Preek Dordtse Leerreëls III/IV, 5,6: Nie die wet nie maar die Gees maak deur die evangelie salig

Preek Dordtse Leerreëls III/IV, 5,6: Nie die wet nie maar die Gees maak deur die evangelie salig

                  ORDE VAN DIENS

 

Opening

Vrede/Seëngroet

Psalm 63:1,2

Geloofsbelydenis

Psalm 94:6,7,10

Skriflesing: Psalm 147

                   Lukas 18:18-27

Gebed

Kollekte

Psalm 143:5-9

Teks: Dordtse Leerreëls III/IV, 5,6

Preek

S.B. 14

Dankgebed

Psalm 25:2,6

Seën

 

Broers en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus

 

Dit is vandag Geloftedag. Dit is vandag Versoeningsdag. As ons dink aan die Gelofte wat 163 jaar gelede by Bloedrivier afgelê is, val dit op dat dit ‘n gelofte aan die HERE was. Dit was ‘n gelofte waarin die HERE aangeroep is en die Voortrekkers daar hulle afhanklikheid aan Hom bely het.

Die stryd by Bloedrivier is toe gesien in die kader van die verkondiging van die evangelie. Hierdie gelofte getuig nie van ‘n teenstelling tussen wit en swart nie. Dit gaan daarom dat die evangelie in die Suide van Afrika mag bly en al hoe meer ingang mag vind. Dit sal dan ook die manier wees waarop ons aan Geloftedag moet dink. Hierdie gelofte het die Afrikanervolk met nog meer klem onder die verpligting gestel om volgens die evangelie te leef en die evangelie aan die ander volke in die Suide van Afrika Christus te verkondig. Die oorwinning oor die vyand het volgens die gelofte juis beteken dat aan die vyand wat verslaan is die heerlike evangelie gebring moet word. Vanuit die liefde van Christus. As ons so Geloftedag vier staan dit in diens van die ware versoening. Ware versoening wat net in Christus gevind kan word. Saam Christus dien, saam staan in die vrede met God. Saam in hierdie land wil leef vanuit die liefde vir Christus en daarom ook werklike liefde aan mekaar bewys. Die ware versoening met God en mense lê in die evangelie van die Messias soos ons daarvan in DL III/IV, 5 lees. Ons hoor vanuit hierdie artikel die heerlike boodskap van versoening onder die tema:

 

NIE DIE WET NIE MAAR DIE GEES MAAK DEUR DIE EVANGELIE SALIG

 

Ons let op:

 

  1. Die krag van die wet
  2. Die magteloosheid van die wet
  3. Die saligmakende krag van die evangelie

 

  1. Die krag van die wet

 

Ons het die vorige keer gesien dat die mens wat in hom nog het om ‘n bietjie van die lig van die natuur op te vang dit nie kan gebruikm om homself tot God te bring nie. Hy misbruik dit selfs. Die pad van die humanisme val plat en bring ‘n mens nie tot ‘n lewe met God of volgens Sy wil nie.

Dit lyk asof daar tog ‘n ander pad is wat ‘n mens by die vrede met die HERE kan bring. Die wet. Die Jodedom beroep hom op die wet en dan veral op die tien gebooie. As ‘n mens mooi hierdie gebooie lees en hom daarvoor inspan om daarvolgens te leef is dit volgens die Jodedom die pad wat tot vrede met God lei.

Voordat ons nou daarop ingaan of dit reg of verkeerd is, is dit goed om te sien dat dit regtig ‘n voorreg was dat Israel die HERE se wet gekry het. Hierin was Israel bo al die ander volke geseën. Ons lees dit in Psalm 147: “Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel se insettinge en sy verordeninge. So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, die ken hulle nie. Halleluja!” vs 19,20.  Paulus sê later in Listre: “God het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel, al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel te vervul.”

Die toelating van die HERE vir die volke om hulle eie hart te volg verklaar hoekom hulle God se wet wat vanaf die skepping bekend was vergeet het. Dit is God se genade dat Hy Israel nie volgens die gedagtes van hulle eie hart laat stap het. Hy het vir hulle Sy wet gegee en steeds weer mans wat die volk na God se wil en wet teruggeroep het. Ons sien dit steeds weer as die HERE aan Sy volk profete gee.

Wat was en is dikwels die probleem met die Jode en die Jodedom? Dat die wet self gesien word as die pad na die verlossing. Dit is dan asof die wet self ons kan verlos. Dit is dan dikwels of op ‘n nasionalistiese of  op ‘n humanistiese manier.

Die nasionalistiese beteken dat jy die wet wil hou en daarvolgens leef en daarom ook ‘n Jood word. As jy by die Jode behoort en jou laat besny het jy in die omgewing gekom waar jy die wet kan hou en so salig kan word. Die Jood-wees het dan ‘n voorwaarde vir ‘n mens se verlossing geword.

Soos ons vandag die Jodedom ken het die hou van die wet die pad na die verlossing geword maar dan op ‘n humanistiese manier. Die humanisme is dat ‘n mens van homself goed genoeg is om te erken dat dit wat in die wet staan die regte manier van lewe is. Die mens kan homself in die lewe van die wet oefen en allerhande reëls leer dit vir hom. Die wet is dit wat die HERE vir die mens gee en die mens kan dan self deur die wet tot God opklim. Die mens sien deur die lees van die wet wat goed is en omdat die mens van goeie wil is en self kan kies, kan hy deur die wet die vrede met God kry.

Ons sien hier raak hoe die Remonstrante en die Jodedom op sekere punte mekaar nader.

Wat is hier nou een van die groot foute. Dan praat ek nou nie daaroor of die mens van goeie wil is en of die mens self vir God en die goeie kan kies nie. Ons het daaroor die vorige keer en al meerdere kere by stilgestaan. Wat is nou die groot fout by die beoordeling van die wet self?

Die wet word tot ‘n middel van verlossing gemaak terwyl God se wet dit nooit was nie. God se wil was selfs voor die sondeval al bekend maar toe was dit ook geen middel tot verlossing want verlossing was nog nie nodig nie. As die HERE na die sondeval aan Sy wil herinner en by die Sinai self Sy wet vir Sy volk op ‘n klip skryf, wys dit dat die HERE die eis van gehoorsaamheid aan Sy wil vir die sondige mens handhaaf. Hy neem nie met minder genoë. Die HERE se wet wys God se wil maar kan die mens nie verlos nie. Die wet wys vir die mens wat dit hoor sy sonde en skuld. Ons lees in Romeine 3:19,20:

“Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees.; aangesien uit die werke van die wet geen vlees tot Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van die sonde.”

Dit beteken nie dat die wet nou minderwaardig is nie. Dit beteken ook nie dat ons die tyd van die Ou Testament die tyd van die wet moet noem en die tyd na Christus van die evangelie asof daar tussen hierdie twee ‘n teenstelling is nie. Die wet is nog altyd pragtig. Paulus skryf in Romeine 7: “Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed. Het die goeie dan vir my die dood geword? Nee, stellig nie! Maar wel die sonde, dat dit kon blyk sonde te wees, omdat dit deur die goeie vir my die dood bewerk, sodat die sonde deur die gebod uitermate sondig kon word.” 12,13.

As ‘n mens net op die wet let en sy lewe met die HERE se wil vergelyk, sien jy net jou skuld en sonde. Dan sien jy net dat jy morsdood en onsensitief vir God se goeie wil is. As in die kerk net God se wet met krag verkondig word, kan dit net daartoe lei dat mense moedeloos en wanhopig word. Dan word nie die evangelie verkondig nie maar net jou en my skuld aangewys. Dan kan net vir jou verkondig word dat jy dood is en dat jy die ewige dood in al sy felheid sal voel as jy sterf. Hier sien ons al dat ‘n mens die tyd van die Ou Testament nie alleen die tyd van die wet kan noem. Toe het die gefunksioneer maar is ook die pad van die verlossing verkondig. Daaroor in die derde punt meer. Ons wil nou eers in die tweede punt op die magteloosheid van die wet let.

 

  1. Die magteloosheid van die wet.

 

‘n Ryk jongman kom by die Here Jesus. Hy worstel met die vraag hoe hy die ewige lewe, die ewige vrede met God kan ontvang. As hy die Here Jesus Goeie Meester noem en sy vraag vra is Jesus se antwoord opvallend: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed behalwe een, naamlik God.” (Lul 18:19) Dit lyk asof Jesus hier die jongman al wil leer dat hy nie moet dink dat enige mens in eie krag tot God en gehoorsaamheid aan die HERE kan kom nie. Die Here Jesus wys hierdie jongman op God se gebooie. Die antwoord van hierdie jongman wat werklik ernstig was wys daarop dat hy dink dat hy deur eie gehoorsaamheid aan die wet vrede met God kan bewerk. Dan is Jesus se antwoord vir hom: “Nog een ding ontbreek jou – verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal sal ‘n skat in die hemel hê: kom dan hier, volg My. Toe hy dit hoor, het hy diep bedroef geword, want hy was baie ryk.” Vs 22,23.

Die Here Jesus wys ons in hierdie geskiedenis die magteloosheid van die wet. ‘n Mens kan soos, die ryk jongman, nog die beste gee om hom aan die wet te hou. Nogtans kan hy nooit vanuit homself die wet volmaak hou nie. In sy lewe bly daar oortredings van God se wet. In sy lewe bly daar sondes. Die Here Jesus moes hierdie ryk jongman daaraan herinner dat die belangrikste in sy lewe ontbreek. Dit is dat hy in persoonlike liefde van God se genade alleen leef. Hierdie ryk jongman soek met al sy erns selfverlossing en wil en kan hom nie heeltemal aan HERE en Sy genade oorgee nie. Dit is waartoe Jesus hom oproep as Hy sê dat hy alles moet verkoop en Hom volg. Jesus wys hier aan wat die wet self nie aanwys nie dat die ryk jongman en enige ander mens die Verlosser nodig het. Die volg van Jesus is die geheim van die lewe van elke verloste kind van God.

Wat leer ons vandag vir ons lewe daaruit dat die wet self jou nie kan verlos nie maar net vir die sondige mens wys dat hy onder God se oordeel lê? 

Mense is altyd weer geneig as hulle dit hoor om te sê: Lewe volgens God se wet is dus nie so belangrik nie. Dit gaan om Christus en nie om die wet dus moet ons nie so baie klem op die lewe volgens God se wet lê nie. Dan word ons wetties.

Ons moet met so’n gevolgtrekking baie versigtig wees en so mag ons ook nie praat en leef nie. Ons moet mekaar vir wettisisme waarsku sonder om maar iets van ‘n gehoorsame lewe aan die HERE se wil weg te doen.

Broers en suster dit is baie duidelik dat die wet julle en my nie kan red nie. Dit gaan in die lewe met die HERE nie om die volbring van sekere reëls nie. Hier sien ons ‘n belangrike verskil met die Islam. By die Islam gaan dit om die volbring van sekere reëls en dan is jy gered. Dit gaan in die verbond om jou omgang met die HERE, dit gaan daarom dat jy in liefde met die HERE as jou God en Vader verbonde is. Dat jy in liefde vir en met Christus leef. Sodra jou lewe en die lewe in die gemeente op die hou van sekere reëls, hoe goed hulle ookal is, gebou is, het ons ons lewenshuis op sand gebou. As dit die fondament van jou lewe geword het, staan jy nie op vaste grond nie. As dan na ‘n ruk duidelik word dat hierdie reël wat jy gehad het tog nie seker is nie begin mense aan die geloof twyfel omdat dit op eie reëls gegrond was. Wie sy lewe net op die reëls van God se wet bou, is besig met selfverlossing. Want hoe jy ook probeer om God se wet te hou daar bly nog so baie sondes in jou lewe oor en een sonde is genoeg om jou in die ewige ellende te bring. Die wet self en allerhande reëls wat daarop gebou is kan jou nie die ware vrede met God gee nie. Jou sondige hart bring jou nog tot oortreding van God se wet en maak so die wet kragteloos om jou tot die ewige redding te bring..

Laat jou geloof nie ‘n lewe wees wat op God se wet sonder Christus gebou is nie want dan sal eendag God se oordeel jou lewe verinneweer. Die Gees wys en wil in jou ‘n ander pad werk wat jou die ware vrede gee. Ons let daarop in die derde plek.

 

  1. Die saligmakende krag van die evangelie

 

Dit is nou duidelik dat die lig van die natuur in die mens en God se wet die mens nie tot God kan bring nie. Daar is meer en iemand anders nodig. Hoe alleen kan mense tot die HERE kom en weer regtig vrede met Hom hê? Deur die verkondiging van die evangelie van die Messias.

Die opvallende is nou dat ons in artikel 6 bely: “Dit is die evangelie van die Messias waardeur dit God behaag het om die gelowige mense in die Ou sowel as in die Nuwe Testament salig te maak.”  Hier sien ons dat ook Adam en Eva alleen deur die glo van die evangelie dat die Verlosser sal kom om vir hulle sondes te ly verlossing kon ontvang. Daar was in die Ou Testament regtig nie ‘n ander pad tot God nie as na Christus se werk nie.

Die evangelie van die Messias het die HERE dadelik na die sondeval vir Adam en Eva  verkondig. Hy het dit in Genesis 3:15 met Sy eie stem gedoen. Hy het Sy wonderlik groot liefde toe gewys en die mens tot Christus geroep. So het die verkondiging van die evangelie in die Ou Testament voortgegaan. So was dit wat in die tempel gebeur het vir God se volk prediking van Christus. Alles het daarop gewys dat die Verlosser en Saligmaker sal kom. Net in Hom is daar redding.

Dit is nie net so dat vanaf die staanspoor die HERE die evangelie laat verkondig nie. Ons moet naamlik sê dat as ‘n sondige mens net die evangelie hoor en dit is niks anders as woorde nie dit hom nie tot God bring nie. Dit is juis daarom dat ons in artikel 6 bely dat God werk deur die krag van die Heilige en deur die Woord. Die Woord en die Gees behoort saam. As ons sou sê dat die Woord self genoeg is,  begin ons weer om die mens te hoog te skat. Dan sou die mens in homself nog so baie onderskeidingsvermoë en kragm hê om voor God en die evangelie te kies. Jy en ek het daarvoor nie die krag na die sondeval nie. Dit is daarom dat as ‘n mens tot geloof kom ons moet sê dat die Heilige Gees die hart van daardie mens vir die evangelie, vir Christus oopgebreek het. Hy het daarvoor gesorg dat die evangelie in die haart van daardie mens gehoor gevind het. Die Gees werk ook nie sonder die Woord nie. Hy het Homself in vryheid aan die verkondiging van die evangelie gebind om so God se uitverkorenes tot die geloof te bring.

As ‘n mens dit sien, leer jy weer om met erns en ontsag na die verkondiging van die evangelie te luister. Dit is nie maar ‘n inleiding wat na ons toekom, of een of ander toespraak nie. Die Gees self kom na ons toe met die bediening van die versoening. So selfs dat Paulus in 2 Kor 5 skryf: “En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van versoening aan ons toe te vertrou. Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan: Laat julle met God versoen." Vs  18-20.

Dit wys vir ons hoe belangrik dit is om elke keer dat die HERE so na ons toekom ook te kom luister. Om daarin trou te wees. As ons dit nie doen dan verag ons daarmee die HERE wat na jou toekom. Dit is die erns van kerkbywoning.

Dit is Christus wat in die evangelie na jou toekom. Hy is die herstellingsmiddel, die redmiddel waarvan art 5 praat. In die prediking van die evangelie kom Hy na jou toe en word Hy aangebied. Neem steeds Hom weer aan en leef in liefde vir Hom. Dan kom ook God se wet weer in beeld. Dan is dit die liefde van jou Heiland, die verwondering om God se liefde in Hom wat jou rede is om volgens God se wet te wil leef. Jy wil daarin jou liefde wys. Jy wil die HERE se wet al hoe meer liefkry en daarin groei omdat God se liefde in Christus in jou lewe ingekom het. Jou lewe staan dan op Christus, Hy het jou vaste grond geword. Leef so. Dan is die lewe goed, dan is jou verlossing in Christus vas en seker.

 

OP HIERDIE VERKONDIGING VAN DIE EVANGELIE KAN CHRISTUS SE GEMEENTE NET : AMEN Sê