gegee en het God se straf vir ander  gedra. Omdat Hy so gely het, kan Paulus later skryf: “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word – want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang – sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom inChristus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.” (Gal 3:13,14)

Omdat Jesus as wetsgetroue Jood geleef en gely het, kan en gaan die evangelie na Sy werk oor die hele aarde. Omdat Hy so geleef het, is daar ewige verlossing vir elkeen op aarde wat in Hom glo. Dit is juis daarom dat ons nie meer Jode hoef te word nie. Dit is juis daarom dat ons nie meer hoef te offer, nie volgens die spyswette en allerhande ander wette hoef te lewe nie. Alles wat ‘n skaduwee van Christus en Sy koms was, is deur Sy lyding en lewe vervul en het vir ons nie meer gelding nie. Jesus se werk en lyding as die wetsgetroue mens en Jood het ons van skaduwees verlos en plaas ons in die vryheid van Christus om met ‘n hart vol van blydskap volgens God se wet van vryheid te lewe. Sien Jak 1:25.

Jesus se lewe van volmaakte gehoorsaamheid word oor elkeen gelê vir wie Hy gely het. Sy volmaakte gehoorsaamheid aan Vader se wet bedek die gelowiges se skuld en bedek hulle met die wit klere wat van sondeloosheid spreek.

Hoe heerlik is dit dat ons by die Kersfees ook daaraan mag dink dat die Here Jesus as die wetsgetroue mens in ons plek geleef het!