Vakansiemymering 24 Junie 2016 Prompte et sincere

Vakansiemymering 24 Junie 2016  Prompte et sincere

PROMPTE ET SINCERE

 

Dit is die dag dat die groot nuus is dat die Verenigde Koninkryk in meerderheid daarvoor gekies het om die Europese Unie te verlaat. Hierdie nuus sorg vir groot onsekerheid by mense. Wat gaan dit voor Suid-Afrika beteken? Veral vir die ekonomie. Wat gaan dit vir Europa en vir Nederland beteken? Onseker tye. Dan dink ek weer terug aan die nag wat ek hierdie week met Erik buurtwag gery het. Toe kom ons by 'n petrolstasie waar jy op die venster kan lees: "Dit is die dag wat die HERE gemaak het. Laat ons juig en jubel." As ek dit dan lees op 'n plek waar almal dit kan lees, gee dit my weer moed ook vir Suid-Afrika. Laat ons ons op die HERE rig. Ons aan Hom toevertrou. Dan dink ek ook aan Johannes Calvyn se lyfspreuk: ""Cor meum tibi offero, Domine, prompte et sincere."  Dit beteken: ""Here aan U bied ek my hart aan, bereidwillig en opreg."  Die laaste woorde: 'prompte et sincere'  is ook by verskillende skole en kerke in Suid-Afrika baie bekend. Dit gaan dus daarom dat ons ons lewe met hart en siel vir die HERE wil gee. Dat ons dit ook opreg doen. Regtig sonder bybedoelings. Hoe goed is dit om juis vandag as die lewe onseker lyk jou sekerheid in Christus te vind. Hy het alle mag in hemel en op aarde in Sy hande. Vir wie opreg vir Hom leef as Sy Verlosser en Koning is die toekoms 'n wonderlik pad vorentoe. 

Ek dink nog 'n bietjie oor die woord sincere. Die latynse woord  vir opreg wat so belangrik vir ons lewe as God se kinders is. Ek wil dit 'n bietjie verduidelik. Jy wonder dalk wat nou eintlik opreg-wees is. Dit beteken dat dit regtig so is, dat jy dit sê wat die werklikheid, wat die waarheid is. Nie net die waarheid vir jou of jou gevoel nie. Regtig die waarheid! Dat  ek my daar met my hart aan verbind.

Dit is belangrik om te weet dat dinge regtig so is soos hulle lyk. Die beste erdewerk was in die antieke tye dun en helder van kleur. Dit was duur.  By die bakproses van die erdewerk het dikwels barste daarin gekom. Dit moes dan weggegooi word.  Sekere mense wou dit nie doen nie. Hulle  het die barste dan met 'n harde pêrelagtige was toegesmeer. Die was het dan met die kleur van die erdewerk saamgesmelt. Dit het gemaak dat jy die krake in die winkels nie meer kon sien nie. Sekerlik nie as dit geverf en geglasuur was nie. Nogtans was daar 'n manier om die krake te ontdek. As jy die erdewerk in die sonlig hou, kon jy sien of daar krake was wat toegemaak is. Jy het dan donker strepe in die sonlig gesien  en dit wys dat daar krake was. Hierdie vaas was dan nie werd om daarvoor duur te betaal nie. Eerlike handelaars het op hulle erdewerkpordukte die woorde aangebring: 'sine cera'. Dit beteken: 'sonder was'. Dit was dus 'n eerlike produk. Dit was sincere: opreg.  Laat ons ons hart en lewe hou in die sonlig van God se Woord om al hoe meer opreg vir die HERE te leef. So weet ek my in alle onrus weer veilig in Gods se hande.