Preek Dordtse Leerreëls III/IV, 1,2 Die mens is totaal verdorwe

Preek Dordtse Leerreëls III/IV, 1,2  Die mens is totaal verdorwe

ORDE VAN DIENS

 

Opening

Vrede/Seëngroet

Psalm 130:1,2

Geloofsbelydenis

Psalm  38:1,2,15,17

Skriflesing: Genesis 1: 26-31

                    Efesiërs 2:1-10

Bevestiging ouderlinge

Psalm 84:3,6

Kollekte

Psalm 8

Teks: Dordtse Leerreëls III,1,2

Preek

S.B. 1:1,6

Dankgebed

Psalm 32:1,6

Seën

 

Broers en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus

 

Die Here het vir ons weer nuwe ouderlinge gegee. Broers wat Christus wat die Koning van die kerk is aangewys het om ons as gemeente op Sy pad te lei en te versorg.

Die taak om ouderling te wees is ‘n pragtige taak maar ook ‘n moeilike een. Die oorsaak van die moeilike is dat ‘n mens as ouderling weer met die sonde en die deurwerking van die sonde te doen kry.

Jy kry daarmee te doen as jy besoeke in die gemeente gaan doen, jy kry daarmee te make as jy saam met die ander ampsdraers vergader. Dit is nog nie die enigste nie want ‘n ouderling staan self nie bo die sonde nie. Hy moet ook by homself die stryd teen die sonde voer.

‘n Belangrike element van die werk van die ouderlinge is juis om in die huise vir ons te leer wat Christus se pad is. Om juis die vanuit die Skrif sondes aan te wys en die goeie pad aan te wys. As ‘n mens dit doen voel hy dikwels dat jy ook jouself aanspreek want jy ken ook self die stryd teen die sonde. Jy voel in jou lewe ook dikwels hoe verkeerde gevoelens jou wil saamsleep. Hoe belangrik is dit ook vir die werk van die ampsdraers en vir die lewe van die gemeente dat ons saam raaksien hoe die sonde ons wil beheers en hoe in die stryd daarteen kan groei en al hoe meer God se beeld in hierdie lewe mag vertoon. Daarom is dit ook belangrik om vanaand daarop te let wat ons in die eerste twee artikels van die hoofstuk 3-4 van die Dordtse Leerreëls bely.

 

Ek verkondig vir julle God se Woord onder die tema:

 

DIE MENS IS TOTAAL BEDORWE

 

  1. Hy was dit nie
  2. Hy het dit geword
  3. Christus is hierop die uitsondering

 

  1. Hy was dit nie

 

Dit lyk snaaks dat ons nou met ‘n hoofstuk van die Dordtse Leerreëls begin wat die derde en die vierde hoofstuk is. Die rede daarvoor is dat die Remonstrante ‘n stuk geskryf het wat vyf hoofstukke gehad het. In hierdie stuk het hulle duidelik gemaak wat hulle leer. Die Dordtse Leerreëls is die antwoord op hierdie Remonstransie. Die derde hoofstuk van die Remonstransie het op homself min sake bevat wat dwaalleer bevat het. Nogtans is dit so as jy die derde hoofstuk in samehang met hoofstuk 4 lees sien ‘n mens raak dat die kader waarin goeie woorde staan daarvoor sorg dat dit verkeerde dinge sê. Dit is die rede hoekom besluit is om die derde en vierde hoofstuk van die Remonstransie in een hoofstuk te beantwoord.

Hoekom begin ons hoofstuk daarmee om te wys dat die mens goed geskep is maar  deur eie skuld totaal in die greep van die sonde gekom het. Wat het die sonde nou met die uitverkiesing te doen want daaroor het tog die verskil gegaan? Ons moet leer raaksien dat ‘n dwaal op ‘n sekere punt van die leer van die Skrif  altyd ook op ander punte dwaal bring. Toe die Remonstrante geleer het dat die mens self vir God moet en kan kies en God hom daarom dan uitkies, kon hulle nie meer leer dat die mens totaal verdorwe is nie. Kon hulle nie meer leer dat die mens na die sondeval vanuit homself slaaf van die sonde en die duiwel is nie. As die mens vir Christus kan kies is hy nie heeltemal verkeerd nie. Dit is daarom dat hulle ook as dit om die sonde en die krag van die sonde oor die mens gaan tot afwyking van God se Woord moet kom. Hulle eie gevoelens en gedagtes heers oor die Skrif.

Ons bely in die Dordtse Leerreëls wel dat die mens nie altyd sondig was nie. Die mens is volgens God se beeld gemaak. Adam en Eva wat die HERE op die sesde dag geskep het, is besondere skepsels. Hulle verskil van al die ander skepsels. Hulle is die enigstes wat volgens God se beeld gemaak is. Hulle is die enigstes in wie God self die asem ingeblaas het. Tussen die Skepper en die mens bestaan ‘n besondere verhouding. Die HERE is nie net die mens se Skepper nie. Hy is ook hulle Vader. Die mens is Sy kind. Die mens het as God se kind en God se beeld besondere gawes van Hom gekry. Gawes wat die mens nodig het om as God se verteenwoordiger op aarde oor die skepping te regeer en om so in sy lewe en sy regeer te wys hoe die HERE is. Hy moet in sy dade God se beeld vir die skepping wys.

God het die mens dan ook so geskep dat Hy dit kan doen. Artikel 1 noem die volgende belangrike gawes wat die HERE vir die mens gegee het: “Verstandelik was hy toegerus met ware en heilsame kennis van sy Skepper en van geestelike sake. In sy wil en hart was hy met geregtigheid toegerus, en sy hele gesindheid was suiwer. Hy was dus volkome heilig.”

As die HERE Adam geskep het, ken Hy Sy Skepper. Die HERE praat dadelik met Hom. Wys Hom dadelik as Sy Skepper en vertel wat sy taak op hierdie wêreld is. Ons lees dit in Genesis 1:26-28 en ook in Genesis 2. Ons leer in Genesis 2 ook dat die HERE vir die mens ‘n baie groot verstand en insig gegee het. Hy gee op die eerste dag dat die mens leef vir hom die opdrag om vir die diere name te gee. Dit is dan nie so dat Adam met sy hande in die haar sit en nie weet wat hy moet doen nie. Hy begin ook nie ‘n bietjie raai nie. Nee, hy gee vir die diere name. Hy het die insig om dadelik name te gee wat by daardie dier pas. Hoe groot was die verstand en die insig wat die HERE vir die mens as Sy beeld gegee het. Adam het ook kennis van die geestelike sake gehad. Hy het gehoor en ingesien hoe Hy God behoort te dien. Hy het die opdrag wat die HERE gegee het verstaan en hy het verstaan wat die HERE van die bome en van die boom van kennis van goed en kwaad gesê het. Hy het die HERE as sy God en Koning geken en geeer.

God het die mens regtig “baie goed” gemaak. Die mens was nêrens met een of ander gebrek geskep nie. Die HERE het vir die mens nie iewers ‘n enkele swak plek gelaat nie. As jy na die mens se hart en wil kyk moet jy sê dat daarin geregtigheid was. Die Gees sê daarvan in Efese 4:23,24: “en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is  in ware geregtigheid en heiligheid.”

Die mens se hart was vol van die dinge wat vir die HERE reg is. Daarin was nie stryd nie, daarin was ook nie die kleinste verlange na iets wat verkeerd was nie. Daarin was nie die kleinste saadjie van enige opstand of teenstand teen God nie.

So kom ons ook by die volgende wat ons hier bely dat die mens in  sy hele gesindheid suiwer was.

As jy na die mens in die paradys, na Adam en Eva kyk, sien jy daar ‘n mens wat goed is, wat in alles in suiwerheid geskep is. Hy staan in die goeie verhouding met Sy God, Vader en Skepper en daardeur in die vredevolle verhouding met die hele skepping.

As ons dit in ooreenstemming met die Skrif bely, het ons al ‘n verskil met die Remonstrante en met wat vandag deur baie in kerke gesê en geleer word.

Die Remonstrante het geleer dat die mens in die paradys eintlik nie goed en verkeerd was nie. Hy kon die goeie doen en moes nog leer wat geregtigheid en heiligheid is. Vandag sê baie mense wat in kerke preek en leer dat vanaf die staanspoor in die mens ook die neiging tot die verkeerde aanwesig was. Genesis 3 sou net ‘n verhaal wees om duidelik te maak dat in die lewe van elke mens daardie stryd tussen die goeie en die verkeerde is. Dit sou nie daarom gaan dat die mens op ‘n sekere oomblik in sonde geval het nie. Die mens het altyd ‘n vrye wil gehad om vir die goeie of die verkeerde te kies. Christus is nou die voorbeeld en kragtige persoon wat mense leer om al hoe meer na die goeie toe te groei. Die mens moet so deur opklimming, ewolusie tot ‘n goeie mens gaan word. Dit stry regtig met alles wat ons in God se Woord lees. Dit leer mense ook nie hulle skuld teenoor die HERE sien waarvan ons verlos moet word. Die skuld sien ons raak as ons sien dat die mens bedorwe geraak het. Ons let daarop in die tweede plek.

 

  1. Het dit geword.

 

Wat het ons met die magtige voorreg gedoen dat die HERE ons volkome heilig geskep het. Dat Hy ons ‘n aparte posisie in die skepping as Sy beeld gegee het. Hoe groot was die voorreg, hoe naby en intiem mog ons mense met die HERE verkeer! Hy het ons nie as ‘n neutrale wese gemaak wat nog moes leer om vir Hom te kies nie. Ons mog deel in Sy heerlike Vadersorg.

As dan die duiwel kom en ons luister ondanks al God se liefde vir ons, na hom gebeur wat ons in art 1 bely: “Maar deur die ingewing van die duiwel en uit sy eie vrye wil het hy hom van God losgeskeur en homself van die uitnemende gawes beroof.”

Die HERE het die mens in Sy liefdevolle sorg as Sy kind gemaak en versorg. Nogtans het hy ‘n vrye wil gehad. Die HERE wou dat die mens vanuit sy vrye wil, vrywillig in liefde vir Hom sou kies, vrywillig Sy liefde sou beantwoord. Daarom het die boom van kennis van goed en kwaad in die paradys gestaan.

Hoe erg is dan ons sonde, ek praat hier van ons omdat ons in Adam saam gesondig het. Omdat ons ons nie teenoor Adam en Eva mag verhef nie. Omdat ons saam met hulle sondaars is en teen God opgestaan het. Dieselfde verdorwenheid wat in Adam en Eva na die sondeval gekom het, is ook in ons. Die mens wat sondig geword het, kan nie meer goeie mense voortbring nie. Ons lees in Job 14:4 daaroor: “Ag, kon maar ‘n reine voortkom uit ‘n onreine – nie een nie.” Dit is ook hierom dat Dawid in Psalm 51 sê: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.”

Hoe groot was die gevolge van die sondeval vir ons as mense. Hoe het die mens daardeur verander! Laat ons weer let op die drie sake wat artikel 1 noem. Ons het gesien hoe goed die HERE ons in ons verstand, hart-wil en gesindheid gemaak het. Wat is op hierdie punt nou die gevolg van die kies teen God en Sy wil?

Dit: “Daarenteen het hy in die plek daarvan oor homself gebring: blindheid, verskriklike duisternis, ydelheid en verdorwenheid van verstandelike oordeel,  boosheid, rebellie en hardheid van sy wil en hart sowel as onsuiwerheid van sy hele gesindheid.”

Die verandering vir die mens is geweldig groot. Die remonstrante het gesê dat die mens na die sondeval verswak is maar nog altyd ‘n vrye wil het en vir die goeie kan kies. Die Roomse kerk sê dieselfde. Vandag sal baie rondom ons dit sê. Die mens is swak sê mense dan maar nog altyd van goeie wil.

Dit is nie waar my broer en suster. Dit is regtig niks anders as ‘n duiwelse leuen. Dit is wat die duiwel ons wil laat glo. Dit klink so goed. Dit streel ons gemoed. Die werklikheid is dat ons van onsself ongevoelig vir die HERE en Sy goeie wil is. Die werklikheid is dat die mens na die sondeval geen vrye wil meer het nie maar vanuit sy hart en wil aan die duiwel en die sonde gebind is. Paulus beskryf die werklikheid van die mens na die sondeval so in Efese 2:1-3: “En julle het Hy lewend gemaak wat dood was deur misdade en die sondes  waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.”

Hoe verskriklik het ons onsself gemaak. Ons het van nature niks meer waarop ons kan bou nie. As dit om ons verstand gaan het ons blind geword. Ons verstandelike oordeel is verdorwe. Jy moet nou mooi bedink wat dit beteken. Hoe dikwels het mense en doen mense ‘n aanval op dit wat in die Bybel staan want  dit is nie in ooreenstemming met die gesonde verstand, met ons sogenaamde wetenskaplike ondersoek. Hoe hoogmoedig en verkeerd is dan die mens wat  homself in die naam van verstand en wetenskap teenoor God stel. Hoe blind is hy wat dink dat hy so goed kan sien.

Die verdorwenheid van ons verstandelike oordeel moet jou en my klein maak. Dit moet jou en my na die HERE en Sy Woord en wysheid laat vlug. Jy en ek moet leer om wantrouend teenoor ons eie verstand en gevoel te staan. Ons moet leer om nee te sê teen die woord: My gesonde verstand sê. Jy en ek het nie ‘n gesonde verstand nie. Dit is verheffing van die mens wat die verdorwe verstand die norm vir die lewe maak en daarom die verkeerde kant moet opgaan.

Laat ons na die HERE vlug en bid dat Hy met Sy Gees ons verstand wil verlig. Dat Hy ons leer om steeds weer God se Woord te wil lees en daarvoor te buig ook as dit teen my verstand en gevoel ingaan. Dat ek al hoe meer my verstand laat verander sodat ek God se wysheid indrink en al hoe meer my verstand laat beheers.

Hierby behoort ook dat ek erken dat my hart en wil nie meer goed is nie. Ek het nie net ‘n verstandelike gebrek na die sondeval nie. My hart wil ook die verkeerde kant op. Ek het van nature ‘n slaaf van die verkeerde geword. Ek kan myself op hierdie punt nie verander nie. Hoe belangrik is ook hier weer dat ek na die HERE gaan en steeds weer Sy nabyheid soek en vra of Hy met Sy Gees my hart wil verander, my wil wil ombuig. Self kan ek in eie krag nie die regte keuses maak nie.

My hele gesindheid  het verkeerd geword. Ek soek uit myself nie God se geselskap nie maar dit van die sonde en die sondaars. Ek laat my so maklik op die pad van die sonde saamneem deur ander.

As ‘n mens na homself kyk, sien jy jou onnoemlik skuld en dat jy nie die krag het om in eie krag te verander nie.

In eie krag kom jy al dieper in die sondes en onder die mag van die duiwel en kan dit nie anders as dat die hel jou bestemming is nie. Ons moet nie probeer om dit te versag nie. Ons moet sondes in ons lewens ook regtig sonde bly noem en nie probeer versluier deur net van swakheid of ‘n foutjie te praat nie. Hoe belangrik is dit broers ouderlinge dat julle ook op hierdie punt steeds weer die Skriftuurlike leiding gee. Dat julle ook op hierdie punt ware herders van die trop is en met diepe liefde en bewoënheid dan tot bekering oproep.

‘n Mens sien hier baie duidelik dat jy nie in jou eie krag jouself weer goed kan maak nie. Jy kan nie vir een enkele persent aan jou verlossing bydra nie. Jy en ek het regtig ‘n Verlosser nodig. Die Verlosser wat in Homself geen skuld en sonde het nie. Die HERE het Hom in Sy diepe liefde vir Sy uitverkore kinders gegee in Christus. Ons het dan nou by die laaste punt gekom.

 

  1. Christus is hierop die uitsondering

 

As jy na die geskiedenis kyk, wys alles daarop dat daar vir jou en my geen hoop is nie. Elke mens erf van sy voorgeslag skuld teenoor God en die wil om juis die sonde te doen en dus nog meer skuld teen die HERE op te bou. Dit lyk ‘n sirkel waaruit niemand kan ontsnap nie. Hierdie hopeloosheid het ons verdien en ons sou geen enkele rede tot protes hê as die HERE dit na die sondeval so sou gelaat het.

Nogtans het die HERE dit vanweë Sy onverklaarbare liefde nie so gelaat nie. Hy het na die sondeval die Redder en Verlosser belowe. Hy het Hom in Sy eie Seun gegee en dan sien ons raak dat God se weë en Sy verstand bo ons uitstyg. Ons kon nie sien hoe dit moontlik was dat ‘n mens ons kon verlos. Ons kan nie ‘n sondelose en skuldlose mens voortbring. Maar die HERE kan en het dit gedoen! Die Gees het in Maria die Here Jesus verwek. So het die HERE daarvoor gesorg dat die enigste mens in die geskiedenis gebore word wat sonder skuld en sonder die wil om te sondig gebore word. Hoe heerlik is die evangelie van Lukas 1:35: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.”

Hy is die Heilige mens. Die mens wat van alle mense apart staan omdat geen enkele skuld en sonde aan Hom kleef nie. Wat doen Hy wat God en mens is? Hy leef sondeloos. Hy leef in alles in die liefde vir Vader in die hemel. Hy doen iets ongeloofliks. Hy laat Hom wat sondeloos en skuldloos is tot sonde maak! Ons lees in 2 Kor 5:21: “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”

Hier sien osn die heerlike geheim van Christus se lewe. Hy het die sondes van die uitverkorenes op Hom laat stapel. Hy die sondelose het Hom as die dieptse en grootste sondaar deur die Vader laat behandel. Hy het daarom onnoemlik gely.

Daar is vir jou net een pad en dat is die pad na Christus. Net een pad om gered te word en dat is deur aan Hom verbonde te wees. Die HERE roep jou en my. Erken jou skuld, jou eie magteloosheid. Lê dit by die Here neer. Dan mag jy weet dat Hy jou tot Hom trek, dat Christus al jou skuld weggedra het.

Wee die mens wat homself nog wil handhaaf. Wat die diepte van sy skuld nie wil bely nie. Hy kom nie by Christus uit nie. Hy erken en leef nie met Christus as die volkome Verlosser nie. Laat jou nie mislei deur die duiwel. Vertrou op niks in jouself nie. Vertrou nie op jou verstand, gevoel, wil en gesindheid nie. Gaan na die HERE en luister na Sy stem en laat dit die ruspunt van jou lewe wees en laat dit jou verstand, wil en gesindheid al hoe meer beheers.

Dan ag ek alles skade wat  in my lewe die ware kennis van Christus in die pad staan. HERE wys my dit dat ek dit kan verloën en nie op die pad van die sonde gaan nie. Leer my om dit waarop ek nou nog bou buite Christus as vuile uitwerpsels weg te gooi “sodat ek Christus kan ken en die krag van sy opstanding.” Fil 3:10 Dan is dit die Gees wat jou en my vernuwe tot kennis na die beeld van jou Skepper. Kol 3:10  Dan mag jy weer regtig as kind in die heerlike nabyheid van Vader leef.

 

GOD SE VOLK Sê OP DIE VERKONDIGING VAN HIERDIE EVANGELIE:AMEN