Preek dordtse Leerreëls II,8,9 God se uitverkorenes het alles in Christus (2e preek)

Preek dordtse Leerreëls II,8,9 God se uitverkorenes het alles in Christus (2e preek)

ORDE VAN DIENS

 

Opening

Vrede/Seëngroet

Psalm 48:4,5

Lesing van die wet

Genadeverkondiging

S.B. 9:4,5,6 

Skriflesing:  1 Konings 19: 8-21

                     Romeine 8: 18-30 

Gebed

Kollekte

Psalm  46: 1,2,3,4

Teks: Dordtse Leerreëls II,8,9

Preek

Psalm 87:1,2

Dankgebed

Psalm 72:10,11

Seën

 

Broers en susters, seuns en dogters gemeente van ons Here Jesus Christus

 

In die aand van 31 Oktober stap ‘n monnik in die strate van Wittenberg. Hierdie monnik is professor Maarten Luther. Hy is die professor vir die Nuwe Testament.

Hy dra ‘n groot papier saam. Hy loop na die kerk. Hy het ook ‘n hamer en spykers saam. Ons hoor die geluid van die hamer deur die nag. Na enkele minute hang die groot papier op die deur van Wittenberg se slotkapel. Waarom het professor Maarten dit gedoen?  Hy wil dat dit wat op hierdie papier staan die volgende dag as die mense ‘n vrye dag het  en kerk toekom lees wat hy geskryf het. Die volgende dag is nie ‘n Sondag nie maar die dag van die Allerheiligste.

Die HERE het vir Maarten Luther gewys wat in die Roomse kerk verkeerd is. Die Roomse kerk leer dat mense nie deur Christus alleen  gered word nie. ‘n Mens kan deur goeie werke en selfs deur goeie werke te koop ‘n groot deel van sy verlossing verdien. Die Here  maak Maarten Luther tot ‘n reformator. Sonder dat Luther dit so bedoel het, word die slaan van die 95 stellinge aan die deur van die slotkapel die begin van die Reformasie. Die Gees sorg daarvoor dat dit gebeur.

Hoe groot word die stryd wat kom. Hoe groot is die druk op Luther om sy stellings te herroep. Hy staan in 1521 in Worms voor die keiser terwyl die Pous en die keiser van hom eis om wat hy leer te herroep. Die Here maak dan sy eenvoudige kneg getrou. Die dood gryns Luther aan en nogtans sê hy in die krag van die Gees vir die keiser: “Hier staan ek, ek kan nie anders nie!” Hy kan nie anders omdat hy net Christus en Sy Woord gehoorsaam wil wees.

Luther het vanuit God se Woord geleer dat ‘n mens net deur God se genade gered kan word. Hy het geleer dat ‘n mens nie in eie krag tot Christus kan kom nie. Dit bring Luther wat dan nie meer deel van die Roomse kerk is nie in stryd met Desiderius Erasmus. Erasmus is ‘n Hollander wat in die hele Europa baie invloed het. Hy is ‘n groot geleerde wat ook baie kritiek op die Roomse kerk het. Baie mense wat met die Roomse kerk gebreek het dat ook Erasmus dit sal doen want dan sal baie ander hom as hulle leier volg. Nogtans het Erasmus een groot beswaar teen Luther en ook teen die latere reformatore soos Zwingli en Calvyn. Volgens Erasmus het die mens ‘n vrye wil en kan ‘n mens as hy met die evangelie in aanraking kom self vir Christus en die goeie kies. Dit lei daartoe dat  Erasmus teen Luther 'n boek oor die vrye wil skryf en Luther antwoord met ‘n boek wat die titel dra: Die gebonde wil. Hierdie diskussie lei daartoe dat ‘n duidelike skeiding tussen die Reformasie en die Humanisme getrek word. Dieselfde stryd tussen regtig die volg van God se Woord in alles en die humanisme sien ons ook in die stryd tussen die Remonstrante en die kontra-Remonstrante. Ons sien dit in die Dordtse Leerreëls. Ons het vorige week al gesien hoe die HERE die opstellers van die Dordtse Leerreëls bewaar het om nie die leer van die vrye wil te volg nie. Hoe ons in ooreenstemming met die Skrif mag bely dat Christus vir die uitverkorenes en net vir hulle die volle saligheid verdien het. Die uitverkorenes, die gelowiges het alles in Christus. Ons sal dit weer sien as ons nog ‘n deel van art 8 en art 9 behandel wanneer ek vir julle Christus se heerlike evangelie verkondig onder die tema:

 

GOD SE UITVERKORENES HET ALLES  IN CHRISTUS

 

  1. Die toepassing van Christus se werk in hulle lewens.
  2. Die sekerheid dat die kerk ewig bly bestaan.

 

  1. Die toepassing van Christus se werk in hulle lewens

 

Ons het vorige week saam gesien dat Christus vir die uitverkorenes gesterf het en vir hulle die werklikheid van die volle verlossing verdien het. As ‘n mens dit hoor en ook vanuit die Bybel raakgesien het dat dit werklik so is, kan dit vraag opkom: maar wat doen ek daarmee? Wat beteken dit nou vir my lewe vir God se oë? Watter boodskap het dit nou vir my en hoe bring my dit nader aan God? Is dit regtig so belangrik om dit te weet en is dit regtig nodig om so skerp te reageer op mense wat dit nie leer nie? Is dit regtig nodig dat die Dordtse Leerreëls praat van die dwaal van Pelagius wat uit die hel teruggehaal word?

Dit is baie belangrike vrae. Ons kry op hierdie vrae ook antwoord as ons let op wat ons hier die verwerving en toepassing van Christus se werk. Die dwaling op hierdie punt word genoem in die eerste deel van die sesde dwaling: “Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat die onderskeid  tussen verwerwing en toeëeiening misbruik om by die onversigtiges en onervarenes die denkbeeld in te prent: Dat God, vir sover dit Hom betref, aan alle mense die weldade wat deur die dood van Christus verkry word, in gelyke mate wou meedeel. Dat sommige die vergifnis van sonde en die ewige lewe deelagtig word en ander nie, hang van hulle vrye wil af.”   

Ons mag geen skeiding maak tussen aan die een kant dat Jesus vir sekere mense die vergifnis van hulle sondes verdien het maar dat hulle dit nie aanneem en nie tot geloof kom en hulle nie sou kom tot ‘n ware lewe met God nie. Christus het vir die uitverkorenes die geloof, die vergifnis en die ewige lewe verwerf, verdien en dit beteken dat hulle dit ook sekerlik sal ontvang en daaruit leef. Paulus wys daarop as hy in Rom 8:28-30 skryf: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, die het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborenes kan wees onder die broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, die het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, die het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, die het Hy ook verheerlik.”

Die roep van die uitverkorenes lei tot geloof, lei tot ‘n lewe uit die geloof, lei daartoe dat mense in Christus glo en deur Sy bloed van al hulle sondes skoongewas word. Hulle gaan eendag die volle heerlikheid, die volle lewe in gemeenskap met die HERE sonder enige aanvegting in.

Die rede daarvoor lê nie in jou of my beter wees as die ander mense op hierdie aarde nie. As die HERE jou roep en in jou werk is dit regtig Sy onverdiende heerlike liefde en goedheid. Paulus wys daarop in Rom 5: “maar God bewys Sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. …. Want as ons, terwyl ons nog vyande was,  met God versoen is deur die dood van Sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.” 8,10

Hier sien jou nou hoe belangrik dit vir jou is om dit te weet en in die geloof daarmee te werk. Hoe belangrik is dit vir die lewe met die HERE, vir die ware sekerheid van die geloof. As jy oor jouself en jou geloof nadink waarin lê dan jou vastheid? Waarin lê jou rus? As jy dit soek in jou keuse vir die HERE, as jy dit soek in jou lewe vir God, in wat jy vir Christus doen, is jou sekerheid so wankelrig en val dit uit jou hande uit. Hoe het Maarten Luther dit in sy lewe ervaar. Luther het in die Roomse kerk groot geword met die gedagte dat die goeie werke hom die sekerheid moet gee dat hy ‘n verloste kind van God is. Hoe Luther ook die beste van sy lewe gee, hoe hy hom ook inspan om allerhande dinge vir die HERE te doen nogtans vind hy nie rus nie. Hy sien by homself nog steeds sondes raak waardeur hy die ewige dood verdien het. Hy vind rus, ware rus as hy geleer het dat deur Christus God se kinders alles in Christus het. As hy geleer het dat die geloof God se geskenk in jou lewe is waaruit God se kinders dan begin leef.

Die Here Jesus is nie ‘n halwe Verlosser nie. Hy is nie die man wat verlossing verdien het om dit in die winkel op die rak te sit nie en dan moet hy toekyk of mense dit wat Hy verdien het koop nie. Hy is die volkome Verlosser. Hy werk met Sy Gees die geloof, die volkome verlossing in God se uitverkore kinders.

Ons bely dit in die Nederlandse Geloofsbelydenis art 22 so: “Daar is dus net twee moontlikhede: In Jesus Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is nie, of dit is alles wel in Hom, en dan het hy wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy volle saligheid. Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie maar dat daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike godslastering wees, want dit sou beteken dat Christus slegs ‘n halwe Verlosser is.” Christus het ook verdien en pas dit deur die Gees toe dat die geloof in die uitverkorenes gewerk en bewaar word.

Nou hoor ek die vraag: Dominee dit klink nou pragtig en ons sien raak hoe groot die HERE is maar hoe kan ek nou weet dat ek ‘n uitverkorene is en dat die HERE so in my werk. Dan kan tog nog nooit iemand in hierdie lewe die sekerheid en blydskap van die geloof hê nie? Ons moet leer om hierdie soort vrae agter ons te laat en hierdie vrae is ook nie nodig nie. Hoekom nie? Omdat die HERE as jou Vader persoonlik na jou toekom. By die doop en ook daarna elke keer weer by die doop van ander, by die lees van die Bybel, by die verkondiging van die evangelie kom die HERE persoonlik na jou toe. Kom Hy met Sy heerlike belofte na jou dat jy in Christus as die volkome Verlosser mag glo. As jy daarop in geloof  op antwoord, as jy die Here Jesus in allerhande worsteling met die sondes in jou lewe leer liefhê, mag jy sekerlik weet dat jy God se uitverkore kind is. Die HERE roep en as jy antwoord mag die sekerheid van die geloof hê. Niemand van ons het die verskoning om te sê: Ek is nou eenmaal nie uitverkies nie. Die HERE roep in liefde en wie antwoord is God se kind wat die heerlike lewe met Hom ontvang. Dan vind jy ware rus, dan rus jou lewe op Christus se offer, op God se keuse vir jou. Dan is jy geborge. Bly dan nie buite die lewe met Christus staan nie. Glo en leef. Dan mag jy ook die heerlike sekerheid hê dat Christus se kerk vir ewig bly bestaan. Ons let daarop in die tweede plek.

 

  1. Die sekerheid dat die kerk ewig bly bestaan

Artikel 9 onderstreep die sekerheid van die volle saligheid vir die uitverkorenes deur daarop te wys dat dit hier om God se raadsbesluit gaan. God se besluit wat van Sy ewige liefde vir Sy kinders getuig word in die geskiedenis uitgevoer. Die uitvoering van die mees wonderlike en genadige besluit, kan deur niks en niemand gestuit word nie. Die duiwel keer hom juis met al sy kragte teen die uitvoering van hierdie besluit. Hy wil keer dat die kerk groei, hy doen alles om die ware kerk te vernietig. Nogtans breek al sy aanvalle stukkend op God se heerlike besluit. Hy kan nie verhinder dat “daar altyd ‘n kerk van gelowiges sal wees, gegrond in die bloed van Christus” nie.

Dit is die Here Jesus self wat hierop wys in Matteus 16. Petrus het daar tot die belydenis gekom dat Jesus “is die Christus, die Seun van die lewende God.” Dan sê die Here Jesus: “Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” 17,18

Hoekom kan die hel met al sy verskriklike kragte die kerk nie oorweldig nie? Hoekom kan die duiwel op geen enkele oomblik van die geskiedenis die kerk tot niet maak nie?

Omdat Jesus Christus die poorte van die hel, van die doderyk ingegaan het. Omdat Hy tot in die hel gely het, hom deur die helse kragte laat folter het en nogtans in volkome liefde en vertroue op Vader staande gebly het. Hy het so volgens God se besluit verdien dat die kerk altyd daar sal wees. Hy het die kragte van die hel sy angel ontneem. Dan kan daar tye wees dat ons volgens wat ons as mense sien begin dink dat die kerk nie kan bly bestaan nie. Dan kan dit lyk dat die wêreld die kerk oorwin. Mense dink somtyds vandag ook so. Daar is nie meer toekoms vir die kerk sê hulle dan. Dan vergeet ons Christus se werk. Die resultaat van Christus se lyding is juis dat Hy die kerk vergader en God se plan sal voortgaan. Ons lees dit al in die profesie van Christus se lyding in Jesaja 53. Ons lees daar in vers 10: “Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees.

As ons net menslik na die toekoms van die kerk kyk vergeet ons dat Christus uit die dood opgestaan het en vanuit die hemel as die Koning van die konings en die Koning van die Kerk regeer. Hy sorg daarvoor dat die kerk tot selfs in die grootste verleiding bly bestaan. ‘n Voorbeeld daarvan in die Ou Testament is die bestaan die kerk in die Tienstammeryk as Agab koning is. Elia tree as die HERE se profeet op. Hoe groot is die teenstand teen die HERE en sy kneg Elia. Na meer as drie jare droogte wys die HERE op die berg Karmel vir Agab en die volk dat Hy die enigste God is. Die HERE gee op Elia se gebed weer reën. Ondanks dit wil Agab se vrou Isebel Elia gevangeneem en doodmaak. Elia kom op moedverlore se vlakte en dink dat hy amper nog die enigste is wat die HERE dien. Dan vertel die HERE wat die werklikheid is wat jy met mense oë nie kan sien nie. Ons lees in 1 Konings 19:18 dat die HERE vir Elia sê: “Maar ek sal seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baal gekniel en elke mond wat hom nie gesoen het nie.”

Die HERE bewaar Sy kerk en dit beteken dat Hy Sy kinders ook persoonlik by die lewe met Christus bewaar. Dit kan wees dat jy twyfel of begin twyfel. Dit kan wees dat jy dit veral doen as jy sien hoe in baie kerke die afval al hoe groter word. Wie gee jou en my die sekerheid dat ons werklik volhou om aan Christus vas te hou en lewende lidmate van die kerk te wees? Wie gee jou die sekerheid: Die HERE self! Die helse kragte kan nooit so groot word dat God se kinders nie staande kan bly nie. Die Here Jesus sê dit vir ons in Matt 24:24: “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.” Die hel ontplooi geweldige kragte maar wie in Christus rus kan nie vir ewig mislei word nie. Christus het verdien dat hulle tot die einde sal volhard, lidmate van Sy kerk is en bly.

Broers en susters, seuns en dogters as ons so die HERE se almagtige werk raaksien, dan laat dit jou nie onaangeraak nie. Dan kan jy nie meer aan die kant bly staan nie. Dan kan jy in die kerk nie ‘n draadsitter wees nie. Dan kan ons as gemeente nie lou wees nie. Dan sien jy Christus die volkome Verlosser wat so ongelooflik baie vir ons verdien het. Hy het daarvoor tot in die hel so intens gely. Hoe lief raak jy dan vir Christus. Jy wil en kan Hom nie meer in jou lewe mis nie. Lewe sonder God word vir jou dan verskriklik. Hoe erg is dit dan vir jou as jy voel dat nou ‘n sonde tussen jou en die HERE staan. Jy kan die onbelede sonde nie onbely laat nie. Jy soek God se vriendlike aangesig. Jy vlug na Christus steeds weer. Jy wil vir Christus leef jou hele lewe, jy wil in die geloof volhard. Jou hart jubel en is vol dank as jy daaraan dink dat jy in God se liefde mag deel. My broer en susters, seuns en dogters laat tog niemand van julle daarbuite wil of gaan staan nie. As jy nou nie waarlik met Christus leef, kom tog tot Hom. Soek nie by jou eie keuse jou lewe nie maar lê jou hele lewe in God se hande. Dan is jy deel van Christus se kerk wat ewig bly bestaan. Deel van die volk wat eendag sonder enige traan, hartseer, siekte en dood op die nuwe aarde sal leef. Ook dit het God se uitverkore kinders in Christus. Alles in Hom, niks in myself. Dit bring Christus se kerk tot lof en dank op God wat Sy uitverkore kinders onverdiend alles in Christus gee!

Dankie Vader, Seun en Heilige Gees. U Drie-enige God loof en prys ons! Bly daar tot nie buite staan dan verloor jy in jou eiesinnigheid alles want jy het net die verdoemenis in jouself.

 

CHRISTUS SE GEMEENTE Sê OP HIERDIE VERKONDIGING VAN DIE EVANGELIE: AMEN